Kroonnuuskn 20140916

Page 1

Kroonnuus TEL (056) 212 3171

DINSDAG 16 SEPTEMBER 2014

WWW.KROONNUUS.CO.ZA

GRATIS

Flink optrede red huis Tuinwerker blus brand en voorkom só groot skade Marlene Jordaan ’n KROONSTADSE vrou het groot brandskade aan haar huis vrygespring toe haar buurvrou se tuinwerker kop gehou het, straat-af gehardloop het om ’n brandblusser te kry, oor haar hek geklim het en ’n brand in haar huis blitsvinnig geblus het. Boonop het ander bure en werkers almal ook so vinnig kom help dat Madeleine Alexander se huiswerker, Paulina Sibaya (62), papegaai, Zazoo, en Yorkshire-terriërtjie, Roxy, almal ongedeerd daarvan afgekom het. Sibaya was alleen in die huis toe die brand ontstaan het. Die huis is op die hoek van Van der Lingen- en De Vosstraat, Panorama. Die brand het skade aan die stoof, kaste, plafon, mure en lugversorger aangerig, maar die res van die huis is onbeskadig. Alexander sê sy wil niemand uitlaat nie, daarom bedank sy almal innig wat gehelp het nadat die brand ontstaan het. “Dit is deur die Here se genade dat ons nie groter skade gely het nie en dat almal ongedeerd is. Chantelle de Witt het byvoorbeeld vir Paulina gehelp om Zazoo met hok en al uit te dra. Dit klink vir iemand anders na iets kleins, maar Zazoo is al tien jaar deel van ons lewe. Sy was ’n paar uur stom geskrik, maar is nou weer haar ou self.” Sy sê dit voel behoorlik asof die hele buurt kom help het. “Die diens van die brandweer en nooddienste, wat na Paulina kom omsien het, was uitstekend.” Die drama het begin toe Jonas Moroenyane (36), wat langs die Alexanders by Isa Kleingeld werk, Dinsdag op sy fiets verbygery het en gehoor het hoe die huiswerker vreeslik gil en om hulp roep. “Ek het oor die hek geklim en ingehardloop. Daar was ’n vuur in die kombuis. Ek het toe die main switch van die elektrisiteit afgeskakel,” vertel Moroenyane. Hy het toe weer oor die hek geklim, na die Kleingelds se huis gehardloop en die brandblusser gaan haal. Op pad terug het hy ander tuinwerkers van oorkant en langsaan geroep. Hy is weer oor die hek en die Alexanderhuis in waar die vlamme intussen groter geword het. Hy het die vuur geblus. Ander hulp het toe ook opgedaag. “Dit was moeilik, die vlamme was warm, maar ek is baie bly ek kon die mense help, anderdag help hulle my weer,” sê hy.

“Dit is wonderlik dat mense in ’n buurt nog so kan saamstaan om mekaar te kan help,” – Madeleine Alexander

PAULINA SIBAYA by Zazoo, die Afrika­grys­ papegaai. Moroenyane sê hy het presies geweet wat om te doen, omdat hy voorheen vyf jaar as plaaswerker gewerk het en baie vure moes blus. Kleingeld, sy werkgewer van die afgelope vier jaar, sê sy is baie trots op sy optrede. “Dit wys net weer ons moet ons werknemers oplei oor hoe om in noodgevalle te maak.” Sibaya sê benewens ’n armbesering toe sy probeer het om emmers water op die vuur te gooi is sy maar net ’n bietjie geskok, maar baie dankbaar sy lewe. “Ek gaan vir die man en al die mense baie dankie sê dat hulle my kom help het.” Alexander sê dit is wonderlik dat mense in ’n buurt nog so kan saamstaan om mekaar te kan help. “Baie, baie dankie,” sê sy.

JONAS MOROENYANE se vinnige optrede het groot brandskade aan sy werkgewer se buur­ huis voorkom. Foto’s: Marlene Jordaan


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.