7 minute read
Die invloed van ooi- en lamgedrag op oorlewing
from ProAgri SA 279
by ProAgri
Die invloed van ooi- en lamgedrag op oorlewing
Al word ՚n hoë vlak van bestuur en voeding toegepas, kom ՚n sekere persentasie lamvrektes nog steeds voor. Lamoorlewing is grootliks afhanklik van ՚n eksklusiewe band wat kort na geboorte tussen die ooi en haar lam(mers) gevorm word, terwyl die vermoë van lammers om hulle moeders te identifiseer en by hulle te bly ook ՚n belangrike rol speel. Seleksie vir grootmaakvermoë kan gebruik word as ՚n metode om lamoorlewing asook algehele kuddeproduktiwiteit te verbeter.
Advertisement
In ekstensiewe gebiede word ooie as swak moeders bestempel as hulle vervreemd raak van hulle lammers (lammers weggooi of van hulle geskei word) en/of geen of baie min melk vir hulle lam(mers) produseer.
Pogings wat aangewend word om die reproduksie-prestasie van ooie te verbeter, veral deur die verhoging van die tweelingpersentasie, is waardeloos indien ՚n hoë persentasie van die tweelinge vrek as gevolg van genoemde faktore. Verskeie faktore kan vir lamvrektes verantwoordelik wees, waarvan die gedrag van sowel die ooi as die lam ՚n baie belangrike oorsaak kan wees.
Swak moederlike gedrag van veral jong-ooie wat vir die eerste keer lam, asook sekere rasse is dikwels verantwoordelik vir die mislukking van die ooi en lam om kort na geboorte ՚n sterk band te vorm.
Tipiese karaktereienskappe van ՚n droë of dragtige ooi:
• ՚n Dier met ՚n tropinstink wat angstig raak wanneer sy van die trop geïsoleer word
• Maklik verskrik raak deur die teenwoordigheid van mense en honde
• Afsydig en selfs aggressief teenoor ՚n lam is
• ՚n Hoë stapaktiwiteit het Karaktereienskappe van ՚n ooi net voor lam:
• Neig om haar van die trop af te sonder
• Haar rondbeweging verminder en sy soek ՚n plek waar sy geboorte gaan skenk en ՚n tydperk met haar lam(mers) gaan deurbring
• Meer aangetrokke tot ՚n pasgebore lam
• ՚n Sterk en selektiewe band met haar lam(mers) vorm
Belangrikheid van die tyd wat op die geboorteplek bestee word Die tydperk wat ooie op die geboorteplek bestee verskil tussen rasse terwyl dit binne rasse wissel op grond van aantal kere gelam en die grootte van die werpsel. Die voorkoms van skeiding tussen ՚n ooi en een van haar lammers gedurende die eerste dag na geboorte word beïnvloed deur die tydperk wat die ooi binne 20 meter van
Die vorming van die ooi-lamband en die oorlewing van lammers word verbeter deur bestuurspraktyke wat die tyd wat die ooi en haar lam(mers) op die geboorteplek bly, verleng. Die oorlewing van tweelinglammers kan merkbaar verhoog word indien die ooi met haar lammers minstens ses uur op die geboorteplek bly.
Volgens Murphy et al is dit nie die feit dat die ooi vir die eerste ses uur na lam op die geboorteplek is nie, maar dat dat sy en haar lammers bymekaar is. Ooie wat in ՚n goeie kondisie (3 tot 3,5 kondisiepunt) met lam is en ook byvoeding gedurende laatdragtigheid ontvang het, is meer geneig om op die geboorteplek te bly om met hulle lam(mers) te bind as skraal (2 tot 2,5-kondisietelling) ooie.
Indien die ooie op volop weiding van goeie gehalte lam, voldoende byvoeding ontvang en die lamkampe voldoende skuiling en skaduwee het, sal die ooie vir ՚n langer tydperk op die geboorteplek bly.
Vermy toestande en faktore wat veroorsaak dat die ooi gou na lam van haar lamplek padgee, want dit werk lamvrektes in die hand. Dit gebeur met swak verspreiding van watersuipings in lamkampe wat ooie noodsaak om kort na lam die geboorteplek te verlaat op soek na drinkwater. Net so word ooie verplig om gou weg van hulle lamplek te wei as hulle op yl, swak weiding lam. Ooie wat aanvulling op sulke weidings ontvang, kan baie maklik van hulle lamplekke gelok word deur die voertuig wat die aanvullings bring.
Om volledige binding tussen die ooi en haar lam(mers) te laat geskied, neem ongeveer 48 tot 60 uur. Die vorming van die ooi-lamband ontwikkel vinnig gedurende die eerste drie dae na geboorte. Navorsingsproewe toon dat lammers met meerdere vermoë om hulle moeders te herken, hulle moeders beter volg as die wat ՚n swak herkenningsvermoë het. Ooie wat geselekteer is vir meerlinggrootmaakvermoë (dit is ooie wat meerlinge suksesvol speen) se lammers is meer geneig om teenaan die voorbene of midsy te volg, terwyl die lammers van ooie wat teen meerlinggrootmaakvermoë geselekteer is se lammers meer geneig was om langsaan die agterbene te volg of om agter die ooi aan te loop.
Twee faktore speel ՚n sleutelrol in die vestiging van ՚n band met die ooi:
1. Die sukses van die eerste suippogings
2. Vokale kommunikasie deur te blêr
Dit blyk dat die inneem van voldoende biesmelk so gou as moontlik na geboorte, die vorming van ՚n band met die ooi bevorder.
Belang van die omgewingstoestande rondom lamtyd
Ooie wat gedurende laatdragtigheid swak voeding ontvang, toon swak moedereienskappe deurdat hulle meer geneig is om hulle lammers “weg te gooi” omdat hulle geen of baie min of abnormale dik en taai biesmelk die eerste ongeveer agttien uur na geboorte produseer. Hoe minder en hoe taaier die bies is, hoe groter is die kans dat een van ՚n tweeling kan vrek.
Navorsing toon dat die hoogste lamoorlewing geskied waar ooie die laaste maand voor lam byvoeding ontvang het. Deurvloeiproteïen is die voedingstof, veral waar laatdragtige ooie ՚n energietekort ervaar, wat die grootste invloed op die lewensvatbaarheid van die pasgebore lam het.
Strategiese byvoeding van lek of volledige rantsoene, wat baie hoog is in sowel deurvloeiproteïen as energie, asook sekere minerale, gedurende laatdragtigheid en lamtyd, verhoog nie net die geboortemassa van die lam(mers) en verbeter die kondisie van die ooi nie, maar verhoog die biesmelkproduksie en die gehalte daarvan terwyl dit ook die moederlike gedrag van die ooi verbeter waardeur lamoorlewing bevorder word.
Invloed van voeding op biesmelkproduksie
Dit is algemeen bekend dat die voeding gedurende dragtigheid verband hou met die aanvang van laktasie. Die beskikbaarheid van voldoende biesmelk onmiddellik na die geboorte van ՚n lam is van lewensbelang om te oorleef, veral in die geval van meerlinglammers.
Boonop is die aanvanklike suigaksie van die lam belangrik in die vestiging van ՚n band met die moeder en die ge - assosieerde vrystelling van oksitosienhormoon omdat dit die ooi se moederlike gedrag stimuleer.
Om hoë melkproduksie en gevolglik hoë lamgroei te verseker, moet byvoeding nie onmiddellik gestaak word sodra die ooie gelam het en hulle dan na groen weiding oorgeplaas word nie. Skielike staking van hoë-energie- en deurvloeiproteïenbyvoeding kan nie net die melkproduksie binne twee dae laat daal nie, maar kan ook tot melkkoors lei.
Dikwels is die groen weiding baie sappig, wat tot lae voedingstofinname lei en gevolglik nie in staat is om ՚n hoë melkproduksie te onderhou nie. Hierdie tipe weiding het ՚n tekort aan deurvloeiproteïen omdat tot 85% van die weidingsproteïen in die grootpens van die skaap afgebreek word terwyl dit ook ՚n ernstige tekort aan energie vir lakterende ooie, veral die wat tweelinge soog, het.
Gevolglik moet daar met byvoeding op groen weiding voortgegaan word tot minstens vier weke na lam. Daarna kan, mits daar voldoende goeie gehalte groenweiding beskikbaar is, die byvoeding geleidelik oor die volgende drie tot vier weke uitgefaseer word deur die voedingspeil weekliks te verminder. Dit geld vir gevalle waar lek sowel as volvoer gebruik word. In die geval van ooie met tweelinge is dit hoogs aan te beveel om vir minstens die eerste agt weke na lam met byvoeding voort te gaan, waarna dit oor die volgende vier weke geleidelik uitgefaseer kan word, mits daar voldoende goeie gehalte groen weiding beskikbaar is.
Invloed van voeding op moederlike gedrag
Ernstige ondervoeding gedurende dragtigheid onderdruk moederlike gedrag en verhoog lamvrektes van sowel enkeling- as meerlinglammers. Navorsing toon dat goed gevoerde ooie beter moedereienskappe toon, beter na hulle pasgebore lammers omsien en ook die eerste paar uur na geboorte nader aan hulle lammers bly as ondervoede ooie. Dit verhoog lamoorlewing.
Invloed van gure weer op lamoorlewing
Dit is algemeen bekend dat baie koue, nat en winderige weerstoestande lamvrektes by pasgebore lammers kan verhoog. Afnemende liggaamstemperatuur binne die eerste twee uur na geboorte kan regstreeks vir lamvrektes verantwoordelik wees omdat die lammers kan vrek sonder dat hulle gestaan of gesuip het. Moederlike sorg en gedrag van die ooi, asook die nageboortelike aktiwiteite van die lam, veral die soek na spene, kan deur blootstelling aan koue belemmer word.
Navorsing toon dat die ongemak as gevolg van die koue gedurende die pogings om die spene te vind, belangriker is as die invloed van die vooraf verlies van energiereserwes.
Samevatting
Lamoorlewing word deur verskeie faktore beïnvloed, soos die genotipe, gedrag, temperament, ouderdom en ondervinding van die ooi; samewerking van sowel die ooi as die lam; lewenskragtigheid en gedrag van die lam. Faktore wat die sukses van lamtyd asook oorlewing van lammers bydra en ook deur bestuur gemanipuleer kan word, sluit in tyd wat die ooi op die geboorteplek deurbring; voeding gedurende laatdragtigheid en lamtyd. In hierdie verband is dit ook uiters belangrik dat ooie in gelyke en beskutte kampe lam wanneer dit koud, nat en winderig is of in kampe met voldoende skaduwee tydens warm weerstoestande.
Die twee belangrikste “hekkies” wat die pasgebore lam moet oorkom, is om die geboorteproses te oorleef en onmiddellik na geboorte voldoende biesmelk in te neem. Produksie van biesmelk is baie gevoelig vir ՚n tekort aan sowel deurvloeiproteïen as energie terwyl die aanvang van laktasie ook daardeur vertraag word. Biesmelkproduksie word ook nadelig beïnvloed deur die kondisie van ՚n ooi omdat ooie in ՚n skraal kondisie ՚n laer biesproduksie het. Indien lammers ՚n optimum geboortemassa (3,5 tot 5,5 kg) het, normaal gebore word sonder komplikasies, ՚n voldoende hoeveelheid energie en teenliggaampies via die biesmelk inneem en ՚n sterk band met hulle moeder ontwikkel, is hulle kanse op oorlewing uitstekend.
Om dit te verseker, moet die bestuur, versorging en voeding van ooie regdeur deur dragtigheid en die toesig gedurende lamtyd op ՚n hoë vlak wees. Daarmee saam moet alle ooie wat gelam het en nie ՚n lam speen nie, summier geprul word terwyl die gebruik van teelramme wat gebore is uit ooie wat al hulle lammers suksesvol tot speen grootgemaak het as ՚n vereiste gestel word.
Seleksie vir grootmaakvermoë kan gebruik word om lamoorlewing te verbeter. (Bron: freepik deur wirestock)
ProAgri is dankbaar dat 'n legende in die landboubedryf, dr Jasper Coetzee, sy Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery aan die lesers van ProAgri beskikbaar gestel het.
Indien jy meer inligting oor winsgewende skaapboerdery wil bekom, bestel jou Handleiding vir Winsgewende Skaapboerdery vandag nog deur ՚n e-pos te stuur na: mvs@ meadowcape.co.za.