Kroonnuus TEL (056) 212 3171
DINSDAG 18 FEBRUARIE 2014
WWW.KROONNUUS.CO.ZA
WWW.KROONNUUS.MOBI
Liefde blom by skool
GRATIS
Onderwysers verloof Tharine Hurter ROMANSE soos in die ou dae is deesdae skaars. Mans vra nie meer ouers om die hand van hul dogters nie, maar by Sentieland (Sentrale Volkskool) het die liefde tussen JP Kruger en sy mede-onderwyser, Annika Hagen, geblom. Hy het met die leerlinge as getuies haar om haar hand gevra. “Hy het van niks geweet nie. Ek het met die riemtelegram verneem hy wil met my dogter, Annika, trou. My ander twee dogters se mans het nie lig van die vraery afgekom nie. Ek en my vriende het koppe bymekaar gesit, ’n jurie saamgestel en JP op Valentynsdag by die Sentrale Volkskool se konferensiekamer laat opdaag,” vertel Francois Hagen, wat sy drie dogters alleen grootgemaak het. Sy eerste vrou is oorlede toe Annika een van ’n tweeling, en nog ’n suster, en nog op skool was. JP het beslis trouplanne gehad, want hy het lank reeds die verloofring laat maak. Hy het vir die leerlinge gesê hy het nie so ’n groot ophef van Valentynsdag gemaak nie en is deur sy aanstaande skoonpa oor die vingers getik hieroor. Hy was aanvanklik nie ingenome nie met sy aanstaande skoonpa se jurie wat hom gevonnis het om voor die hele skool in die skoolsaal vir Annika, ’n junior laerskoolon-
“Die leerlinge het jubelend gejuig oor hul onderwysers se voorneme om die knoop deur te hak.”
derwyser, te vra om met hom te trou nie. Kroonnuus het die “hofverrigtinge” bygewoon en ’n video-opname vervaardig. JP is behoorlik gepeper met vrae en die senuwees het aan hom geknaag, maar nadat sy vonnis uitgespreek is, het hy ingenome in die skoolsaal op die verhoog vir Annika twee groot bosse blomme gegee en haar gevra om met hom te trou. Talle volwassenes het ’n traantjie op die geleentheid gepink. Annika het die leerlinge gevra wat hulle dink sy moet antwoord. “Ja!” het hulle uit volle bors geskree. Die leerlinge het jubelend gejuig oor hul onderwysers se voorneme om die knoop deur te hak. Leonard Welthagen, die Sentrale Volkskool se hoof, was geneë om die pouse op Valentynsdag so ’n bietjie te skuif om die romanse kans te gee om in sy skool ’n mooi boodskap van liefde te laat vertel. ) Kyk gerus die video op Kroonnuus se webtuiste, www.kroonnuus.co.za.
Besoek ons by www.kroonnuus.co.za vir nuus en foto’s.
LIEFDE blom in Sentieland. JP Kruger het Annika Hagen, albei leerkragte aan die Sentrale Volkskool (Senties), om haar hand gevra. Die leerlinge en personeel was getuies. Foto: Tharine Hurter