Manna volume 0012

Page 1

’n Reis van ashoop na hoop Jy sal hierdeur kom! Herinner God aan sy woord Depressie versus pessimisme Die vyf tale van die liefde van kinders Jesus ruik na parfuum

R34.00

Maart - April 2017

Volume 012




Gary & Rhona Kieswetter

Het jy

V

kontak met God verloor?

oel dit soms vir jou asof jy kontak verloor het met God? Jy is so besig om aan te gaan met jou lewe dat as jy weer sien het daar weke verby gegaan sonder dat jy van Hom bewus was. Wel jy is nie die eerste persoon met wie dit gebeur nie. Dink vir ’n oomblik aan Jesus se ma, Maria. Sy het die wonderlike nuus ontvang dat sy die geseënde vrou gaan wees wat die Redder van die wêreld gaan baar. Die engel het vir haar gesê dat Hy groot gaan wees en die Seun van die Allerhoogste genoem gaan word. Dat daar geen einde aan sy koninkryk gaan wees nie. Sy het die Verlosser van die wêreld gedra! Met sy geboorte kom die skaapwagters en getuig van ’n koor van engele wat spesiaal uit die hemel gekom het om sy koms aan te kondig. Dan boonop kom daar wyse manne met duur persente om hulde te bring aan Hom. Die Bybel sê sy het al hierdie dinge in haar hart bewaar en dit gereeld oordink. Voorwaar was dit alles ’n geweldige voorreg vir haar, maar dink vir ’n oomblik aan die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gegaan het. Sy moes Jesus versorg, oppas en seker maak dat Hy veilig bly sodat Hy die wêreld kon red wanneer Hy groot is. En daar gaan staan en verloor sy Hom toe Hy twaalf was! Hulle het jaarliks Jerusalem toe gegaan vir die Paasfees. Na al die feesvieringe was hulle weer op pad huis toe en het nie besef dat Jesus nie saam met hulle gekom het nie. Na ’n hele dag het hulle begin soek na Hom maar kon Hom nêrens kry nie!

Kan jy jou indink hoe groot hulle moes geskrik het? As jy dalk al jou kind in ’n supermark verloor het vir ’n paar minute sal jy verstaan hoe verskriklik dit is. Boonop die normale skrik vir hulle as ouer, moes Maria gedink het: “Ek het die Redder van die wêreld verloor! Dit was my verantwoordelikheid om Hom op te pas tot sy roeping vervul is en nou is alles daarmee heen. Ek het die Seun van God verloor! Wat gaan nou word van die wêreld?” Kan jy jou voorstel wat deur haar gedagtes gegaan het in daardie drie dae wat hulle na Hom gesoek het? G’n wonder toe sy Jesus vind het sy vir Hom gesê nie: “Hoe kon jy dit aan ons doen? Kyk jou vader en ek het jou met angs gesoek?” So waar vind ’n mens Jesus weer as jy voel jy het Hom verloor? Wel, jy vind Hom presies waar Maria hom gevind het. In sy Vader se huis besig met sy Vader se dinge. Jesus is verbaas en vra hulle in Lukas 2:49: “Maar hoekom was dit nodig om te soek?” het Hy gevra. “Julle moes geweet het Ek sou in my Vader se huis wees.” Daar is nie meer ’n fisiese tempel waar God die Vader woon nie, maar wel ’n nuwe geestelike tempel, ons eie liggame! Het Hy nie gesê: “Weet julle dan nie dat julle liggame die tempel van die Heilige Gees is nie?” Wanneer ons Hom nie ervaar nie, is dit nie Hy wat wegbeweeg het nie, maar ons. As jy Jesus genooi het om in jou lewe te kom woon, dan is jy nou sy tempel en woon Hy in jou. So wanneer jy voel jy het Jesus “verloor” gaan word stil en praat met Hom binne in jou. Maak weer kontak, vind Hom weer, ervaar weer sy nabyheid en sy liefde en weet dat Hy jou nooit sal verlaat nie!


GEESTELIKE KOS VIR JOU SIEL

Maart - April

2017

Depressie versus aangeleerde hulpeloosheid

06

Van Ashoop na Hoop

Aangeleerde hulpeloosheid kan weer afgeleer word

Jy sal hierdeur kom

16

Herinner God aan sy woord

Dit sal nie pynloos wees nie. En dit sal nie gou wees nie. Maar God sal hierdie ellende ten goede gebruik.

Die heiligheid van andersheid

26

Dis maklik om te dink dat God heilig is, maar hoe op aarde kan ons heilig wees? MANNA www.mannatydskrif.co.za Tel: 086 111 2329 Inskrywings: admin@grootisutrou.co.za

10

Die reis na hoop is ’n pelgrimsreis na binne van sterf en weer begin.

22

As jy God herinner aan sy beloftes en nie aan jou probleme nie, sal Hy getrou wees aan sy Woord.

Die vyf tale van die liefde van kinders

28

Jesus ruik na parfuum

32

Elke kind het ’n primêre liefdestaal, ’n manier waarop hy of sy ’n ouer se liefde die beste verstaan.

Jesus het so na aan ons gekom dat Hy soos ons geruik het, soms sag en soms hard.

Redakteurs: Gary en Rhona Kieswetter Uitgewer: Ingrid Stegmann / ingrid@dor22.co.za

Grafiese ontwerp & uitleg: Adri de Bruyne Ontwerpelemente: Freepik.com Fotos: Shutterstock


Geloofsmuur Dit gaan dalk op die oomblik nie juis voor die wind met jou nie, maar hou aan om God te volg. Vertrou God om jou te help om jou horison te verruim. Hou aan glo dat God jou met meer wil vertrou. Hou aan totdat jy jou beloofde land bereik het.

Dit mag lyk asof ander mense meer het wat in hulle guns tel, maar God het jou die genade gegee wat jy nodig het om jou lotsbestemming te vervul. Jy is nie geseën om iemand anders te wees nie. Jy is geseën om jouself te wees.

Op pad na jou ja’s sal daar ook nee’s wees. Jy het die nee’s nodig om jou ja’s te kry. Moenie mismoedig raak deur die nee’s en dan tou opgooi nie. Jy het al jou energie ingesit en die antwoord was nee en nou dink jy dit sal nooit gebeur nie. Jy moet deur jou toe deure gaan voordat jy jou oop deure bereik.

Vergewe my, asseblief, Vader, dat ek toegelaat het dat kommer en vrees my gedagtes oorheers. Ek is u kind en ek weet dat u krag in my werk. As U vir my is, wie kan teen my wees? Ek gaan vandag op U vertrou.

Vir my Here, is daar net een God; die Vader, uit wie alles is en vir wie ek lewe: en net een Here, Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe ~ 1 Kor 8:6

Wanneer dinge onmoontlik �yk en ek geen �itweg �ien �ie, gaan ek �ositief en vol �oop �ly �n die �ete dat God �ie �e doof �s om �e �oor �ie en �y arm �ie �e kort om �y �e �ed �ie.


Voetpad na

V�ede

Mila nie Vosloo

’n Mens wat wys is, sê verstandige dinge. Hy kan ander mense onderrig – Spreuke 16:23

H

Hoe laat jy mense vóél?

et jy ook al die wonderlike ondervinding gehad dat iemand in ’n hoë amp of posisie met totale nederighed en opregtheid na jou en ander uitreik? Ja, ’n mens kry mense in hoë posisies wat só teenoor ander optree en leef dat daardie mense goed oor hulself voel. Hulle praat mooi met ander, is nederig, stel in mense belang en wys hulle omgee. Dís die mense wat respek en waardering verdien. En dan kry jy mense wat dink dat hulle belangrik is. Dis die mense wat so optree dat ander ongemaklik en bang vir hulle is. So asof hulle hulself net kan handhaaf deur op ander neer te sien en hulle te verneder. Mense wat ander goed oor hulself laat voel, is gewoonlik hulle wat al ’n paadjie in die lewe geloop het, dikwels swaar gekry het en wysheid op die pad geleer het. Dis die mense wat weet dat wat hulle is, genade is en wat hulle doen, nie uit hulself kan kom nie. Dis mense by wie ander graag wil wees. By wie hulle wil leer. Die mense wat ander spontaan wil volg. Mag ek en jy elke dag gevul wees met die Een wat só groot is dat Hy bereid was om tussen ons te kom leef. Vir ons te sterf! Mag ons vol word van sý soort grootheid. O Here, maak my dolleeg van myself sodat U deur my leef. Sodat U grootheid sigbaar word.

Hierdie is ’n uittreksel uit Voetpad na Vrede uitgegee deur CUM.


Dink jouself

gelukkig... D r P i e t e r v a n Jaars vel d

D

versus

Depressie aangeleerde hulpeloosheid

r Martin Seligman het ’n groot deel van sy lewe gewy aan die bestudering van aangeleerde hulpeloosheid en pessimisme. Aangeleerde hulpeloosheid is om moed op te gee, wat afkomstig is van die geloof dat niks wat jy doen, saak maak nie. Aangeleerde hulpeloosheid lei tot gevoelens dat jy glad nie in beheer is nie en jy is uit die aard van die saak pessimisties ingestel. As jy in die kloue van so ’n oortuiging is, sal jy maklik depressief raak, nie in staat wees om jou volle potensiaal tuis en by die werk te gebruik nie, en jy sal selfs fisiek meer dikwels siek word. Pessimisme word ’n selfvervullende voorspelling! Seligman word as ’n jong gegradueerde by navorsing oor aangeleerde hulpeloosheid by honde betrokke. Ek gaan jou tog ’n bietjie meer van hierdie navorsing vertel sodat jy kan verstaan dat wanneer iets nagevors word, dit deeglik deur ander navorsers nagegaan word en dikwels ernstig bevraagteken word. Die ander rede waarom ek die navorsing vinnig beskryf, is dat jy die wete kan koester dat as iets met navorsing bewys is, ons gewone mense dit maar gerus kan aanvaar en in ons lewe toepas. Daar lê jare se bloedsweet en kritiek daaragter voordat dit gepubliseer en aanvaar word as die waarheid. Die tegnieke in hierdie boek kom deur jare se navorsing en jy kan dit gerus aanvaar, want iemand anders het sy lewe opgeoffer om dit vir ons as ’n feit te bewys. In 1965 begin Seligman en dr Steven Maier hul navorsing met honde om te bewys dat daar ’n toestand soos aangeleerde hulpeloosheid bestaan ten spyte van hul professore se skeptisisme. Hulle het die honde in drie groepe verdeel. Die eerste deel van die eksperiment het so verloop: Groep 1 het ’n elektriese skok ontvang, maar daar was ’n hefboom wat hulle met hul snoet kon druk en sodoende kon hulle die krag afskakel en die skok stop. Die ander groep het die skok gekry, maar hulle kon dit glad nie stopsit nie. Die derde is wat ons noem ’n kontrolegroep en het geen skokke ontvang nie. Deel 2: Nadat die honde ’n tyd lank aan die skokke blootgestel is, is hulle in ’n ander hok geplaas waar hulle weer aan skokke blootgestel is, maar hulle kon oor die muurtjie spring om die skok te ontsnap. Daar het toe presies gebeur wat Seligman en Maier vermoed het. Die honde wat ingedeel was in die tweede groep waar hulle die skok nie kon afskakel nie, het nie eens probeer om oor die muur te spring nie. Hulle het klaar geleer dat niks wat hulle doen, dinge eintlik kan verbeter nie. Hulle het dus moed opgegee en nie eens probeer om oor die muur te spring nie, hoewel dit moontlik was. ’n Algehele gevoel van hulpeloosheid het dus by hulle ontstaan – die sogenaamde aangeleerde hulpeloosheid. Die ander twee groepe se honde het wel oor die muurtjie gespring om die skokke te vermy. Dit kom dus daarop neer dat honde, ná vele werklike elektriese skokke, heeltemal hulpeloos gevoel het en nie eintlik meer probeer het om uit hul verknorsing te kom nie. So het hulle later soortgelyke navorsing op mense gedoen en dieselfde gevind. Mense voel later ná baie terugslae so hulpeloos dat hulle nie eens meer probeer om uit hul ellende te kom nie. Vandaar die term aangeleerde hulpeloosheid. Wat is kenmerke van aangeleerde hulpeloosheid? “Aangeleerde hulpeloosheid” dui die manier aan waarop jy uit gewoonte aan jouself verduidelik waarom dinge met jou gebeur, veral slegte dinge. Dit kan ook die “verklarende styl” genoem word. Hierdie styl is meer as net die woorde wat jy gebruik wanneer jy misluk of as iets slegs met jou gebeur. Dit is die oortuigings en die denkwyse wat jy gedurende jou kinderjare en adolessensie geleer het. Hierdie denkproses is ’n aanduiding daarvan of mense optimiste of

06


pessimiste is. Seligman sê: “Daar is drie belangrike dimensies van aangeleerde hulpeloosheid van hoe mense dinge sien en verklaar: permanensie, alomvattenheid en verpersoonliking.”

7. gevoelens van waardeloosheid en skuld; 8. verminderde denkvermoë en swak konsentrasie; en 9. selfmoordgedagtes of -optrede.

Permanensie: Pessimistiese mense voel dat daar altyd slegte dinge gebeur en dat dit altyd hul lewe sal beïnvloed. Hulle gebruik sinsnedes soos: “Ek kan nooit van ’n dieet ’n sukses maak nie”. Hulle voel ook dat hulle niks daaraan kan doen nie. Moenie dink dat as ’n optimis misluk, hy nie ook ’n tyd lank hulpeloos voel nie. Maar by hom is dit ’n tydelike situasie. Die pessimis sal dae aaneen hulpeloos voel – dalk selfs maande lank – nadat die kleinste terugslae hom getref het.

Volgens sy navorsing is vyf tot agt van hierdie simptome ook van toepassing op aangeleerde hulpeloosheid. Daar word dus wêreldwyd by mense depressie gediagnoseer wat niks anders as aangeleerde hulpeloosheid is nie. Baie mense drink depressietablette, maar hulle is eintlik pessimisties. As hulle dus hul lewenswyse van pessimisties en aangeleerde hulpeloosheid na ’n meer optimistiese lewenstyl gaan verander, gaan hul hele lewe verander. Nogal iets om op die uitkyk voor te wees. Ek wonder hoeveel medici is hiervan bewus en voer hul pasiënte verkeerdelik pille. By baie pasiënte is daar geensins ’n chemiese wanbalans nie, dit is niks anders as aangeleerde hulpeloosheid nie! Nie alle mense wat deur terugslae getref word, beleef aangeleerde hulpeloosheid nie. Daar is mense wat ten spyte van al die terugslae hoopvol is en besef dat die terugslae tydelik is. Hulle weet dit gaan nie hul hele lewe beïnvloed nie en hulle het in der waarheid beheer daaroor. Hierdie mense is optimiste. Die teenoorgestelde hiervan is pessimisme en negatiwiteit, natuurlik. Daar is dan ook gevind dat pessimiste makliker depressief word, onderpresteer in hul werk en die klaskamer sowel as op die sportveld, en uit die aard van die saak is al hul verhoudings maar ’n bietjie wisselvallig, om dit sagkens te stel. Optimisme beteken dat jy die wêreld aanvaar soos dit is, met sy goed en sy sleg, en dit gaan eintlik daaroor dat die negatiewe ons nie moet oorweldig nie. Pessimiste, daarenteen, glo dat daar probleme is en hulle het geen beheer daaroor nie. Dit is dan ook die rede waarom hulle ’n gordel én kruisbande dra! Optimiste het die geloof dat hulle beheer het oor wat met hulle gebeur. Nou is dit natuurlik duidelik dat as dit aangeleerde hulpeloosheid is, dit ook afgeleer kan word. Hierin lê die hoop vir almal wat voel hulle kan nie meer teen die wêreld se aanslae veg nie. Nee, dit is moontlik. Net soos hulpeloosheid aangeleer is, so kan optimisme aangeleer word. Wonderlike gedagte!

Alomvattendheid: Dit verwys na die manier waarop mense ’n verduideliking van slegte gebeure gee. ’n Pessimis sal dit sien as iets wat elke deel van sy lewe raak, byvoorbeeld: “Dit gaan elke aspek van my lewe ondermyn.” Verpersoonliking: Dit is die neiging om te glo dat jyself slegte gebeure en mislukkings veroorsaak. “Dit is alles my skuld.” Dit lei tot gevoelens van waardeloosheid wat jou selfagting kan beïnvloed. Die pessimis sal ’n slegte gebeurtenis verpersoonlik, byvoorbeeld: “Ek is ’n mislukking” of “Daar skort iets met my, dis waarom die transaksie nie deurgegaan het nie”. Die optimis sal dit as swak tydsberekening beskou of dink die produk is nie wat die koper nodig het nie, sonder om homself onnodig af te kraak. Aangeleerde hulpeloosheid en depressie Seligman verwys na ’n baie belangrike aspek waarvan ons kennis moet neem. Wanneer depressie gediagnoseer word, word daar gewoonlik na die volgende simptome gekyk: 1. depressiewe bui; 2. verlies van belangstelling in gewone bedrywighede; 3. verlies van eetlus; 4. slaaploosheid; 5. psigomotoriese vertraging (stadige denke of beweging); 6. verlies van energie;

Dr. Pieter van Jaarsveld werk plaaslik en internasionaal as konsultant vir leierskapontwikkeling in die sakewêreld. Hy het twee meestersgrade (in Sielkunde en Teologie) en ’n doktorsgraad vir sy tesis oor die selfdunk en eiewaarde van mense. Hy is ’n bekende gas op radio- en televisieprogramme. As jy meer wil weet oor positiewe sielkunde, kry solank sy nuutste boek Dink jouself gelukkig.

07



Sluit aan �y

MANNA Manna is ’n twee-maandelikse publikasie wat tjok en blok vol Woordgebaseerde artikels is. Hierdie is nie net ’n sommer-so geestelike tydskrif nie, maar een wat jou gees sal voed, jou lewe sal verryk en jou verhouding met God sal verdiep.

Sluit aan �y Manna teen R34 elke 2de maand!

Is jy opsoek na ’n geestelike tydskrif wat nie gaan oor lipstiffie, celebrities of resepte nie?

Maar ’n Tydskrif waar elke artikel vir jou geestelike waarheid bring?

’n Reis van ashoop na hoop

’n Tydskrif wat jou leer oor die krag van God se Woord in jou lewe?

Jy sal hierdeur kom! Herinner God aan sy woord

’n Tydskrif waar jy meer lees van God as oor mense?

Depressie versus pessimisme

Sluit aan �y ons op een van die �aniere:

Die vyf tale van die liefde van kinders Jesus ruik na parfuum

Bel 012 9970898 gedurende kantoorure Gaan na www.mannatydskrif.co.za en kliek op ‘sluit aan’. Stuur ’n epos met jou naam en kontakbesonderhede na admin@grootisutrou.co.za

R34.00

Maart - April 2017

Volume 012

SMS “Manna” na 33282


’n Reis van

ashoop na hoop R one ll B e zuid e nhout

Lydenstyd is ’n pelgrimsreis na binne van sterf en weer begin. Van afskeid neem en nuwe kanse. Dit is ’n tyd van afsondering en selfondersoek wat, ná 40 dae, die metaforiese lentebloeisels van ’n nuwe lewe ná ’n winterseisoen aanbied.

D

ink jou dit in – ’n advertensie wat só lui: Was jy nog altyd lus vir ’n pelgrimsreis? Hier is jou kans! Ons vertrek op dag 1 vanaf Ashoop en voltooi ons reis op dag 40 by Hoop. Dit is ’n gulde geleentheid. Moet dit nie misloop nie! Lydenstyd sal nooit weer dieselfde wees nie. Hoewel die verwysing na Lydenstyd dit nie juis laat klink na ’n soort reis wat ék sou wou onderneem nie. Nogal 40 dae lank. En waarom dié roete – tussen Ashoop en Hoop? In die Christelike tradisie word daar dikwels 40 dae voor die Pase ’n geloofsreis onderneem. En dit is die fees wat altyd, sonder uitsondering, op ’n Woensdag begin. Ek was verras om te ontdek dat die 40-dae-tydperk voor Opstandingsondag reeds in die jaar 313 nC as ’n amptelike viering op die Christelike kalender aangedui is.

10

Hoe kan jy immers jou nuwe lewe vier as jy nie weet hoe die ashope in jou lewe jou terughou nie?

Dié dae word só bereken: As jy die ses Sondae voor Paasnaweek vir ’n oomblik buite rekening laat (bloot omdat ’n Sondag nooit as ’n lyding-dag beskou word nie en altyd ’n dag is wat hoop uitbeeld) en dus vanaf die Saterdag ná Jesus se kruisiging 40 dae terugtel, kom jy altyd, sonder uitsondering, by ’n Woensdag uit.

Aswoensdag In die ou tradisie is die palmtakke wat tydens die vorige jaar se Palmsondag geswaai is iewers gebêre. Die verdroogde takke word dan 40 dae voor die nuwe jaar se Paasvieringe tot as verbrand. Op daardie dag (altyd ’n Woensdag) het die gelowiges vroegoggend bymekaargekom en die aanbiddingsleier het met sy duim ’n kruis-merk met die as op elke kerkganger se voorkop aangebring. Vandaar Aswoensdag. En só begin die nuwe reis, op pad na die Pase.


11


Afrikaanssprekendes gebruik die woord “lydenstyd” om hierdie 40-dae-tydperk aan te dui. Engelssprekendes noem dit “lent”, wat ontleen is aan ’n ou Germaanse woord wat beteken “om langer te maak”. Dit word in verband gebring met die winterseisoen wat besig is om vir die nuwe seisoen plek te maak. Die dae begin rek. Aswoensdag is dan die simboliese viering van een seisoen wat voltooi is, wat die ruimte skep vir ’n nuwe een om te begin. Met elk van die daaropvolgende 40 dae wat ons dag na dag nader aan Opstandingsondag bring, is “lent” ’n tyd van ontwaking. En dan nie bloot ’n ontwaking uit die winter nie, maar ook uit ’n geestelike koue. Dit is dus geen wonder dat die gelowiges in die noordelike halfrond dit met ’n ontploffing van affodille en allerhande lenteblomme in die kerkgeboue en katedrale vier nie. Vanaf Aswoensdag, met die sigbare as-merk op elkeen se voorkop, het die Christene die daaropvolgende 40 dae gebruik as ’n innerlike reis van selfontdekking, totdat die nuwe mens op Opstandingsondag saam met Jesus deur die dood breek. Dan is dit soos Paulus dit aan die gemeente in Efese verduidelik: “Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak” (Ef 2:5). Ons vier die lewe! Dit is die fokus van hierdie 40-dae-reis. Dit is ’n reis van sterf en weer begin. Van afskeid neem en nuwe kanse. Van dood na opstanding. Van verbrande palmtakke na lenteblomme. Van Ashoop na Hoop.

Van waar 40? Hoekom het die kerkleiers in die jaar 313 besluit dat dit spesifiek ’n 40 dae lange tydperk moet wees? Eenvoudig: Omdat enige ontwaking in die Bybel altyd deur die getal 40 voorafgegaan is. Getalle het vir gelowiges simboliese

12

waarde, en 40 is die getal wat gewoonlik beproewing of loutering (ook metamorfose) uitbeeld. Deur die swaarkry heen, beur daar nuwe moontlikhede na bo. Kyk maar na die volgende voorbeelde: § Ná 40 dae en nagte se stortreën het die duif die takkie met groenigheid na Noag toe aangedra. § Moses bring 40 dae op die berg deur om God se woorde vir sy volk te ontvang. § Ná 40 jaar se loutering in die woestyn kon die Israeliete die beloofde land se melk en heuning geniet. § Jesus worstel 40 dae en nagte lank met Satan voordat Hy met sy bediening begin. § En 40 dae ná Jesus se dood wag die volgende reis, die hemelsfeer in.

’n Pelgrimsreis is dus altyd ’n oefening in hierwees, bedagwees. Of dit nou die fisiese reis is wat jy onderneem, of die reis na binne Bogenoemde verhale vertel almal van 40 dae, 40 nagte, 40 jaar – voordat daar iets nuuts aanbreek. Voordat die nuwe kom, en nadat die lang worsteling verby is. Omdat ons deel vorm van ’n geloofstradisie wat oor eeue heen strek, gebruik ons steeds dié 40 dae lange simboliese reis. Dit is ’n 40 dae lange reis van nadink en regmaak, wat jou van versletenheid na vernuwing bring. Hoe kan jy immers jou nuwe lewe vier as jy nie weet hoe die ashope in jou lewe jou

terughou nie? Daarom is hierdie 40-daereis steeds baie belangrik. Dit is ’n tyd van afsondering en selfondersoek wat, ná 40 dae, die metaforiese lentebloeisels van ’n nuwe lewe ná ’n winterseisoen aanbied. Die Christelike kerk was deur die eeue heen besonder lief vir reis-metafore. Daar is so baie reisverhale in die Bybel dat ons dit dalk selfs ’n handleiding vir reisigers kon noem! Deesdae stof Christene juis hierdie geloofsgewoonte weer af, nadat dit jare lank afgeskeep is. Daar word weer langs klassieke roetes, onder meer die bekende Camino de Santiago in Spanje, gereis – deur sowel gelowiges as niegelowiges. Dit is asof al hoe meer mense begin besef dat daar persoonlike heling en insig kom gedurende ’n pynlike, lang reis wat te voet afgelê word. Nie alle reise geskied egter te voet nie. Daar is ook die reis na binne. En dit is juis wat die 40-dae-reis van Ashoop na Hoop wil regkry – as ’n ontdekkingsreis vír jouself óór jouself mét jouself. En is dit nie tog wat ’n lang reis met ons maak nie? Mettertyd, nadat al die gesels opgedroog het, sit almal in stilte. En elkeen is met sy of haar eie gedagtes besig. Elkeen bedink die lewe. Pelgrimsreise het as ’n ou geloofsgewoonte die reisiger gedwing om van elke tree bewus te wees. Om bedag te wees, mindful. Jy kan nie dagdroom terwyl jy stap nie, want jy moet die klippe en slaggate voor jou voete raaksien. Daar is gevare wat jou dag en nag bedreig. ’n Pelgrimsreis is dus altyd ’n oefening in hierwees, bedagwees. Of dit nou die fisiese reis is wat jy onderneem, of die reis na binne (oftewel “die pelgrimsreis van ontdekking”, soos John O’Donohue dit noem). Met elke tree moet jy jou eie vrese in die oë kyk, jou slegte gewoontes konfronteer, jou “ekkigheid” raaksien. Soms is die ontdekkings so ongemaklik dat pelgrims hul stapskoene wil weggooi. Soms voel dit asof jy jou kaart verkeerd gelees het.


Maar elke pelgrim ken ook die ander kant. Wanneer die bedompigheid in jou siel in ’n nuwe oopte kan asemskep. Wanneer jou gees ligter word. Een van die bekendste hedendaagse Fransiskaanse priesters, die Amerikaner Richard Rohr, skryf só in die pragtige boekie Wondrous Encounters: Scripture for Lent oor hierdie reis van selfontdekking: “There are two moments that matter. One is when you know that your one and only life is absolutely valuable and alive. The other is when you know your life, as presently lived, is entirely pointless and empty. You need both of them to keep you going in the right direction. Lent is about both.” En dit is hiéroor dat die 40-dae-reis handel: dat jy weet jou lewe is buitengewoon waardevol. Dat jy ook weet soos jý dit leef, jy nie noodwendig daarmee rekening hou dat dit waardevol is nie. En hoe verder jou reis jou neem, hoe meer smag jy na die vervulling van die belofte van ’n profeet wat sê: Moenie bekommerd wees nie! As jy by die volgende kruispad kom, sal daar iemand wees wat jou sal aansê om diékant toe te draai. Daardie stem kan jy net herken as jy diep en deurdag met jouself doenig is. Soos God met jou doenig is.

Spesifieke reisgewoontes Van die vroegste tye af is daar drie spesifieke geloofsgewoontes in hierdie 40 dae se selfondersoek ingeoefen. “Geloofsgewoontes” (sommige mense noem dit geloofsdissiplines) is deesdae ’n baie gewilde woord. Maar wat is dit presies? Eenvoudig: Dit is bloot die hulpmiddels wat gelowiges tot hul beskikking het om die alledaagse weer as heilig te beleef. Om God in alles raak te sien. Hierdie geloofsgewoontes kan jy saam met ander gelowiges beoefen, maar ook wanneer jy alleen is. Hoe kry ’n mens dié gewoontes reg? Hoe leer jy ’n nuwe patroon aan as jy aan die oue gewoond geraak het? Maklik:

Jy herhaal die nuwe gewoonte totdat dit nie meer nuut is nie. Met ander woorde: Geloofsgewoontes word deur herhalende inoefening gevestig. Dit kom later so natuurlik dat jy nie eens meer daaraan hoef te dink nie. Die hóé vir hierdie lydenstyd is alreeds in die 4de eeu voorgestel, en daarom gebruik mense sedertdien hierdie reis van ontwaking as ’n inoefening van dié drie gewoontes: bid, vas, gee. Wonder jy hoe jy ná ’n winterslaap ontwaak? Deur te bid, deur te vas, en deur te gee. Ons almal ken mense wat in hierdie 40 dae sjokolade prysgee, of ophou koffie drink. Waarom? Seker ook omdat dit gesond is … Maar watter nuwe patroon wil jy daarmee inoefen? Jy wil tog nie bloot ’n ou gewoonte laat staan net om dit 40 dae later te hervat nie? Nee, hierdie reis is nie ’n oefening in wilskrag of selfdissipline nie. Dit is ’n reis wat jou dwing om na jou eie verslawings te kyk, na jou toegeklemde hande. Na die boeie wat jou daarvan weerhou om voluit te leef. Voordat jy iets prysgee – wat ons ter wille van ons reis “vas” sal noem – moet jy weet waaraan jy so geheg is. Wat dit is wat jou lewe so ontwrig dat jy nie kans sien om langer met daardie ou leefstyl voort te gaan nie. Die pelgrims wat versigtig met hul skraps kosvoorraad moes omgaan, is deur die hongerpyne herinner aan die rede waarom hulle hierdie reis onderneem. Dat hulle bepaalde dinge prysgee … ter wille van ’n nuwe moontlikheid.

Wat is jou “ter wille van …”? Vir die pelgrim was die reis altyd ’n gebedsaak. Elke tree word ’n gesprek met God. Daar word onder meer gevra: “Hoe word ek wat U bedoel het ek moet wees? Waar weerstaan ek die werk van die Gees om, soos Paulus dit noem, ‘Christusgelykvormig’ te word? Waar weerhou my verknogtheid aan my ego of my vals self

my om tot die gestalte van Jesus te groei?” Ons reis swaar deur die lewe. Dikwels druk ons laste – soms “besittings” genoem – ons plat. Maar jy leer vinnig hoe belangrik dit is om lig te reis. Veral wanneer jy self jou bagasie moet dra. Om van jou laste vry te kom, moet jy begin om vrygewigheid in te oefen. Dit behels egter veel meer as om bloot van jou geld of besittings ontslae te raak. Dit vra ook veel meer as jou goedheid. Want hoe meer jy gee, en hoe ligter word die pad, en hoe ligter jou tred. Totdat jy leer om jouself prys te gee. Dan begin jy verstaan dat Hoop se ander naam Vryheid is. Ek wonder dikwels hoekom dit ons so lank neem om dit te leer. Dalk is dit die rede waarom ons hierdie reis jaar ná jaar moet onderneem. Miskien sal ons, op hierdie manier, ééndag begin onthou hoe ons van Ashoop tot Hoop kom. Augustinus van Hippo het eens gesê dat hoe dieper ons geloof, hoe sterker ons hoop, hoe groter ons begeerte, hoe oper is ons om die geskenk te ontvang. Hoe passievoller die begeerte, hoe waardevoller die vrug. Wanneer die apostel skryf: “Bid sonder ophou” bedoel hy juis dít daarmee: Smag met alles in jou, sonder ophou, dat die lewe van vreugde – wat niks anders as ’n ewige vreugde is nie – aan jou geskenk sal word. Net Hy alleen kan die Gewer wees. Daar is, of daar behoort, slegs een rede te wees waarom jy jou in lydenstyd aan ’n hartsreis verbind, en dit is omdat jy ’n behoefte aan geloofsverdieping het. Maar dit is nie bloot ’n behoefte nie, dit is diepliggender as dit. Dit is eintlik ’n verterende begeerte. Dalk kan jy dit nog nie in presiese taal verwoord nie, maar jy weet dat iets in hierdie reis te make het met jou begeerte na agterlaat en oorbegin. Jy weet dat woorde soos “selfontdekking” en “eerlikheid” stapmaats in hierdie reis is. Dalk het dit met belydenis en vergifnis te maak. Dalk met koersverandering. Ten minste weet jy dat dit ’n reis van herbesinning en herbelyning gaan wees.

13


Die Bybel praat in geen onduidelike taal nie oor God se begeerte dat mense met Hom versoen moet wees. Maar is dit nie bloot kerktaal nie? Kom ons beskryf dit dan anders. Só: God begeer om in jou teenwoordigheid te wees. God begeer dat jy nie met jou rugkant na Hom gedraai leef nie. God kan Hom nie van sy eie begeertes wegkeer nie. Hy kan jou nie prysgee nie! Hieroor gebruik Hosea sterk woorde: God kan nie anders nie. Hoe groter jou geloof, hoe groter sal jou begeerte na God wees. En die lydenstyd het waarskynlik presies hiermee te make: om in jou ’n begeerte aan te wakker – die begeerte na God; die begeerte na heelheid; die begeerte na nuwe kanse; die begeerte om te kan opstaan. Die begeerte na Hoop. Die einste Augustinus skryf ook dat wanneer jy na God smag, jy maar kan weet dat jy nie minder gaan kry as waarna jy smag nie. Jy gaan waarskynlik meer kry. Psalm 27:4 klink só: “Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.” In die 1983-vertaling begin hierdie sinnetjie só: “Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag ...” Dít wat ek begeer, is altyd ook dít wat ek sal najaag. Wetend of onwetend. My “default” is altyd my eie begeerte. My begeertes bepaal my lewe se koers. Die lydenstyd wil ons hart se begeertes ondersoek. Dit wil ons uitdaag om soos die Psalmdigter uit te roep: Ek weet wat ek begeer: net een ding... Sielkundiges leer ons dat daar naas al ons fisiese behoeftes nog twee ander basiese behoeftes is wat deur alle mense gedeel word: die behoefte aan aanvaarding en die behoefte aan bewondering. Ek wil weet dat ek êrens aan iemand behoort; méér: dat daardie mens my geselskap ook nodig het. Ons almal soek na ’n plek waar ons kan voel: Dit is my plek dié. ’n Plek

14

van tuiskoms. Die skrywer van Psalm 27 het geweet wat dit is wat hy soek. Die plek van aanvaarding is ook sy plek van veiligheid. Hy is ’n “iemand” – iemand wat God se goedheid mag beleef.

Dit is dít wat jy teen die einde van hierdie reis ook kan verwag. Om jou daaraan te herinner dat jy weer ’n keer ’n kans op vernuwing kry As jy aan die begin van hierdie reis nog nie presies weet wat dit is waarna jy smag nie, maak dít dan jou gebed. Ons lewe met soveel verskeurdheid, soveel dubbele boodskappe, dat ons selde met duidelikheid kan sê dat ons presies weet wat ons wil hê. Moderne mense het soveel keuses uit soveel moontlikhede dat dit vir hulle moeilik is om te dink dat jy net een kan kies. Want sê nou jy kies ... en jy kies verkeerd? Maak ook dit jou gebed. Selfs as jy voel dat jy juis nie op ’n plek in jou lewe is waar jy enigsins in aanraking met jou eie begeertes is nie. Maak dan selfs dít jou gebed. Jaag juis dít na. Die vraag bly: Wat is die een ding wat jy, met alles in jou, in hierdie tyd wil najaag? Een manier hoe jy weer in voeling met jou diepste begeertes kan kom, is om ’n boekie by jou te hê – langs die bed, in die badkamer, in die motor, waar ook al – sodat jy elke keer ’n woord of gedagte wat by jou opkom kan neerskryf. Maak dit die laaste ding wat jy saans doen, en die eerste ding wat jy in die oggend doen. Soek daardie een ding wat jy begeer.

Die kruis op jou voorkop Die een ding wat ’n lydenstyd-reis ’n mens leer is dat God die God van tweede en derde en vierde kanse is. Die God van Nuutbegin. Dit is wat elke sonsopkoms beteken. Wat elke Sondag beteken. Daarom mag jy nie by gister se afdwaal vashaak nie. Beskou dit dus as ’n voorreg dat ons, jaar na jaar, met ’n 40 dae-lydenstyd-reis kan begin. Wat verby is, kan begrawe word. Daar is altyd die hoop op nuwe moontlikhede. Daar is altyd die hoop om Hoop jou bestemming te maak. Dit alles vra wel van jou om eerlik na ou, slegte lewenspatrone te kyk. Om ou gewoontes af te sterf, is swaar; die dood veronderstel immers altyd ’n rouproses. Maar wat ons rouproses anders maak, is dat ons weet dat die uiteinde ’n geboorte is, nuwe lewe. Dit is dít wat jy teen die einde van hierdie reis ook kan verwag. Om jou daaraan te herinner dat jy weer ’n keer ’n kans op vernuwing kry, gebruik die ritueel wat tradisioneel op Aswoensdag gebruik word: Verbrand ’n paar droë takkies of blare. Dié proses gee jou reeds die geleentheid vir ’n gebed, sodat jy ’n naam kan gee aan dit wat jy wil agterlaat. Nou kan jy een van jou vingers (tradisioneel is dit die duim) in die as druk, en dan daarmee ’n kruis op jou voorkop of op jou hand trek. Moet dit tog nie te gou wil afwas nie! Kyk in die spieël daarna. Laat neem ’n foto, of neem ’n selfie, sodat jy dit die heeltyd as ’n herinnering kan gebruik. Dat dit vir jou sê: Dit is waar ek vandaan kom, met as op my hoof. Ek is op pad na die opstanding. Jy sou dit ook in die daaropvolgende dae kon herhaal, om daarmee simbolies te sê: Ek weet waarheen ek op pad is. Manna

Hierdie is ’n verwerking uit 40 dae tot Hoop deur Ronell Bezuidenhout. Sien bladsy 42 vir meer details asook ’n resensie.


SA se eerste

p�itief-dink tydskrif ’n Reis van ashoop na hoop Jy sal hierdeur kom! Herinner God aan sy woord Depressie versus pessimisme Die vyf tale van die liefde van kinders Jesus ruik na parfuum

R34.00

Maart - April 2017

Volume 012

Manna digitaal – R30 elke 2de maand

Kry Manna op jou foon!

Om in te teken op Manna-digitaal sms Manna na 33282 en ons skakel jou!


16


Jy sal

hierdeur kom! Max Luc a d o

Jy sal hierdeur kom. Dit sal nie pynloos wees nie. En dit sal nie gou wees nie. Maar God sal hierdie ellende ten goede gebruik.

S

y het gebewe, ’n innerlike siddering wat ek kon aanvoel toe ek my hand op haar skouer sit. Ek het haar in ’n supermark raakgeloop nadat ek haar maande lank nie gesien het nie. Ek het verneem na haar kinders en haar man… en haar oë het vol trane geskiet en die storie het oor haar bewende lippe gerol. Hy het haar verlaat. Ná ’n huwelik van twintig jaar, drie kinders en ’n stuk of twaalf verhuisings. Gelos. Ingeruil vir ’n nuwer model. Sy het hard probeer om haar selfbeheersing te behou, maar dit was ’n vergeefse stryd. Die varsprodukte-afdeling het so effens skuiling gebied en daar in die supermark, tussen die tamaties en die kropslaai, het die trane geloop.

Nogtans het hy nooit moed opgegee nie. Bitterheid het nooit sy tol geëis nie

Ons het gebid. Toe het ek gesê: “Jy sal hierdeur kom. Dit sal nie pynloos wees nie. En dit sal nie gou wees nie. Maar God sal hierdie ellende ten goede gebruik. In die tussentyd moet jy nie dom dinge doen of naïef wees nie. Maar jy moet ook nie moed opgee nie...met God se hulp sal jy hierdeur kom.” Twee dae later het ’n vriend my gebel. Hy is afgedank. Die afdanking was sy eie skuld. Hy het onnosele, ontoepaslike opmerkings gemaak by die werk. Kru, beledigende stellings. En sy baas het hom in die pad gesteek. Nou was hy ’n sewe-en-vyftigejarige werklose direkteur in ’n swak ekonomie. Hy het ellendig gevoel en nog slegter geklink. Sy vrou was kwaad. Die kinders verward. Hy het gerusstelling nodig gehad en ek het vir hom gesê: “Jy sal hierdeur kom. Dit

17


Op die regte tyd en op die regte manier sal Hy dieselfde vir jou doen.

18

sal nie pynloos wees nie. En dit sal nie gou wees nie. Maar God sal hierdie ellende ten goede gebruik. In die tussentyd moet jy nie dom dinge doen of naïf wees nie. Maar jy moet ook nie moed opgee nie... met God se hulp sal jy hierdeur kom.” Voorbarig van my, nè? Hoe kon ek dit sê? Waar het ek die moed vandaan gekry om so ’n belofte tydens ’n tragedie te maak? In ’n put, as jy dan moet weet. ’n Diep, donker put. Met steil wande waarteen die seun nie kon uitklim nie. En as hy dit dalk kon regkry, sou sy broers hom net weer teruggestamp het. Want dit was húlle wat hom daarin gegooi het. Josef het skaars by sy broers aangekom of hulle trek sy klere uit, die lang klere met moue wat hy aangehad het, en vat hom en gooi hom in die put. Dit was ’n droë put, sonder water. Daarna het hulle gaan sit en eet. ~ Genesis 37:23-25 Dit was ’n verlate waterput. Teen die steil wande het skerp rotse en boomwortels uitgesteek. Die sewentienjarige seun het op die bodem gelê. Donsige baard en skraal arms en bene. Sy hande en enkels was vasgebind. Hy het op sy sy gelê, sy bene teen sy bors opgetrek in die beknopte ruimte. Die sand was nat van die spoeg wat by sy mond uitgeloop het. Sy oë was stokstyf van vrees. Sy stem hees van al die geroep. Dit was nie dat sy broers hom nie gehoor het nie. Twee-en-twintig jaar later, hul grootdoenery getemper deur hongersnood en hul hoogmoed uitgedoof deur skuldgevoelens, sou hulle erken: ‘Ons het sy angs gesien toe hy ons om genade gesmeek het, maar ons het nie geluister nie’ (Gen 42:21). Hierdie manne was die agterkleinkinders van Abraham. Die seuns van Jakob. Koeriers van God se verbond aan ’n magdom mense. Stamme sou hul baniere dra. Die Naam van Jesus Christus sou in hul stamboom opgeteken word. Hulle kon hul eie TV-program gehad het! In die skadu van ’n vyeboom, binne

hoorafstand van Josef se hulpkrete, het hulle gaan sit en gesmul aan wildsvleis en die wynsak vir mekaar aangegee. Wreed en agterlik. Hul harte so hard soos die Kanaänitiese woestyn. Hul mae was vir hulle belangriker as hul broer. Hulle kon die seun nie voor hul oë verdra nie... ‘hulle het ’n afkeer van Josef gekry en ...niks goeds oor hom gesê nie...Daarna was hulle afkeer van hom nog groter... het hulle ’n nog groter afkeer van hom gekry...Sy broers was afgunstig op hom’ (38:4-11). Josef het nie geweet wat hom gaan tref nie. Hy het nie die oggend uit die bed opgestaan en gedink: Ek moet dalk beskermende klere aantrek, want vandag is die dag dat ek in ’n put gegooi gaan word nie. Die aanval het hom onkant betrap.

God die Meesterwewer. Hy het die verhaal van Josef goed laat eindig. Kan Hy nie jou verhaal ook goed laat eindig nie? Dieselfde met jou. Josef se put het in die vorm van ’n waterput gekom. Joune kom dalk in die vorm van ’n diagnose, ’n pleeghuis of ’n traumatiese besering. Josef is in ’n put gegooi en verag. En jy? In die ry van werkloses vergeet. In ’n egskeiding gegooi en verlaat, op ’n bed gegooi en aangerand. Die put. ’n Soort dood, waterloos en harteloos. Sommige mense kom nooit daaruit nie. Die lewe word gereduseer tot een soektog: Kom hieruit en moenie weer seerkry nie. Maar


dis nie so eenvoudig nie. ’n Put het nie ’n maklike uitgang nie. Nóg erger dinge het in Josef se verhaal gebeur voordat dit uiteindelik beter gegaan het. Nadat hy aan sy lot oorgelaat is, het slawerny gevolg, toe is daar vir hom ’n strik gestel en uiteindelik het hy in die tronk beland. Hy is aangerand. Om die bos gelei. Mishandel. Mense het beloftes gemaak en verbreek, geskenke aangebied en teruggetrek. Nogtans het hy nooit moed opgegee nie. Bitterheid het nooit sy tol geëis nie. Woede het nooit in haat verander nie. Sy hart het nooit verhard nie; sy vasberadenheid nooit gewyk nie. Hy het nie net oorleef nie; hy was suksesvol. Hy het boontoe gebeur, soos ’n ballon vol helium. Die Egiptiese amptenaar het hom bevorder tot hoof van sy huishouding. Die tronkbewaarder het hom in beheer geplaas van al die gevangenes. En die farao, die grootste heerser op die planeet, het Josef gekies om sy eerste minister te wees. Aan die einde van sy lewe was Josef die tweede invloedrykste man van sy generasie. Dit is nie ’n oordrywing om te sê dat hy die wêreld van hongersnood gered het nie. Hoe het hy dit reggekry? Hoe kon hy floreer te midde van al die droewige gebeurtenisse? Ons hoef nie daaroor te bespiegel nie. Ongeveer twintig jaar later is die bordjies verhang; Josef was nou die sterk een en sy broers die swakkes. Hulle het vreesbevange na hom toe gekom, hulle was bang hy sou met hulle afreken en hulle in ’n put gooi wat hy self gegrawe het. Maar Josef het nie. En in sy verduideliking vind ons sy inspirasie: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het. ~ Genesis 50:20. In God se hande word wat ten kwade bedoel is, uiteindelik goed. Josef het homself vasgebind aan die steunpilaar van hierdie belofte en met alle mag daaraan vasgeklou. Niks in hierdie verhaal verdoesel

die teenwoordigheid van boosheid nie. Net mooi die teenoorgestelde. Daar is oral bloed- en traanvlekke. Josef se hart was rou geskuur teen die rotse van dislojaliteit en onregverdigheid. Maar God het hom keer op keer vergoed vir die seerkry. Die geskeurde kleed het ’n koninklike kleed geword. Die put het ’n paleis geword. Die gebroke gesin het saam oud geword. Dit was juis die dade wat bedoel was om God se dienskneg te vernietig wat hom op die ou end sterk gemaak het. “Julle wou my kwaad aandoen,” het Josef vir sy broers gesê en ’n Hebreeuse woord gebruik waarvan die betekenis teruggespeur kan word na om te “weef ” of te “vleg”. “Julle het boosheid geweef,” het hy gesê, “ maar God het dit ten goede herweef.”

Maar God het hom keer op keer vergoed vir die seerkry. Die geskeurde kleed het ’n koninklike kleed geword. Die put het ’n paleis geword God die meesterwewer. Hy span die garing en verweef die kleure, vermeng die toiingrige tou met die fluweeldrade, die pyn met die vreugde. Niks kan Hom ontkom nie. Elke koning, tiran, weerpatroon en molekule staan onder sy gesag. Hy skuif die weefspoel heen en weer oor die generasies, en terwyl Hy dit doen, kom daar ’n patroon te voorskyn. Die vyand weef; God herweef. God die Meesterwewer. Hy het die

verhaal van Josef goed laat eindig. Kan Hy nie jou verhaal ook goed laat eindig nie? Jy sal hierdeur kom. Jy is bang jy sal dit nie kan doen nie. Ons is almal bang. Ons is bang dat die depressie nooit sal lig, die gegil nooit sal ophou, die seerkry nooit sal weggaan nie. Hier in die diepste put, omring deur steil wande en woedende broers, wonder ons: Sal hierdie grys lug ooit weer blou word? Hierdie las ooit ligter raak? Ja! Want God het beloof dat as jy deur water moet gaan, is Hy by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie. Dit sal nie pynloos wees nie. Het jy al jou laaste traan gestort of jou laaste ronde chemo gehad? Nie noodwendig nie. Sal jou ongelukkige huwelik in ’n oogwink gelukkig word? Dis onwaarskynlik. Is jy vrygestel van alle begrafplaasuitstappies? Waarborg God die afwesigheid van swaarkry en ’n oorvloed van krag? Nie in hierdie lewe nie. Maar hy beloof wel om jou seerkry vir ’n groter doel te herweef. Die verhaal van Josef is om hierdie rede in die Bybel: Om jou te leer om God te vertrou om die kwaad te troef. Wat die vyand ten kwade bedoel, laat God, die Meesterwewer, ten goede afloop. Josef sal die eerste wees wat jou vertel hoe sleg die lewe in die put is. Maar ten spyte van die aakligheid, doen die put iets. Dit dwing jou om opwaarts te kyk. Iemand van daar bo moet afkom na hier onder om jou te kom help. God het dit vir Josef gedoen. Op die regte tyd en op die regte manier sal Hy dieselfde vir jou doen. Manna

Hierdie is ’n verwerking uit Jy sal hierdeur kom! deur Max Lucado. Sien bladsy 42 vir meer details asook ’n resensie.

19


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.