Kroonnuus TEL (056) 212 3171
DINSDAG
2 SEPTEMBER 2014
WWW.KROONNUUS.CO.ZA
GRATIS
Sorg glo swakker oor taal Net Engels vir pasiënte Tharine Hurter
Groet die lente feetjie-fraai “BOETIE, sy’s ’n perskeblom, rosig fyn van kleur; moenie wag nie, kêrel, kom, pluk haar in haar fleur. Maak jou buiging, vat haar hand, gly nou heen en weer; nog ’n buiging, nog ’n groet, speel dan nog ’n keer.” Dié woorde van die bekende Afrikaanse liedjie van M.L. de Villiers is ideaal om die lente mee in te lui. Klein Lila Lamprecht (3) het perskebloeisels vir haar mamma, Isabel, advertensiekonsultant van Kroonnuus, gepluk. Ná ’n bibbernaweek kan inwoners met reg na warmer weervooruitsigte uitsien. Foto: Tharine Hurter
“EK het nie al die opleiding op skool gehad om Engels of Suid-Sotho te kan praat nie. Ek is ’n gewone mens wat Afrikaans praat – al is ek donker van gelaat.” Dít is die woorde van Andrew September, ’n inwoner van Welkom, wat verlede week sy lot by Kroonnuus bekla het. Hy en sy seun, Jason (23), is glo in die Boitumelo-hospitaal deur ’n dokter “verjaag”, omdat hy in die ongevalle-afdeling Afrikaans gepraat het. September beweer pasiëntsorg kry ’n groot knou, omdat mense nie in hul eie taal kan sê wat hulle makeer nie. Jason het sowat drie weke in die psigiatrie-afdeling deurgebring. Hy is ’n epilepsielyer en het ook behandeling vir dwelmverslawing gekry. Ene dr. Molotsi het die Septembers glo “aangespreek” en gesê hulle mag nie Afrikaans praat nie. In daardie stadium het Jason in die ongevalle-afdeling ’n epilepsieaanval gekry. “Die gesindheid in die hospitaal is baie negatief. Daar moet tog iemand wees wat kan tolk.” Boonop is Jason se lêers glo altyd soek, selfs toe hy op ’n vorige geleentheid met pasiëntvervoer van die Boitumelo-hospitaal na die Bongani-hospitaal gestuur is. “Ek wil weet hoe die medisyne wat vir my kind voorge-
skryf is, werk. ’n Dokter kan mos nie net iets voorskryf sonder om die pasiënt te ondersoek nie,” sê September. Hy sê hy weet nie hoe die hoop pille wat Jason gekry het, toegedien moet word nie. Hy gaan ’n amptelike klag oor die taalbeleid by die hospitaal indien. “Ek wou weet wat aangaan en watter sorg Jason moet kry. Ek kan myself nie in Engels of Suid-Sotho uitdruk nie.” ’n Mediese dokter wat op ’n vorige geleentheid met Kroonnuus oor die taalbeleid en beweerde onbeskoftheid van die dokter gepraat het, sê dit is onaanvaarbaar dat pasiënte weens ’n taalkwessie nie gehelp kan word nie. “Die einste Molotsi het al op ’n geleentheid gesê: ‘This is not the land of the Afrikaners and Sothos: It is the land of the blacks’,” sê die dokter wat anoniem wil bly. Die dokter sê tientalle klagtes teen Molotsi word glo in die kiem gesmoor en hy kom na bewering spreekwoordelik met moord weg. “Afrikaans kan nie verantwoordelik gehou word vir dit wat in die verlede gebeur het nie,” sê September. “Daar is 11 amptelike tale en ek mag Afrikaans praat. Dit is so in die Grondwet neergelê.” ) Teen druktyd is kommentaar van die departement van gesondheid nog nie ontvang nie. As dit wel gelewer word, sal Kroonnuus dit publiseer.