Kroonnuus TEL (056) 212 3171
DINSDAG 14 OKTOBER 2014
WWW.KROONNUUS.CO.ZA
GRATIS
Preekstoel soek tuiste NG kerk Môrewag verkoop sy geboue
DS. PIETER PRINSLOO gaan van 1 November af nie meer op die pragtige preekstoel van die NG kerk Môrewag preek nie. Die kerk is verkoop en die toekoms van dié antieke preekstoel, met sy ryke geskiedenis, is onseker. Foto: Tharine Hurter
Tharine Hurter
AL 44 jaar is daar deur ’n NG predikant in Afrikaans van die antieke preekstoel van die NG kerk Môrewag op die hoek van Stewarten Britsstraat gepreek. Van 1 November af sal die NG kerk Môrewag egter nie meer bestaan nie. Die kerk, wat in 1970 van die NG kerk Kroonstad-Wes afgestig het, is in erge finansiële verknorsing en die lidmaattal het aansienlik gedaal. “Sedert 1994 het die voedingsbron vir lidmate en die demografie van die omgewing aansienlik verander,” sê ds. Pieter Prinsloo, leraar van die gemeente. Die kerkgebou en die hele kompleks, insluitend die kombuis, kategeseklasse en Ebenaeserkerksaal, is vir R1,5 miljoen aan Christ Sanctuary (CS), ’n charismatiese kerkbeweging van Amerika verkoop. “Die geboue is aansienlik meer werd, maar ingevolge die NG kerk se beleid is net die grond- en slopingswaarde van ’n eiendom as riglyn neergelê indien ’n kerk of ander eiendom van die kerk verkoop moet word.” Hy sê die lewensvatbaarheid van Môrewag het die afgelope dekade aansienlik gedaal. Amptenare van die departement van korrektiewe dienste (DKD) en Spoornet was die voedingsbron en rede vir afstigting van die NG gemeente Kroonstad-Wes in die sewentigerjare. “Die werklikheid is die demografie van die omgewing het ná 1994 verander. Waar byna alle inwoners van die woonstelkomplekse van die DKD-lidmate van die Môrewag-gemeente was, is dit vandag selde om ’n lidmaat daar in die honderde woonstelle te besoek. Mense het deesdae ook nie meer groot gesinne met dooplidmate nie.” “Hoewel dit nie wyd verkondig is dat die kompleks in die mark was nie, het die nuus tog versprei. “Die pastoor van die CS, wat onder meer by die gevangenis bediening doen, het voelers uitgesteek oor die koop van die geboue. Ná deeglike ondersoek en die aanbod sal die kompleks op 1 November formeel aan die CS oorhandig word,” sê Prinsloo. Die toekoms van die antieke preekstoel met sy ryke geskiedenis is onseker. Sie CS het nie vir dié styl van preekstoel ’n gebruik nie. Die preekstoel is destyds deur ’n leraar van die gemeente, wyle ds. Peet Pretorius, van die NG kerk Heilbron bekom. Die houtwerk aan die preekstoel is van hoogstaande gehalte. Prinsloo sê die verwydering van die preekstoel sal egter baie moeite en beplanning verg. Pretorius het destyds die kerkgebou juis so laat ontwerp om vir die preekstoel plek te maak. Mense wat in die preekstoel belang stel, kan Prinsloo by 056-212-6128 bel.