Manna Volume 20

Page 1

Die name van God Genade onbeskryflik groot Die pad wat na die lewe lei Is God se wil vir jou ’n raaisel? Is julle reg vir ’n langtermynverhouding? Spreek seën oor jou kinders se lewe

R39.50

Volume 20


Here, U sien dwarsdeur my, U ken my. Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit. U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend. Daar is nog nie ’n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees. U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip. Waarheen sou ek vlug om aan U teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei U hand my, hou U my regterhand vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig. Psalm 139



Gary & Rhona Kieswetter

Op Hom sal ek

W

anneer Dawid voel sy omstandighede raak te veel vir hom, doen hy ’n interessante ding. Hy begin met homself praat! Soms is dit nodig dat ’n mens jouself moet aanspreek want dit gebeur so maklik dat ons in negatiwiteit verval. So asof ons nie ’n God het nie! Maar wat sê hy vir homself om te doen? In Psalm 43 skryf hy: “Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Waarom so hartseer? Vertrou net op God. Ek gaan Hom nog loof, al kry ek swaar. Dit is Hy wat my uit my swaarkry red. Hy is my God.” Die oorspronklike taal sê: He is the health of my countenance. Hy verklaar dat sy God sy genesing is en dat hy gaan kies om sy vertroue slegs in God te plaas. Dit is ook hoekom hy vir homself sê dis nie nodig om so hartseer en moedeloos te word nie, want sy God is in staat om hom te red en te genees. Hy verklaar ook sommer dat hy weer ’n tyd van lofprysing sal beleef al gaan dit nou swaar. Dit is baie interessant dat die woord “health” se betekenis Yeshua is wat verlossing beteken. Yeshua in Hebreeus is ’n afleiding van die woorde – om te red en om te bevry. Elke keer in die Ou Testament wanneer die woord “redding” (salvation) gebruik word is dit die woord Yeshua. Ons weet dat Jesus se Hebreeuse naam Yeshua is. Hoe wonderlik is dit nie dat reeds in die Ou Testament wanneer mense na God verwys het, Jesus die Messias reeds genoem word nie. God wou hê dat ons weet dat selfs die Ou Testamentiese mense ook hulle vertroue in Jesus geplaas het nog lank voor Hy aarde toe gekom het.

vertrou

Selfs in Psalm 62:2 skryf Dawid: “Net by God kan ek rustig wag, van hom kom my verlossing.” Daar is vrede in wag wanneer ons dit doen met ons oë gevestig op Jesus ons verlosser. Die woord “verlossing” word in die King James vertaal as victory wat se oorspronklike betekenis ook Yeshua is. Dit ontneem situasies van angs, benoudheid en vrees wanneer ons weet dat ons weet dat Jesus ons redder en oorwinning is. In Psalm 9:15 sê Dawid: “Ek sal juig oor U heil. Weereens is die woord “heil” ook Yeshua wat verlosser of Jesus beteken! In Psalm 91:16 sê God vir ons: “Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.” God sê Ek sal dié wat by my skuil vir Jesus laat sien! Wat ’n wonderlike gedagte dat wanneer ons onder sy vlerke vertoef, Hy Jesus meer en meer aan ons openbaar. In Jesaja 62 verwys die skrif na Jesus in vers 11: “Sê aan die dogter van Sion: ‘Kyk, jou heil kom’”. Jou Jesus kom! Jesus ons verlosser, ons geneesheer, ons oorwinning, ons vrymaking het gekom. Wanneer ons hierdie dinge benodig, kan ons met groot vrymoedigheid na Hom toe gaan vir hulp. As hulp in benoudheid, is Hy in ’n hoë mate beproef gevind. Dit sal nie die eerste keer wees was Hy iemand help nie. Sy naam beteken verlosser, redder, geneesheer en oorwinnaar. En Hy was van altyd af daar, deel van die Godheid. Jesus is die Reddingsplan van God. Dalk het jy nodig om vandag jouself aan te spreek en te sê: Hou op moedeloos wees, plaas jou vertroue op Jesus, beter dae is op pad. Jesus is my redder, Hy gaan my uit hierdie swaarkry red. Hy is my God en op Hom sal ek vertrou!


GEESTELIKE KOS VIR JOU SIEL

Volume

20

Kyk die lewe in die oë

06

Die name van God

In God se oë bestaan daar nie ’n topklas – dié wat met hul kop hoog kan loop – en ’n laerklas – dié wat heeltyd moet afkyk – nie.

Genade onbeskryflik groot

16

Spreek seën oor jou kinders se lewe

Genade beteken daar is niks wat ons kan doen dat God ons méér sal liefhê nie. Daar is ook niks wat ons kan doen dat God ons mínder sal liefhê nie.

Is julle reg vir ’n langtermynverhouding?

26

Julle leer mekaar nog eers ken. Nou moet julle die gesprek hê, wat eintlik ’n onderhoud is, of julle verhoudingsmaats gaan word. MANNA Inskrywings: www.mannatydskrif.co.za

10

Ons kan God op nuwe maniere ervaar deur sy name en titels in die Skrif te ontdek.

22

Wat is jou erflating aan die volgende geslag? Dit is nie genoeg om dit te dink nie, jy moet dit sê.

Is God se wil vir jou ‘n raaisel?

32

Die pad wat na die lewe lei

36

God se wil gaan nie oor ’n paar krisissituasies of spesiale gebeurtenisse in jou lewe waarvoor jy skielik ’n Goddelike opinie benodig nie.

Om God se pad met jou lewe te loop is nie ’n vanselfsprekende besluit nie. Die pad is nie eenvoudig nie en dit vra alles van jou.

Redakteurs: Gary en Rhona Kieswetter Uitgewer: Ingrid Stegmann / ingrid@dor22.co.za

Grafiese ontwerp & uitleg: Adri de Bruyne Ontwerpelemente: Freepik.com Fotos: Shutterstock


Geloofsmuur As jou gebede nie beantwoord word so� wat jy verwag het, volgens jou werkplan nie, moenie bitter voel nie. Moenie mismoedig word nie. Laat dit gaan. God het iets beters, iets groters vir jou toekoms.

My verwagting van U is groot Here. Ek raak ontslae van alle twyfel, negatiwiteit, teleurstellings, selfbejammering, onbenullige drome, klein doelwitte, en daarmee, Here, maak ek plek vir ’n vloedgolf van U goedheid!

God het jou aanvaar en het jou liefgehad nog voordat jy iets reg gedoen het.

Here, help my om hierdie negatiewe gedagtes afgeskud te kry. Ek wil nie ’n Christen sonder oorwinning wees nie. Ek wil leer dink soos iemand wat weet dat alles sal ten goede meewerk vir die wat God liefhet.


O�vou deur genade

Ma llory La rse n

Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Efesiërs 3:18

K

Begryp die onbegryplike

an jy jou voorstel hoe diep die see is, hoe hoog die hemel is en hoeveel sterre ons uitspansel bedek? Daar is dinge in hierdie wêreld wat ons verstand eenvoudig nie ten volle kan begryp nie. Van al daardie dinge behoort God se liefde vir ons egter een van die kragtigste dinge te wees om te begryp.

Hoeveel verskillende diere of kleure dink jy bestaan daar in die skepping? Ons dink dalk ons weet, maar ons kan nie seker wees nie! Ons dink dalk ons kan in woorde beskryf hoe innig God ons liefhet, maar dit is waarskynlik ’n sentimeter meer as ons beskrywing (en dan nog ’n sentimeter en ’n meter en dan nog meer). Om God se liefde vir elkeen van ons te verstaan, vereis dalk dat ons moet erken hoe ondeurgrondelik iets so groot, diep en ryk regtig is. Kan jy sê hoe breed, lank en diep God se liefde vir jou is? Want ek is seker dit is nog breër as dit – en ’n bietjie langer, hoër en dieper ook.

Hierdie is ’n uittreksel uit Dagstukkies vir Jongvroue deur Mallory Larsen.


Padkaart -

�piritualiteit R o n e l l B e zu i den h o u t

Kyk die lewe in die oë In God se oë bestaan daar nie ’n topklas – dié wat met hul kop hoog kan loop – en ’n laerklas – dié wat heeltyd moet afkyk – nie. Die Bybel vertel ons nêrens waarom daardie vrou in Lukas 13 vir 18 jaar lank krom deur die lewe gegaan het nie. En dalk mis ons baie van die storie as ons die siekte te vinnig as ruggraat-verkromming diagnoseer. Ja, waarskynlik wás dit haar probleem. Maar hoekom was dit vir Lukas so belangrik om juis hierdie storie te vertel? Daar was tog sekerlik ’n klomp ander gesondmaak-stories ook? Ek bedoel: om iemand darem te laat sien! Dít is ’n oorvertel-storie. Om iemand wat melaats is, gesond te maak en na die skare terug te stuur – dít is ’n oorvertel-storie. Daar is báie buitengewone siektes wat, as dit genees sou word, mense se asem sou wegslaan. Wat is nou so buitengewoon daaraan om te sê, soos Jesus vir daardie vrou: “Loop regop”? Daarom vermoed ek dat daar iets in hierdie storie is wat nie misgelees moet word nie. Kyk gou hier: § Dit was ongehoord dat Jesus die genesing op die sabbat doen. § Dat Jesus boonop ’n vróú op daardie sabbatdag genees het, was beslis buitengewoon. § Dat Jesus ’n vrou op die sabbat genees, en boonop een met “afgebuigde oë”, iemand wat die mense rondom haar nooit in die oë kon kyk nie – dit maak dit meer as bloot ’n wonderwerk. Dit is ’n genade-verhaal. Hoekom, wonder ek, raak die storie my so diep? Waarskynlik is dit omdat ek soveel mense rondom my sien wat met afgebuigde oë leef. Ek sien soveel mense wat krom deur die lewe gaan. Wat gebukkend leef. Ek weet dat dit soms onsself is wat ons rug so krom hou. Wat sukkel om regop te leef omdat ander mense nie hul goedkeuring aan ons gegee het nie. Wanneer die twyfel aan onsself ons afrem, asof daar ’n swaar vrag op ons skouers rus. Ons wat net nooit goed genoeg is nie … Daarom soek ons daardie mense uit wat ons ’n bietjie beter oor onsself kan laat voel. Hulle moet ons oor en oor gerusstel. Maar… ons glo hulle nooit rêrig nie. Ons selftwyfel hou ons steeds afgebuig. Ons is, so reken ons, nie regtig die moeite werd nie. Soms voel dit asof die wêreld ons wil versmoor. Ons longe kry nie lug nie. Alles trek toe. En soms sukkel ons om die wêreld in die oë te kyk omdat ons gebukkend onder ’n vrag verantwoordelikhede steier. Dit kos báie om ’n spesifieke leefstyl in stand te hou… Dit weet ek maar te goed. Jy sou só graag wou uitbreek – maar wat dan van al daardie dinge wat jy sal moet prysgee? Soms is daar die vrag teleurstellings wat net nie neergesit kan word nie; jy kom net nie los van jou verydelde verwagtinge nie. Ook bitterheid kan ’n mens láág afdruk, en die swaar las van skuldgevoelens ook. Thomas Merton skryf van “those fine strings and strands of tension that bind you”. En dikwels is ons bloot vasgevang in die tirannie van ons eie dryfkrag… Waarskynlik is daar iets wat erger is as ons koponderstebolewe: die feit dat daar mense is wat vanweë óns doen en late gebukkend deur die lewe gaan. Ja, soms is dit juis óns

06


wat die oorsaak is dat mense nie met vrymoedigheid kan (of wil) opkyk nie, dat hulle nie hul naaste in die oë kan kyk nie. Soveel mense leef koponderstebo omdat ander mense, mense soos ons, hulle aan hul menswaardigheid laat twyfel. In ’n pragtige boek op my rak, Aliens in the household of God, skryf emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu in die voorwoord dat daar soveel mense in hierdie wêreld is wat twyfel of hulle in God se huishouding welkom is. Bloot omdat hulle “anders” is. Die boodskap wat hulle so gereeld kry, is dat hulle nooit “reg” sal wees nie. Bloot omdat hul situasie nooit gaan verander nie. ’n Lewe van afkyk, ’n bestaan waarin jy nooit jou kop oplig nie, is dalk die ergste soort leef. Die een op die draagbaar kry jy jammer; die blinde word aan die hand gelei. Maar wat is erger as mense wat by jou verbyloop asof jy nie bestaan nie? Ek wonder of Jesus dalk aan ’n ander teks gedink het daardie dag toe hy die vrou met die krom rug laat regop kom het. Hy was immers ’n Joodse rabbi, wat die wet en die profete goed geken het. Hy sou onthou het hoe Moses aan die volk dié riglyn gegee het: “Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie. Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte” (Deut 10:17-19). Die feit dat God vir niemand partydig is nie, is waarskynlik ’n belangrike rede waarom Lukas die krom vrou se verhaal oorvertel het. Hiermee wou hy iets oor Jesus sê. Kyk, in die ou tyd het die slawe op die mark gestaan, koponderstebo, en dan het die potensiële slawekoper die slaaf waarin hy belangstel met ’n stokkie op die skouer geslaan – g’n beskaafde mens raak aan ’n slaaf nie! – en eers dán mag die slaaf sy kop oplig. Moses leer ons dat God niemand koponderstebo voor Hom laat staan nie. Niemand leef met afgebuigde oë waar Hy is nie. Só hoor ek ook vir Jesus sê: “Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie… Nee, Ek noem julle vriende…”

’n Lewe van afkyk, ’n bestaan waarin jy nooit jou kop oplig nie, is dalk die ergste soort leef. God is vir niemand partydig nie. Almal mag kop omhoog leef. En dit is óns taak om dit te help verseker. § Sukkel jy om jou kop op te lig? Die vrou in Lukas 13 het ook. Tot op daardie sabbatdag. § Ken jy iemand wat só leef ? Leef jy in ’n gemeenskap wat mense dalk so afkyk-afkyk laat leef ? Protesteer jy daarteen, soos Jesus sou?

Gebed: Here, U kyk my vas in die oë, net soos U dit van my ook vra.

Kry Ronell Bezuidenhout se nuutste boek: 40 dae tot hoop - ’n Reis deur Lydenstyd

07


Die lewe is ’n balans tussen vashou en laat gaan.


Sluit aan �y

MANNA Manna is ’n twee-maandelikse publikasie wat tjok en blok vol Woordgebaseerde artikels is. Hierdie is nie net ’n sommer-so geestelike tydskrif nie, maar een wat jou gees sal voed, jou lewe sal verryk en jou verhouding met God sal verdiep.

Sluit aan �y Manna teen R39.50 elke 2de maand!

Is jy opsoek na ’n geestelike tydskrif wat nie gaan oor lipstiffie, celebrities of resepte nie?

Die name van God

Maar

Genade onbeskryflik groot

’n Tydskrif waar elke artikel vir jou geestelike waarheid bring?

Die pad wat na die lewe lei

’n Tydskrif wat jou leer oor die krag van God se Woord in jou lewe?

Is God se wil vir jou ’n raaisel?

’n Tydskrif waar jy meer lees van God as oor mense?

Is julle reg vir ’n langtermynverhouding? Spreek seën oor jou kinders se lewe

Sluit aan �y ons op een �an die �aniere: Gaan na www.mannatydskrif.co.za en kliek op ‘sluit aan’. SMS “Manna” na 33282

R39.50

Volume 20


Genade

onbeskryflik

Nina S mi t

groot

Genade beteken daar is niks wat ons kan doen wat sal maak dat God ons méér sal liefhê nie. Daar is ook niks wat ons kan doen wat sal maak dat God ons mínder sal liefhê nie.

I

n sy boek Captured by Grace teken David Jeremiah ’n pragtige prentjie van genade: ’n Vuil, verflenterde bedelaar druk sy neus teen die venster van ’n bekende restaurant. Hy ruik die heerlike geure wat deur die oop deur na buite sweef. Hy het geen werk nie, geen geld nie, geen skuilplek nie, en geen hoop nie. Sy maag grom van die honger terwyl hy kyk hoe die welgeklede besoekers hul biefstuk en kreef met oorgawe geniet.

Dit is die beste – en duurste – restaurant in die stad. Daar is geen manier waarop dié bedelaar ooit daar ’n maaltyd sal kan geniet nie. Hy sien hoe een van die kelners nader kom om hom weg te jaag. Maar skielik glimlag die kelner vir hom. Hy is nie kwaad nie; die bedelaar kan sien dat die kelner hom innig jammer kry. “Ek het vir jou ons gewildste maaltyd gebring,” sê 10

God se genade vir jou raak immers nooit op nie. Hy het die wêreld se geduld met jou

hy en oorhandig ’n bord vol heerlike kos aan die oorblufte bedelaar. Die bedelaar kan sy oë nie glo nie, en hy haal sy laaste paar sente uit sy sak om vir die kos te betaal. Maar die kelner wuif die muntstukkies weg. “Sit jou geld weg,” lag hy. “Dié maaltyd is gratis. Die eienaar het jou deur die venster gesien. Hy weet dat jy nooit ’n maaltyd in ons restaurant sal kan bekostig nie. Daarom stuur hy vir jou hierdie kos heeltemal gratis. Kom gerus terug wanneer jy weer honger is.” Voordat jy kan besef hoe groot God se genade vir mense is, moet jy bewus wees van hoe groot die mensdom se sonde is. Dit is sekerlik die rede waarom John Newton se onsterflike lied “Genade, onbeskryflik groot” so ’n groot impak het op almal wat dit hoor. John Newton was van jongs af ’n goddelose mens. Hy het daarmee gespog dat hy, nog voordat hy twintig jaar oud was, nooit ’n uur in iemand se geselskap deurgebring het sonder om daardie persoon tot in die verderf te verlei nie.


11


David Jeremiah vertel in Captured by Grace dat Newton in 1754 in ’n brief geskryf het: “My daaglikse lewe het uit die ergste godslastering en vloekwoorde bestaan. Ek dink nie ek het sedertdien al iemand ontmoet wat so blatant godslasterend was nie. Ek was nie tevrede met die gewone gevloek en geswets nie; ek moes elke dag nuwes uitdink.” Later het John Newton ’n berugte slawehandelaar geword, en duisende slawe het in haglike omstandighede op sy slaweskepe gesterf. Dit het voortgeduur totdat hy een nag byna in ’n storm verdrink het. Hy het die Here belowe dat hy sy lewe sou verander as die Here sy lewe sou red. Hierna het John Newton die bekende “Amazing Grace” geskryf, ’n lied wat die hele wêreld se verbeelding aangegryp het. Die rede waarom John Newton God se genade in sy lied so raak kon beskryf, is juis omdat hy aan die ontvangkant van daardie genade was.

Skandalige genade In sy boek Finding God in Unexpected Places praat Philip Yancey oor God se “skandalige” genade. God loop ’n reuserisiko om sy genade vooruit vir ons aan te bied, skryf hy. Hy waarborg dat Hy ons sonde sal vergewe sodra ons dit bely. En God se genade vir jou raak nooit op nie – Hy is altyd bereid om jou weer en

weer te vergewe. Geloof in dié God wat vir ons sy genade aanbied, maak ook vir ons die hemel moontlik. God se genade is soos water, het iemand geskryf. Net soos water altyd na die laagste gebied vloei, skenk God sy genade aan dié wat dit die minste verdien. Terwyl Jesus op aarde was, het Hy sy genade oorvloedig uitgedeel aan dié wat die uitgeworpenes van die samelewing was. Vir prostitute en tollenaars, Samaritane en melaatses het sy genade ’n werklikheid geword. Maar Hy het nie geskroom om belangrike mense in die samelewing, soos die skrifgeleerdes en die Fariseërs, te berispe nie.

Onkeerbare genade Ons kan God se genade nie keer nie. Maar sommige mense kan hierdie ongelooflike genade van God nie hanteer nie – veral nie as dit ander mense is wat daardeur bevoordeel word nie. Ons wil hê ander mense moet kry wat hulle verdien, solank dit nie van ons waar hoef te wees nie. Onthou altyd dat jy nie alleenreg op God se genade het nie. Dit is vir álle mense beskikbaar. God boer met genade is die naam van een van Murray Janson se vele boeke. God saai inderdaad sy genade met ’n oop hand, met roekelose liefde, in sy kinders se lewe. Hy bied dit gratis vir jou aan. Wat gaan jy daarmee maak?

Onverdiende genade Nie een van ons staan ooit met skoon hande voor God nie. Ons almal kwalifiseer egter vir sy genade. Om God se genade in ontvangs te kan neem, is daar twee dinge wat jy moet besef: Jy is ’n sondaar, maar deur God se genade vir jou word jy van jou sonde vrygeskeld. Genade is dus altyd ’n geskenk van God se kant. Niks wat jy in ruil daarvoor kan aanbied, kan sy genade vir jou verdien nie. God stel sy genade gratis tot jou beskikking: Jy is deur genade gered, deur geloof; dit kom nie uit jouself nie; dit is ’n gawe van God (Ef 2:8-9). Victor Hugo vertel in Les Miserables die verhaal van ’n ontsnapte gevangene, Jean Valjean. Valjean was twintig jaar lank in die tronk omdat hy ’n brood gesteel het. ’n Biskop het vir Valjean slaapplek vir die nag aangebied, en al was hy aanvanklik dankbaar vir die biskop se goedgesindheid, het Valjean met die biskop se silwerware verdwyn. ’n Konstabel het hom aangekeer, en Valjean vertel toe vir hom die onwaarskynlike storie dat die biskop die silwer vir hom as ’n geskenk gegee het. Toe die konstabel vir Valjean na die biskop se huis toe terugneem, het hy tereg verwag om weer tronk toe gestuur te word. Maar toe gebeur iets ongeloofliks: Vir die eerste keer in sy lewe het Jean Valjean genade beleef. Toe

Genade is om in elke situasie, hoe troosteloos ook al, te begin ontgin aan die rykdom van God se liefde wat reeds daar ingebou is. Dit is die genadeperspektief hier op die gelykpad vir mense wat reeds die genadepad hemel toe ontdek het.

12


die konstabel vir die biskop vra of hy die silwerware vir Valjean gegee het, het hy dit bevestig. “Natuurlik was die silwer ’n geskenk, maar jy het die waardevolste item vergeet,” het hy vir Valjean gesê. “Jy het nie die silwerkandelare saamgevat nie.” Jean Valjean, wat die een oomblik nog oortuig was dat hy die res van sy lewe in die tronk sou moes slyt, was skielik vry. En boonop ryk! Voordat hy vertrek het, het die biskop vir hom gesê: “Jy mag hierdie oomblik nooit vergeet nie. Jou lewe is gespaar. Van nou af behoort jy aan God.” Omdat hy genade persoonlik ervaar het, het Jean Valjean se hele lewe soos handomkeer verander. Hy het die genade wat hy van die biskop ontvang het ook aan ander betoon. Hy het onderneem om na Colette, die dogter van ’n sterwende prostituut, te kyk. En baie later het hy selfs sy lewe gewaag om die man wat haar liefgehad het te red. Wanneer jy God se genade aanvaar, behoort jy dieselfde te doen: Besef dat jy God se genade nooit kan verdien nie, maar wees bereid om God se genade aan jou van nou af na ander mense te laat oorvloei. Omdat God jou genadig is, behoort jy bereid te wees om ander mense met genade te behandel, al verdien hulle

nie jou genade nie. God se genade vir jou raak immers nooit op nie. Hy het die wêreld se geduld met jou. Daar is inderdaad net een iets waaroor God ongeduldig raak – Hy is ongeduldig om jou genadig te wees. Die profeet Jesaja oortuig ons hiervan: “Daarom sal die Here met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm” (Jes 30:18).

Die lewe is nie regverdig nie Genade gee vir jou wat jy nie verdien nie. Tog is ook die lewe nie regverdig nie. In hierdie lewe kry ons nie wat ons verdien nie. Een van die vyand se suksesvolste aanvalle is juis om ons te oortuig dat die lewe regverdig behóórt te wees. Die goeie mense behoort beloon te word, en die slegtes behoort gestraf te word. Só maak hy ons wys dat as ons werklik hard genoeg probeer om genoeg “punte” te verdien, alles op die ou end sal uitwerk soos ons wil hê dit moet.

Ongelukkig werk dit nie só nie. Genade gaan juis oor dit wat ons nié verdien nie. “Genade gaan nie daaroor om eerste of laaste te kom nie. Dit gaan daaroor om nie te tel nie,” skryf Yancey in sy uitstekende boek oor genade, What’s so

Amazing about Grace? Die een Persoon in die geskiedenis van die mensdom wat die onregverdigste behandel is, was Jesus self. Hy was sonder sonde, maar Hy het sy lewe vir sondaars afgelê; Hy het op die wreedste denkbare manier gesterf sodat God ons sonde kan vergewe. Hoe vreeslik onregverdig! Maar hoe ongelooflik genadig! As dit nie vir hierdie onverdiende genade van God se kant was nie, sou nie een van ons ooit in die hemel kon kom nie. Hoe waar is Paulus se uitspraak in Romeine 3:23-24 nie: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”

Praktiese verwagtings wanneer jy die genade aangryp Toe ’n Amerikaanse seuntjie die Washington-monument vir die eerste keer besoek, het hy vir die wag voor die monument gesê: “Ek wil graag die monument koop.” Die wag het na hom toe afgebuk en gevra: “Hoeveel geld het jy?” Die seuntjie het 25 sent uitgehaal. “Dis nie genoeg nie,” het die wag geglimlag. “Ek het gedink jy sal so sê,” het die seuntjie geantwoord. Hy het weer in sy sak rondgekrap en nog 9 sent uitgehaal.

13


Toe kyk die wag na die seuntjie en sê: “Daar is drie dinge wat jy moet verstaan: Eerstens, 34 sent is nie genoeg nie. Om die waarheid te sê, 34 miljoen dollar is nie genoeg om die Washington-monument te koop nie. Tweedens, die monument is nie te koop nie. Derdens, omdat jy ’n Amerikaner is, behoort die monument reeds aan jou.” Hierdie storie is ’n pragtige illustrasie van God se genade. Ons kan genade nie verdien nie. Genade is nie te koop nie. Maar omdat jy aan God behoort, is sy genade reeds joune. Jy moet net jou hand uitsteek en dit vir jou neem. Daar is ’n paar praktiese verwagtings wat jy kan koester wanneer jy gewillig is om God se genade aan te gryp, sê Charles Swindoll in The Grace Awakening: § Jy kan verwag om groter waardering te hê vir God se gawes aan jou en ander, gawes soos saligheid, die lewe, musiek, skoonheid, vriendskap en vergifnis. § Jy kan verwag om minder van jou tyd en energie af te staan aan kritiek op en bekommernis oor ander se keuses. Mense wat genade aangryp, is bereid om ruimte te gee aan ander se keuses, al sou dit van hul keuses verskil. § Jy kan verwag om ’n groot tree in die rigting van volwassenheid en rypheid te gee. Hoe meer jou wêreld uitbrei omdat jy genade beter verstaan, hoe meer

14

volwasse sal jy word. Genade maak jou vry. En wanneer jy eers hierdie vryheid geproe het, sal jy nooit weer tevrede wees daarsonder nie. Ek wil hierdie artikel oor genade afsluit met ’n aanhaling uit Philip Yancey se boek What’s So Amazing About Grace?: “Genade beteken daar is niks wat ons kan doen wat sal maak dat God ons méér sal liefhê nie,” skryf hy. “Maar dit beteken ook dat daar niks is wat ons kan doen wat sal maak dat God ons mínder sal liefhê nie.” Hoe asemrowend dat die heilige, almagtige God mensekinders onvoorwaardelik liefhet, ten spyte van al ons gebreke. Hy het ons so lief dat Hy ons nooit sal prysgee nie, dat niemand ons ooit uit sy hand sal kan ruk nie – omdat sy liefde vir ons te sterk brand. Dít is genade. Manna

Hemelse Vader, u genade vir my slaan my asem skoon weg. Ek kan dit nie verstaan of beredeneer nie – ek weet net vir seker dit bestaan en dat ek aan die ontvangkant daarvan staan. Vergewe my dat ek so verwoed probeer om u genade te verdien; dat dit vir my ondenkbaar is dat U dit vir my gratis aanbied, terwyl dit U so ongelooflik duur gekos het. Maak my gewillig om ook teenoor ander genadig te wees omdat ek elke dag u genade in my lewe ervaar. Dankie dat U geduldig wag om my terug te verwelkom by U wanneer ek soms van U af wegdwaal; dankie dat u genade nooit opraak of in syfers bereken kan word nie. Here Jesus, ek loof U omdat U dit deur u kruisdood vir my moontlik gemaak het om God se genade myne te maak. Wanneer ek daaraan dink dat níks wat ek doen, kan maak dat U my méér sal liefhê nie, en dat níks wat ek kan doen, kan maak dat U my mínder sal liefhê nie, staan ek sprakeloos voor u onbegryplike en grenslose genade. Dankie dat ek my hande kan uitsteek en u genade vir my kan neem. Amen.

Hierdie is ’n verwerking uit Deur dieper geloof na lewensvreugde deur Nina Smit. Sien bladsy 42 vir meer details asook ’n resensie.


Wendell Quinn is baie opgewonde oor dit wat vir Hoërskool Hamilton voorlê. Hierdie jaar gaan dinge anders wees. Van die New York Times-topverkoperskrywer Karen Kingsbury kom ’n splinternuwe Baxterfamilie-roman oor ’n geliefde skoolhoof wat ’n Bybelstudieklub begin om die lewens van sy sukkelende leerlinge te verbeter – net om die nasionale fokus van ’n omstrede regsgeding te word.

’n Inspirerende, relevante verhaal oor die nuanses van godsdiensvryheid en hoe ’n groep vasbeslote mense die moed bymekaarskraap om hul geloof in vandag se vyandige kultuur uit te leef. Nou landwyd beskikbaar by

Verandering is moontlik wanneer jy jou vals aannames laat vaar en God toelaat om jou te herskep. Die algemene siening is dat mense nie verander nie. Nee! Dit ís moontlik om jou lewe te herskep en die mens te word wat God wil hê jy moet wees. Eers moet jy jou verkeerde idees los en God toelaat om jou liggaam, siel en gees te omvorm.

Dié boek gee die oplossing om wel langtermynverandering te bewerkstellig: herskepping danksy God se Woord en sy Gees. Elke hoofstuk sluit af met ’n toepaslike gebed en punte vir nadenke. Nou landwyd beskikbaar by toonaangewende boekwinkels.

toonaangewende boekwinkels.

Struik Christian Media

@StruikChristian

w w w. s t r u i k c h r i s t i a n m e d i a . c o . z a


Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.