Kroonnuus TEL (056) 212 3171
DINSDAG 26 AUGUSTUS 2014
WWW.KROONNUUS.CO.ZA
GRATIS
Vulliswet nie toegepas
Mens en dier krap saam deur vullis op soek na iets te ete Tharine Hurter “IEMAND het ’n lappop op die ashoop weggegooi. Sy was gedaan en stukkend, verbleik en nie meer mooi nie . . .” So lui die bekende Afrikaanse liedjie. In Kroonstad krap en aas mense soos hiënas op die munisipale stortingsterrein na iets om te herwin. Varke en mense soek saam na kos. Plastiek, papier, glas en staal kan dalk pap koop. Die pad na die stortingsterrein naby Brentpark in die dorp is besaai van vullis wat meters diep lê nog voordat die toegangshek bereik word. Sommige inwoners sien net nie kans om die risiko van aanvalle of teistering by die stortingsterrein te loop nie en gooi sommer hul vullis langs die pad weg. Kroonnuus het verlede week die terrein saam met Jean Hattingh, DA-wykraadslid, besoek. As voorsorgmaatreël het ’n polisiebeampte saamgery. Hattingh is besorg oor die wetsvereistes wat glo nie by die stortingsterrein nagekom word nie en oorweeg om ’n klag by die polisie in te dien, omdat die Moqhaka-munisipaliteit glo nie aan die Vulliswet se vereistes voldoen of die stortingsterrein bestuur nie. Luidens ’n ouditverslag deur die burgerregte-organisasie AfriForum het die regering ’n grondwetlike verpligting om die regte in artikel 24 van die Grondwet deur middel van die staatsmondstuk verantwoordelik vir die inwerkingstelling van die Vulliswet uit te voer. Hy moet eenvormige maatreëls instel wat daarop gemik is om die hoeveelheid vullis wat gegenereer word te verminder en waar vullis gegenereer word, te verseker dat dit herbruik, hersirkuleer en op ’n omgewingsvriendelike wyse herwin word voordat dit behandel en gestort word. In die 2014-’15-begroting het vullistariewe met ’n astronomiese 32% in vergelyking met die vorige boekjaar van 1 Julie gestyg. ’n Amerikaanse gesegde lui die aarde word nie aan ons nagelaat word nie, maar word deur ons kinders aan ons geleen. Om dié gesegde waar te laat word is die bestuur van die omgewing op ’n verantwoordelike wyse uiters noodsaaklik. Meer as ’n dekade al is ’n ernstige rioolstorting wes van die stortingsterrein ’n groot bron van kommer, omdat die werkers en mense wat spook om ’n bestaan uit herwonne materiaal te maak aan Escherichia coli blootgestel word. Dié rourioolwa-
’n KANO “vaar” in ’n see van gemors, terwyl ’n man naarstiglik soek na iets wat hy kan gebruik. ter vind sy weg na die Valsrivier, die dorp se vernaamste waterbron. Ingevolge wetgewing moet vullishope met sand bedek word en so gelaat word om te ontbind. Dit is teen die wet om vullis op plekke te stort wat nie deur die departement van omgewingsbestuur goedgekeur is nie. In ’n ter plaatse ondersoek deur Kroonnuus maak talle inwoners hulle daaraan skuldig om vullis lukraak te stort op plekke naby die Wespark-begraafplaas, langs die Valsrivier naby die provinsiale verkeersafdeling, by die voetbrug oor die Valsrivier en ander plekke in die dorp. Of die Moqhaka-munisipaliteit oor genoegsame personeellede beskik om
oortreders wat vullis onwettig stort te vervolg is ’n goeie vraag. Mediese afval moet ook volgens wet deur goedgekeurde instansies verwyder word. AfriForum se verslag oor stortingsterreine lui dit kan nadelige gevolge op die gesondheid van mense en die omgewing hê indien die terrein naby is aan waar mense woon, swak bewerk en ontwikkel is (soos waar uitgeloogde of vergiftigde water in die grondwaterreserwes of riviere beland) en nie oor voldoende toegangsbeheer en sekuriteit beskik nie. Vure en karkasse is ’n groot gesondheidsrisiko. By Kroonstad skiet dié voorsorgmaatreëls ver te kort, is tydens Kroonnuus se besoek opgemerk.
Foto: Tharine Hurter
Kroonnuus verneem die munisipale werkers wat met vullis werk en dit bymekaarmaak, word van geringe beskermende klere en toerusting voorsien om hulle teen siektes te beskerm. ) ’n Medianavraag oor die bestuur van die stortingsterrein en die geld wat vir die behoorlike bestuur en rehabilitering daarvan beskikbaar is, is aan die munisipaliteit gestuur, maar hy het teen druktyd nog nie daarop gereageer nie. ) Het jy ’n mening oor die bestuur van vullis in Kroonstad, Viljoenskroon en Steynsrus? Lewer kommentaar by www.kroonnuus.co.za of op Kroonnuus se Facebook-blad of stuur ’n e-pos na thurter@volksblad.com.