Kroonnuus TEL (056) 212 3171
DINSDAG 23 APRIL 2013
WWW.KROONNUUS.CO.ZA
GRATIS
Tiekiedraai nes in ’69 Tharine Geldenhuys
“SÊ net volkspele, dan tintel daar iets in my liggaam,” sê niggie Ralie Potgieter. Sy is 81 en ’n halwe jaar oud. Tussen die neefs en niggies word daar, wanneer dit by ouderdom kom, in maande gepraat. “Volkspele hou ’n mens jonk en op en wakker. Ek is gesonder as wat ek 44 jaar gelede in Europa was,” vertel niggie Ralie. Deur volksang en -spele het sy haar oorlede man, Gert (Pottie) Potgieter, “ ’n juweel van die wêreld”, ontmoet en deelgeneem aan verskeie volksang- en volkspele-laers waar hulle in die Noord-Kaap in Kimberley gewoon het en ook toe hulle later jare na Mariental en toe Gobabis, Namibië, verhuis het. Sy is steeds by volkspele-laers in die ou Duitswes, of Suidwes, betrokke.
Hierdie voormalige boer van die jaar met haar wit dorpers in Namibië praat met nostalgie van die volkspeletoer wat sy in 1969 in Oostenryk, België, Duitsland, Nederland, Engeland en Frankryk saam met 99 ander neefs en niggies kon meemaak. “As jou tweejarige kind verjaar en jy het jou man by die huis agtergelaat en jy sit in België, dan besef jy jou volk het jou nodig om as ambassadeur in Europa op te tree.” Die mense van 1969, soos die 1969-toergeselskap se volksangers en volkspelers hulself genoem het, het die vierde keer op Jukskeipark op Kroonstad reünie kom
hou.
Neef Dawie Botma van Alberton, Gauteng, raak liries oor die bevordering van sy passie vir dié speletjie waarby sang
en dans gelyktydig uitgevoer word. Perfek opgepaste onderbaadjies, volkspelerokke wat meer as sewe meter materiaal geverg het om te maak, handskoentjies en, natuurlik, die kappies word met sorg op die reünie uitgestal. Niggie Sannie Wright was destyds die jongste volkspeler in die toergeselskap. Sy pas nog eksieperfeksie in haar wit volkspelerok, gehekelde handskoentjies en manteltjie. Met haar swart volkspeleskoene kan sy steeds ’n tiekiedraai met volkstrots dans. “Ek is bang vir vingermerke aan die borsspeld van die ’69-toer en het dié ene aangesteek,” verklap sy haar trots. Neef Teddie Beukes is ’n tandarts wat op 82 jaar en 10 maande jonk van gees is. Hy is van Mokopane (Potgietersrus) in Limpopo en is ’n meesterswemmer wat op die onlangse Suid-Afrikaanse meesterswemkampioenskapsbyeenkoms as oudste deelnemer vier goue, een
SANNIE WRIGHT in die volkspelerok wat sy na die 1969volksang en volkspeletoer in Europa gedra het. In daardie jaar het 100 volkspelers drie maande lank oorsee getoer. Dié toergeselskap hou elke tweede jaar ’n reünie. Die geselskap het verlede week die vierde keer op Kroonstad op Jukskeipark reünie gehou. Foto: Tharine Geldenhuys
silwer- en een bronsmedalje in sy knapsak noorde toe kon neem. Sy oorlede vrou was ook een van die ’69’s wat oorsee gaan toer het. Volkspele is in die familie en op sy oudag is hy al vyf jaar met Mart, nadat sy vrou afgesterf het, getroud. “Boetie, sy’s ’n perskeblom bly my gunsteling-wals wat so lekker op die alt-stem van my val,” val Mart in die rede. Nie minder nie as drie pare van die ’69’s het die knoop as man en vrou voor, tydens en ná die oorsese toer deurgehak. Saam piekel die “jong” getroudes en dekade lange bruilofspare twee-twee mekaar na swemkampioenskapsbyeenkomste en volksang- en volkspelegesellighede. Corrie Meyer (74) se oë skiet vol trane van al die nostalgie om weer op Kroonstad saam met tydgenote te sing en dans . Hy het op die plaas Vlakdam buite Kroonstad geboer en het ook in die Landbank op die dorp gewerk. Sy trots is sy limousins. Hy stap die alleenpad al twee dekades met sy beeste, kapokkies en, natuurlik, volkspele wat hom “lewendig” hou. Hy is al meer as 50 jaar lid van die Volksang-envolkspelebeweging. Sy herinnerings aan die Sarel Cilliers-volkspelelaer is nog vars. Nig Ralie gaan nog ’n rukkie in Suid-Afrika vertoef en sien daarna uit om van Saterdag die ronde van Vader Cloete in die land te doen. Natuurlik is ’n opwindende rit op ’n Harley Davidson-motorfiets by haar reisprogram ingesluit voordat sy die 22 uur lange busrit van Kimberley na haar aftree-oord op Gobabis aanpak. ) Die Volksang-en-volkspelebeweging vier aanstaande jaar in Februarie sy eeufees. Die beweging is ’n kultuurorganisasie wat sonder winsbejag op nasionale vlak bedryf word en het sterk bande met internasionale volksdansgroepe en kultuurorganisasies. Dr. S.H. Pellisier het in 1912 in Swede dit sy lewensideaal gemaak om ’n kultuur van spelende, singende en werkende jong mense te vestig wat eie sou wees aan SuidAfrika. Die eerste volkspele is op ’n Sondagskooluitstappie in 1914 gehou. Vir nog foto’s besoek www.kroonnuus.co.za.
Kroonnuus