Kroonnuus DINSDAG 20 MEI 2014
WWW.KROONNUUS.CO.ZA
GRATIS
Dans, dans
TEL (056) 212 3171
FAMOUS FLAMES is Vrydag en Saterdag deur die leerlinge van die Cindella-dansateljee in die Kroonstad-skouburg opgevoer. Pieter Möller was die gasspreker op dié geleentheid. In aksie is die step up-dansers in die ouderdomsgroep tussen vyf en ses jaar. Van links is, voor: Annique Boshoff, Wilri Crous, Jani Wessels en Anjé Erasmus; middel: Zahn-Mari Greeff, Ané Snyders, Marli Viljoen, Nadia van Aswegen en Joané Knepscheld; agter: Nadine Malherbe, Izandri Greeff, Ané Crous en Nika Terre-Blanché. Nog foto’s is op Kroonnuus se webtuiste www.kroonnuus.co.za te sien. Foto: Leon Strydom
Spog met jou talent HET jy ’n spesiale talent? Dan kan jy vir Spontaan 2014 nader staan. Dié kompetisie van die Sentrale Plaaslike Koerante op Volksblad se Vryfees trek vanjaar ’n nuwe baadjie aan. Nie net sangers nie, maar enigeen met ’n besonderse talent kan nou deelneem – hetsy jy kitaar met ’n lepel speel, gedigte voordra, balle wiggel, met kaarte toor, konsertina agter jou rug speel, aksente namaak, dans en, natuurlik, sing. As jy dink jy het ’n talent waarvan ander mense kennis moet neem, kom wys jou slag op Vrydag 30 Mei. Die oudisie begin om 14:30 in die Broncorestaurant op die hoek van Bukes- en Reitzstraat in Kroonstad. Deelnemers moet alles wat hulle vir die optrede nodig het self verskaf – ook as ’n
CD-speler vir agtergrondmusiek benodig word. Deelnemers moet ouer as 16 jaar oud wees. Inskrywing is gratis. As jy as ’n streekwenner aangewys word, moet jy op Saterdag 19 Julie op die Vryfees wees om jou staal in die eindronde op die Blêrkas-verhoog te toon. Die wenner van elke streek sal net ná elke oudisie aangekondig word. As jy as een van die streekwenners gekies word, moet jy jou eie vervoer en verblyf na Bloemfontein reël. Die beoordelaars behou die reg voor om nie ’n streekwenner te kies indien ’n gepaste kandidaat nie vir die streek beskikbaar is nie. As jy nog vrae het, skryf aan thurter@volksblad.com of skakel 083-627-7017.
Die volgende pryse is op die spel: ) SpecSavers: pryse van R3 000. ) ExecuSpecs: pryse van R5 800. ) Z PR Communication and Public Relations Consultants: ’n Publisiteits-en-bemarkingpakket van R5 000 vir elke finalis, insluitend ’n konsultasie met die Z PR-span, ’n professionele CV, die ontwerp van ’n CD-omslag, visitekaartjies, ’n professionele profiel, Facebook-profiel en vyf nuusverklarings. Die algehele waarde van die prys is R40 000. ) Atlantis-gastehuis: Verblyf van R4 100. Die wenner, naaswenner en derdeplekwenner wen elkeen twee nagte se verblyf vir twee mense, ontbyt ingesluit. ) PCB Productions: ’n Fotosessie vir die wenner, naaswenner en derdeplekwenner van R4 500.
Besoek ons by www.kroonnuus.co.za vir nuus en foto’s.