Kroonnuus 20140204

Page 1

Kroonnuus TEL (056) 212 3171

DINSDAG 4 FEBRUARIE 2014

WWW.KROONNUUS.CO.ZA

WWW.KROONNUUS.MOBI

GRATIS

Juig oor genoeg reën

GENOEG reën het dié naweek uitgesak om die Valsrivier te laat loop. Water vloei oor die keerwal by die Barend Wesselsdam naby die Alexandria­brug op Kroonstad. Bennie Neethling het in Môrewag, Kroonstad, altesaam 31,5 mm vir Januarie aangeteken. Dit is deur 11 mm Saterdag, 4 mm Sondag en 30 mm gisteroggend opgevolg. Deurdringende reën het gister teen druktyd nog uitgesak. In 2013 is ’n jaarlikse reënval van 649 mm deur Neethling aangeteken. Slegs 24 mm is in Februarie 2013 aangeteken. Intussen verneem Kroonnuus water word wel uit die Groblersdam (in die Valsrivier) na die Bloemhoekdam, die dorp se opgaardam, gepomp. Foto: Tharine Hurter

Is jy op die rol? Tharine Hurter KIESERS het nog net tot dié naweek (Saterdag en Sondag) van 08:00 tot 17:00 kans om by die verskeie kiesafdelings seker te maak hul name verskyn op die kiesersrol. Om in die 2014-verkiesing jou demokratiese reg om te kan stem uit te oefen moet jy as kieser geregistreer wees. Jy hoef jou net een keer in die betrokke stemdistrik waar jy woon te registreer. As jy verhuis het, sal jy moet seker maak dat jou nuwe besonderhede in die stemdistrik waar jy woon,

aangeteken is. As jy ’n Suid-Afrikaanse burger is, kan jy jou al van die ouderdom van 16 jaar as ’n kieser registreer. Jy mag egter eers van 18 af stem. Jy moet ’n groen ID-boekie met die strepieskode, die nuwe ID-kaart óf tydelike identiteitsdokument saam met jou neem om jou as kieser te registreer. Jy moet jouself met slegs dié genoemde identifikasiedokumente as kieser registreer. Geen ander vorme van identifikasie word deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), beter bekend as die Independent Electoral Commission

(IEC), aanvaar nie. Jy kan aanlyn by www.elections.org.za uitvind waar die regte stemlokaal in jou betrokke stemdistrik is. Jy kan ook die oproepsentrum by 0800-118-000 bel. Die OVK se kantoor is by die Skouburg op Kroonstad aan die westekant van die gebou geleë. Let wel, dit is nie by die munisipaliteit nie. Die proklamasie van die amptelike kiesdatum sal enige tyd ná 9 Februarie in Die Staatskoerant gepubliseer word. As jy jou as kieser by die stemlokaal naaste aan jou in jou

wyk registreer, sal jou ID-dokument geskandeer word, ’n plakkertjie aangebring word en dan kan dit tot sewe werksdae neem om jou naam op die kiesersrol te kan sien. Die plakker is jou bewys dat jy aansoek gedoen het om as ’n kieser geregistreer te word. Om seker te maak dat jy wel as kieser geregistreer is, kan jy ’n SMS met jou ID-nommer na 32810 stuur. Jy kan ook die oproepsentrum by 0800-118-000 bel of Saterdag en Sondag by die onderskeie kieslokale aandoen om seker te maak jy kan jou kruisie later vanjaar trek.

DIÉ naweek (Saterdag en Son­ dag) is die laaste kans vir kiesers om te verseker hul name is op die kiesersrol vir die 2014­verkiesing geplaas. Die kiesdatum kan enige tyd ná 9 Februarie geproklameer word. Foto: Tharine Hurter


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.