Kroonnuus TEL (056) 212 3171
DINSDAG
10 SEPTEMBER 2013
WWW.KROONNUUS.CO.ZA
GRATIS
Natali bobaas met roer Tharine Geldenhuys
GEE vir ’n boer sy roer en hy trek ’n bok vir die pot plat. Gee vir Natali Terblanche, oud-Kroonstadter, haar roer en sy voeg die titel as die vrouewêreldskut Natali Terblanche op haar CV by. Sy het pas teruggekeer van Duitsland waar sy in Ebern, Saarland, aan die Wêreldteiken-federasie (WFTF) se kampioenskapsbyeenkoms deelgeneem het. Hier is sy as die vroue-wêreldkampioen gekroon. Wat haar prestasie nog merkwaardiger maak, is sy het op die byeenkoms stof in die manne se oë geskop deur die algeheel 18de plek te behaal. Sy is deesdae ’n Gautenger waar sy by African Outdoor & Sport ’n verkoopsverteenwoordiger is. Haar kennis van vuurwapens het sy reeds in haar kinderskoene opgedoen. Haar pa, Niel, is self ’n skut wat al aan talle wêreldkampioenskapsbyeenkomste deelgeneem het en plekke behaal het. In Niel se voetspore het sy geleer om van kleins af vuurwapens te hanteer en ook veilig te gebruik. Sy is ’n oud-Bloue (Hoërskool Kroonstad) en het begin om in 2001 Bisley-skyfskiet by David Knight onder die knie te kry. Sy het as skut twee keer NoordVrystaatse kleure, in 2002 en 2003, verwerf. Nadat skoleskyfskiet in 2003 opgeskort is, het Natali aan benchrest-teikenskiet by die Excalibur-klub in Welkom begin deelneem. In 2005 in haar matriekjaar het sy Vrystaatkleure in benchrest ontvang en die eerste keer as lid van die Vrystaatspan aan die Suid-Afrikaanse benchrest-kampioenskapsbyeenkoms in Kaapstad deelgeneem. In 2008 het sy haar Protea-kleure in benchrest-teikenskiet ontvang. Sy het toe aan die wêreldkampioen-
skapsbyeenkoms in Milaan, Italië, deelgeneem. Sy het weer ’n puik algeheel 15de plek behaal. Sedertdien het sy elke jaar met haar Walther (luggeweer) aan die wêreldkampioenskapsbyeenkoms vir veldteikenskiet deelgeneem. Sy het in 2009 ’n derde plek in Mutango behaal, toe tweede plekke in onderskeidelik Debrecen, Hongarye, Velo dástico, Italië, Isfjorden, Noorweë, en vanjaar die gesogte vroue-wêreldkampioentitel. Behalwe veldteikenskiet is bergfietsry ook een van Natali se aktiwiteite en sy het reeds ’n paar strawwe kompetisies agter die rug. Sy neem ook die afgelope jaar aan halfmarathons deel en het onlangs aan die Mauritius-halfmarathon deelgeneem en ’n silwermedalje verower. Boonop het sy haar eerste driekampkompetisie in Julie voltooi.
REEDS vandat Natali Terblanche ’n klein meisie was, het sy geleer hoe om kolskote te skiet.
NATALI TERBLANCHE is die nommereenwêreldvroueveldteikenskiet kampioen. Foto’: Verskaf