Kroonnuuskn 20140325

Page 1

Kroonnuus TEL (056) 212 3171

DINSDAG 25 MAART 2014

WWW.KROONNUUS.CO.ZA

WWW.KROONNUUS.MOBI

GRATIS

Vrou hoop op genesing

Operasie in Bangkok gedoen Tharine Hurter SUE JORDAAN (32) het dit altyd as tiener bevraagteken waarom sy so jonk swanger geraak het. Vandag het die legkaart van God se meesterplan vir haar sin begin maak. Sy was 13 jaar met haar kinders se pa getroud. Dié jong vrou het onlangs van Lichtenburg na Kroonstad verhuis. Sue het vir ’n groot chemiese maatskappy gewerk en by sy depots inspeksie gedoen. Ses maande gelede was sy vir ’n inspeksie van Kroonstad na Warrenton onderweg toe sy in ’n ongeluk betrokke was en ernstig beseer is. “Die pad was baie sleg. ’n Vragmotor het reg van voor aan my kant van die pad aangekom. Ek het beheer oor die motor verloor en dit het omgeslaan,” vertel sy. In die ongeluk het sy haar rug gebreek. Een van die werwels het “ontplof”. Boonop het sy haar skouer gebreek. Nadat sy in die intensiewesorgeenheid van die Mediclinic Welkom gestabiliseer is, is sy na die Life-Rosepark-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas. Ná vyf dae hier kon dr. Dan Hugo, ’n neurochirurg, aan haar rug opereer. Drie werwels is geheg, maar sy is nou ’n parapleeg. Sue kon met deursettingsvermoë en fisioterapie eindelik regop sit. “My lieflike dogter, Donna-lee, ’n leerling aan die Hoërskool Kroonstad, het my met alles gehelp. Hoewel ek ’n groot sny aan my kop opgedoen het, het ek geen breinskade opgedoen nie. Ek sal graag weer wil werk en kan as rekenmeester of voorradeklerk werk.” Sy vervoer Donna-lee en Maryke (7) met ’n aangepaste motor. Ongelukkig het die maatskappy waarby sy ’n polis uitgeneem het, bevind dat sy “nie gestremd genoeg is nie” en die volle polisbedrag is nie aan haar betaal nie. Haar werkgewer het ook bevind dat sy nie meer haar werk sal kan doen nie en sy

is afgedank. Hugo het gesê sy is ’n kandidaat vir ’n stamselinplanting. Dit word egter nie in Suid-Afrika gedoen nie. Die beste tyd hiervoor volgens die aard van haar beserings is tussen ses en agt maande nadat die besering opgedoen is. “Ek het baie oor stamselinplantings gelees en het kontak met pasiënte oor die wêreld heen gemaak – ook met ’n kwadrupleeg wat nou kan opstaan en self kan eet.” Tafelronde 42 in Kroonstad het van Sue se geldtekort en haar kans om die stamselinplantings te kan ondergaan, gehoor. Dit kos R354 000 sonder die vliegkaartjies. Sue is oorstelp van vreugde omdat die Tafelaars aangebied het om vir die vlugte te betaal. Die operasie sal in die Better Being-hospitaal in Bangkok, Thailand, gedoen word. Sy en Donna-lee vlieg op 26 April na Thailand sodat sy die operasie kan ondergaan. “Ons het soveel geloof dat ek weer sal kan loop. Net God kan genesing bring en Hy gee medici die tegnieke en hande om pasiënte gesond te maak,” sê Sue. Maryke gaan vir die tyd dat haar ma in Bangkok is by haar tannie woon. Donnalee sal 40 dae nie skool toe kan gaan nie om haar ma by te staan. Intussen is gebedsgroepe gestig wat vir Sue se herstel en ’n werk bid waarin sy haar kennis van rekeningkunde en voorraadhouding tot voordeel van ’n maatskappy kan gebruik. Dan sal nog ’n stukkie in God se legkaart en meesterplan vir haar en haar gesin in plek val.

OOR sowat ’n maand vlieg Sue Jordaan (32) van Kroonstad saam met haar dogter Donna­ lee (regs) na Bangkok, Thailand, waar Sue ’n stamselinplanting by die Better Being­hospitaal sal ondergaan. By hulle is Maryke, Sue se jong­ ste dogter. Foto: Alda Ludick

Rooies, Bloues laat ander skole op sportdag les opsê Tharine Hurter OP die Rooies en Bloues se sportvelde het die adrenalien behoorlik gepomp toe talle skole van oor die land heen hier

aan die Yield/Rooiskool-sportdag kom deelneem het. Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooies) se eerste rugbyspan het die Hoërskool Sentraal van Bloemfontein met

12-7 geklop. Sentraal is as die gunsteling geag omdat dié span in talle wedstryde dié jaar onoorwonne was. Die Bloues (Hoërskool Kroonstad) se eerste rugbyspan het skitterend teen die

Hoërskool Brandfort gespeel en dié span met 23-0 geklop. Besoek www.kroonnuus.co.za om ’n keur van aksiefoto’s van albei wedstryde te sien.


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.