Kroonnuuskn 20140617

Page 1

Kroonnuus TEL (056) 212 3171

DINSDAG 17 JUNIE 2014

WWW.KROONNUUS.CO.ZA

GRATIS

Dorp in pienk getooi Tharine Hurter DIE bome en lamppale in Kroonstad sal in September en Oktober in pienk getooi word. Sheila Fick en Annerees Weber, twee kankeroorwinnaars, het saam die pad na herstel van kanker aangepak. Om hul dankbaarheid vir hul gesondheid te beklemtoon het die vroue besluit om vanjaar geld met die nasionale Pink Trees for Pauline (PT4P) ten bate van die Northern Free State Care Givers (NFSCG) in Kroonstad in te samel. Die NFSCG is ’n nie-winsgewende organisasie wat terminaal siek pasiënte, van wie talle kankerlyers is, versorg. Verlede jaar is sowat 70 000 bome oor Suid-Afrika en Namibië heen met lap toegedraai om kankerbewustheid te skep. “Ons doelwit is om Hillstraat en Cross-straat in Kroonstad se lamppale en bome met pienk lap teen R20 per meter toe te draai. Al die wins met die verkope van die lap sal aan die NFSCG geskenk word,” vertel Fick. Geen geld wat ingesamel word, sal aan nasionale of provinsiale instansies wat kankerbewusmakingsveldtogte het, gegee word nie. Weber glo dat ondernemings eienaarskap van die lamppale en bome voor hul sakepersele sal neem. “Deur ’n meter of twee of soveel moontlik lap by Riaan-juweliers in Cross-straat of Honey se kantoor in Hillstraat te koop sal die NFSCG bemagtig word om terminaal siek pasiënte te versorg, om die nodige prostese te koop, vervoer vir versorgers te gee, kospakkies en ’n meer onbaatsugtige diens aan pasiënte te lewer. Die sukses van die projek hang uitsluitlik af van inwoners se entoesiasme om betrokke te raak. Felicity Combrinck, voorsitter van die NFSCG, sê ’n kankerbewusmakingstap sal op 4 Oktober aangebied word. Dié maand is tradisioneel Borskankermaand. Hoewel die organiseerders Hill- en Cross-straat gekies het om eerste getooi te word word inwoners genooi om hul straat se bome voor hul huise ook gedurende die laaste week van September toe te draai. Die nodige aansoek is reeds by die Moqhaka-munisipaliteit ingedien en inwoners kan nou reeds ’n skenking doen. Bel Weber of Fick by onderskeidelik 072-671-1096 of 082-377-5104.

OM bewusmaking vir kanker te skep gaan Kroonstad die eerste keer aan die Pink Trees for Pauline (PT4P) deelneem. Alle geld wat met die projek ingesamel word, bly in die dorp en sal aan die Northern Free State Care Givers (NFSCG) geskenk word. Helder pienk lap sal teen September om bome en lamppale gedraai word. Dié vroue wys hoe die bome toegedraai kan word. Van links is Felicity Combrinck (voorsitter: Northern Free State Care Givers), Annerees Weber en Sheila Fick (albei kankeroorwinnaars en organiseerders van die projek). Foto: Tharine Hurter


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.