6 minute read

Jojoba: Onontginde nismark met baie potensiaal

՚nOndernemende boer van Koup sowat 65 km vanaf Laingsburg in die Sentraal-Karoo boer met ՚n produk wat baie skaars in Suid-Afrika is.

Advertisement

Lukas Botes boer die afgelope 23 jaar met jojoba (Simmondsia chinensis), waarvan die bone gepers word vir jojoba-olie. Die bone bevat tot 54% vloeibare was wat nader aan walvisolie as plantaardige olie is. Die was-ester het geneeskundige waarde en word as basis vir velsorgmiddels en as smeermiddel in verskeie nywerhede gebruik.

Die droogtebestande, meerjarige boomstruik is endemies aan die woestyngebiede van Noord-Amerika waar dit die grootste bron van inkomste in die Sonora-woestyn is.

Teenvoeter vir verliese

“Ek het na ՚n landbougewas gesoek wat by die Karoo-omstandighede aanpas om te probeer opmaak vir veeverliese wat deur jakkalse veroorsaak word,” vertel Lukas.

Buiten die jakkalse het die droogte van die afgelope klompie jare hom gedwing om sy skaapkudde van 1 000 ooie na 350 verminder.

Nie een van sy plase het genoeg geskikte grond of genoeg water van goeie gehalte gehad om sitrus- of uiesaadproduksie te probeer nie. Na gronden waterontledings, het Elsenburg-landbouopleidingsinstituut jojoba, soutbos en garingboom voorgestel: laasgenoemde twee kan as veevoer gebruik word, maar Lukas het op jojoba besluit.

Buiten die uitdagende klimaat en groei-omstandighede van die Koupgebied, moes hy ook die swak grondpad wat die plaas met Laingsburg, die naaste dorp, verbind, in gedagte hou. Die produk moes ook nie arbeidsintensief wees of baie aandag verg nie, en bowenal moes dit omgewingsvriendelik wees.

Jojoba: Struik uit die woestyngebiede van Kalifornië, Arizona en Mexiko waarvan die olie wat uit sy saad verkry word veral in skoonheidsmiddels gebruik word.

Omdat jojoba so lank vat om in produksie te kom, het hy knoffel, wat baie winsgewend is, in die boorde aangeplant. Hy het ook agt jaar lank sowat 1 000 volstruiskuikens per jaar grootgemaak, wat hom gedra het tot die jojoba begin produseer het.

Tas in die duister

Die grootste uitdaging met jojoba was die onkunde en gebrek aan inligting oor verbouing en verwerking in SuidAfrikaanse omstandighede.

“Die Oudtshoorn-proefplaas het navorsing daaroor gedoen, maar daar is steeds min bekend,” vertel Lukas.

“’n Mens tas maar in die duister.”

Die enigste geskikte grond op Lukas se plase was ou landerye of huistuine by opstalle waar voorheen soutbos, lusern of ՚n paar vrugtebome geplant was. Dié plase is sowat 15 km van die plaas waar hy woon en hy besoek die boorde net een maal per week.

Saad

Lukas het in 1999 ՚n kilogram saad by die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Oudtshoorn-navorsingsplaas gekry. Hy het die saad in Oktober in sakkies laat ontkiem en in Maart 2000 die eerste 0,5 ha aangeplant.

In Oktober dieselfde jaar het hy nog 0,5 ha se steggies geplant wat hy by ՚n kwekery op ՚n plaas in die Langkloof gekry het. Dié plantjies het hom destyds sowat R10 000 gekos.

In 2014/15 het hy nog ՚n hektaar geplant wat hy van pitte gekweek het.

Op die oomblik het hy altesaam 2,35 ha, waarvan net 1 ha, wat nou 21 jaar oud is, in vol produksie is. Nog 0,25 ha is nou omtrent twee jaar oud.

Voortplanting

Jojoba kan met saad of steggies vermeerder word. Aanvanklik het Lukas die sade, wat nie vooraf behandel hoef te word nie, in sakkies geplant, wat binne ՚n week ontkiem het. Die saailinge moet binne vyf maande in die voorbereide grond uitgeplant word, an- ders draai die wortelpunt onder in die sakkie en groei nie weer afwaarts nie.

Om die plant van pitte te kweek het weer ՚n ander kinkel. Omdat die plant tweeslagtig is, moet die manlike en vroulike plante ter wille van bestuiwing in die korrekte verhouding van 1:5 of 1:7 geplant word. Maar die onderskeid is eers duidelik wanneer die plante op twee jaar begin blom!

As gevolg daarvan moes Lukas van die plante uithaal en vervang om die regte verhouding te verkry, wat die proses nog verder vertraag het.

Met die tweede boord kon hy geïdentifiseerde steggies wat hy ten duurste gekoop het, in die regte verhouding plant. “Omdat die steggie nie ՚n stewige penwortel ontwikkel nie, is die saailinge baie meer sensitief vir droogte en glad nie goed geanker nie – ՚n bees kan dit maklik omstoot. Nou plant ek net die pitte en gebruik ՚n plantwiel daarvoor.

Grondvoorbereiding

Jojoba het diep, sanderige of leemgrond nodig wat die water laat indring en goed dreineer. Dit groei in arm grond met ՚n hoë soutinhoud en ՚n pH van tussen 5 en 9, en is droogte- en hittebestand, maar kan rypskade opdoen as dit in die winter blom.

Hy het die grond met ՚n toonwerktuig dwars gebreek en geghrop. Toe het hy die steggies en pitte wat in sakkies ontkiem is, 1,5 m uitmekaar geplant, terwyl die pitte 30 cm uitmekaar direk in die grond geplant is. Die rye is vier meter uitmekaar.

Die wortels kan tot 25 m diep groei. Die boomstruik word tot vyf meter hoog, maar Lukas se volwasse bome is so drie meter hoog. Die bolvormige kruin is sowat twee tot drie meter in deursnee. Die bome word tot 100 jaar oud.

Besproeiing

Die plant is by woestyn- en halfwoestyngebiede aangepas, maar het nogtans minstens 50 tot 70 liter water per week in die somer en 10 tot 30 liter in die winter nodig.

Aanvanklik het Lukas hom nie oor besproeiing bekommer nie, want volgens die inligting tot sy beskikking het hy verstaan die struike hoef net twee keer per jaar water te kry. “In normale tye is die Koup se reënval maar sowat 118 mm/jaar, maar wanneer die reënval soos die afgelope agt, nege jaar net 50 mm is, is besproeiing nodig.”

Die manlike plant se blomme het baie stuifmeel wat deur die wind na die vroulike blomme (33) gevoer word.

Aanvanklik het hy die plante met mikrobesproeiing met boorgatwater uit ՚n dam besproei, maar binne die eerste twee, drie jaar besef hy gee te min water. “Ek het die spuitjies in die eerste boord met ondergrondse drupbesproeiing vervang – die eerste in Suid-Afrika wat vir jojoba gebruik is.”

In 2020 kon hy ՚n boord met vier liter per plant per week aan die gang hou. “Die boorgat op die plaas het toegeval en ek moes water aanry. Die oes was nie te waffers nie, want vir ՚n goeie oes is water nodig. “

Omdat die meeste boorde sowat 15 km van die plaas waar hy woon is, is die gerekenariseerde besproeiingstelsel battery-aangedrewe, terwyl die boorgate met sonkragpompe toegerus is. Soms word ՚n petrol-kragopwekker gebruik om die watervoorraad aan te vul.

Bemesting

Tot so vyf jaar gelede het Lukas geen bemesting gebruik nie. Blaarontledings het egter getoon dat die watergehalte weens die min reën nie na wense is nie. “Wanneer dit nie reën nie, word die stikstofinhoud nie aangevul word nie. Nou gee ek mis uit die voerkraal, asook ureum en kaliumnitraat (KNO3) wat saam met die water deur die druppers toegedien word.”

Opbrengs

Die struike begin van die vyfde jaar af dra en ՚n volwasse oes kan van die sewende tot die tiende jaar verwag word. Die bome is op tien jaar volwasse en is dan op maksimum produksie.

Omdat die sade nie almal gelyk ryp word nie, word dit gewoonlik met die hand geoes. “Ek het voorheen die neute met besems bymekaar gevee en opgetel. Vanjaar het ek vir die eerste keer ՚n petrolaangedrewe blaser gebruik om die neute onder die bome uit te blaas.”

Lukas se gemiddelde oes is sowat 0,5 t/ha, afhangend van die ouderdom van die aanplanting. Dit is heelwat minder as in ander lande.

“Die opbrengs uit die olie lewer sowat R50 000/ha. Daar is gewasse soos groentesaad, en nou ook saffraan, wat baie beter vaar, maar ek glo my impak op die omgewing met gif en waterverbruik is minimaal. “

Pars

Aan die begin het Lukas die neute by die Oudtshoorn-navorsingsplaas laat pars en die olie self bemark.

՚n Pers wat hy uit Sjina bestel het, het eers op ՚n plaas by Prins Albert gestaan omdat hy nie Eskom-krag op die plase het nie. Na sowat vier jaar het hy die pers plaas toe geneem waar dit met ՚n trekker aangedryf word sodat hy sy eie neute kan pars.

Afsetgebied

“Afsetgebied is maar ՚n probleem,” sê Lukas. “Ek het uit ՚n ekologiese of omgewingsvriendelike oogpunt geplant en geglo die mark sal kom, want dit is ՚n natuurlike produk. Dit het nie heeltemal so uitgewerk nie: Die Suid-Afrikaanse produk het ՚n baie swak naam gehad wat gehalte betref en dit het ՚n paar jaar geneem om ՚n kliëntebasis op te bou.”

Daar is belangstelling van Sjinese aankopers. “Hulle soek 20+ ton per maand. ՚n Mens sal kontrakte moet probeer vasmaak voor jy die kapitaaluitleg kan doen, maar dit neem 10 jaar voordat jy behoorlik in produksie is, en in daardie tyd kan baie gebeur. Niemand sien kans vir so ՚n risiko nie.”

Intussen gaan hy op voort op dieselfde trant. “Dit bly ՚n natuurlike produk wat nog onbekend is, so die vraag kan net groei. Drie, vier boere het pitte hier weg om te gaan plant –as hulle bome begin dra, kan ek dalk die opbrengs kry en die mark ontwikkel. Die meeste olie word steeds ingevoer, so ՚n mens moet maar aan die Suid-Afrikaanse mark probeer voorsien.” Die feit dat jojoba wêreldwyd steeds nagevors en aangeplant word dui ook op ՚n groeiende vraag.

Sy afsetgebied was ՚n paar gesondheidswinkels wat vir hom die olie in bottels van 50 ml en 100 ml verkoop het. “Die aankopers was meestal kliënte wat op ՚n klein skaal skoonheidsprodukte vervaardig, maar met Covid-19 het hulle minder aangekoop.

“Weens die droogte en gebrek aan besproeiing en bemesting kon jy nie aan groothandelaars voorsien nie, en hulle het belangstelling verloor.”

Op die oomblik word die meeste van sy olie in klein bottels deur Takealot verkoop.

This article is from: