Kroonnuuskn 20140624

Page 1

Kroonnuus TEL (056) 212 3171

DINSDAG 24 JUNIE 2014

WWW.KROONNUUS.CO.ZA

GRATIS

Klub wys hy het nog skop Martin Venter

DIE Kroonstad-rugbyklub se eerste span het die eerste keer in vyf jaar na die eindstryd van die Griffons-liga deurgedring deur Hennenman in hul halfeindstryd Vrydag met 27-17 te troef. Wat hierdie prestasie merkwaardiger maak, is dat die tweede span van Kroonstad ook die eerste keer in vyf jaar in ’n eindstryd sal wees. Hennenman het met ’n barshou weggespring en die Kroonstadters onder druk gehou wat tot ongedwonge foute gelei het. Ná agt minute se speeltyd het hy Kroonstad se halfhartige verdediging geklop en sy eerste drie gedruk. Die doelskop was onsuksesvol. Slegs drie minute later het Kroonstad met ’n strafskop van losskakel Tiaan van Wyk se skopskoen die agterstand na twee punte laat krimp. Hennenman het Kroonstad steeds onder druk bly hou en die Kroonstadters kon nie werklik aan die gang kom nie. Nog ’n drie het vir Hennenman gevolg. Kort voor rustyd het die Kroonstadters ná vele probeerslae ’n goeie aanval met ’n drie van Nelis de Kock afgerond. Van Wyk het die uiters moeilike doelskop sekuur tussen die pale deurgejaag om die telling teen rustyd gelykop op tien punte elk te laat staan. In die tweede helfte kon Kroonstad ná twee minute die eerste keer met ’n tweede strafskop van Van Wyk voorloop. Daarna het Kroonstad stelselmatig begin beheer neem oor die wedstryd en Lucas Boucher, wat aanvanklik behoorlik opgepas is, het deur Hennenman se agterlyn gebreek en ’n drie gedruk. Van Wyk het ook hierdie drie verdoel om Kroonstad veilig met tien punte te laat voorloop met die telling op 20-10.

DINK jy die sentraliteit van Kroonstad moet meer benut word om provinsiale spanne in die dorp kragte te laat meet? Wat dink jy van die Kroonstad-rugbyklub se prestasies die afgelope twee jaar, veral nadat die klub uit die niet weer kop opgetel het? Lug jou mening op Facebook by Kroonnuus. Christiaan Cornelissen het met nog net nege minute oor die span van Hennenman se stert met sy drie geknoop. Van Wyk was egter onsuksesvol met die doelskop. Kroonstad se konsentrasie het toe ’n bietjie verslap en Hennenman het ’n troosdrie gedruk en verdoel om die wedstryd met die telling op 27-17 te eindig. Voorlangs het Gerhard Klopper behoorlik in die los ingeklim met goeie ondersteuning van die lostrio, Hendré van Zyl, Luan Kleyngeld en Johann Botes. Agterlangs het Tiaan van Wyk, Lucas Boucher en Nelis de Kock uitgeblink. Die tweede span het regstreeks na sy eindstryd deurgedring deurdat die Welkom-klub uit sy halfeindstryd onttrek het. Kroonstad kom nou Vrydag of Saterdag in Welkom in die Noordwes-stadion teen die Welkom-Rovers in albei die spanne se eindstryde te staan. ) Punte en Puntemakers: Kroonstad 27 (10). Drieë: Nelis de Kock, Lucas Boucher, Christiaan Cornelissen. Doelskoppe: Tiaan van Wyk (2). Strafskoppe: Van Wyk (2). Hennenman 17 (10).

DIE Cheetahs se o.19­ en o.21­rugbyspan het Donderdag op die rugbyveld van die Afrikaanse Hoërskool (Rooies) teen die Lions kragte gemeet. Inwoners van Kroonstad het spel deur die room van die twee unies se jong provinsiale spelers aanskou. Voor is oom Engel Engelbrecht; van links is, middel: Edgar en Elize Schultz van Kroonstad; agter: Ivan Coetzee van Bloemfontein. Coetzee se seun Carel­Jan draf as nommer 11 van die Cheetahs se o.21­span uit. Besoek www.kroonnuus.co.za vir aksiefoto’s van die wedstryde. Foto: Tharine Hurter


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.