5 minute read

Die vere maak toe al die tyd die voël

Rekordpryse wat teelmateriaal op die 19de jaarlikse veiling van geselekteerde teelvolstruise op 20 April behaal het, wys dat volstruisvere nog lank nie uit die mode is nie. Volstruisvere van hoogstaande gehalte prikkel opnuut die belangstelling van volstruisboere en modehuise.

Die veiling en die inligtingsdag wat dit voorafgegaan het. is gesamentlik deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Oudtshoorn Volstruisnavorsingsplaas, KarooCape International, die SA Volstruisbesigheidskamer (SAVBK) en die Wes-Kaapse Volstruisprodusentevereniging (WKVPV) by KCI se nuwe hoofkantoor op Oudtshoorn aangebied.

Advertisement

Inligtingsdag

Sowat sestig persone het die inligtingsdag bygewoon. Piet Kleyn, uitvoerende bestuurder van die SAVBK en dr Chris de Brouwer, hoof van Veekundige Wetenskappe by die Departement van Landbou, het die agtergrond van die bedryf en veilings, en die seleksieproses toegelig.

Dr Adriaan Olivier, volstruisveearts by SAVBK, het die welsynsvereistes, wat toenemend belangrik raak vir verantwoordelike produksie van volstruisprodukte toegelig, terwyl dr Anel Engelbrech, senior navorser by die navorsingsplaas, meer inligting gegee het word oor seleksie vir minder hare om velgehalte te verbeter.

Piet Kleyn, uitvoerende bestuurder van die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK), Pierre de Wet en Cor du Toit van Kromkoe Boerdery en dr Anel Engelbrecht.

Nuwe bloed is goed

Volgens Piet doen die Oudtshoorn Navorsingsplaas al sedert die 1990’s genetiese seleksie op grond van teelwaardes vir gewig en reproduksie (eier- en kuikenproduksie). Meer onlangse navorsing gebruik ook die teenwoordigheid of afwesigheid van hare op die vel, wat lei tot leer van hoër standaard, as seleksiemaatstaf.

Daar is bevind dat jong broeivolstruise in minder as twee jaar nadat hulle uitgebroei het, kan begin produseer, wat ՚n hele seisoen vroeër is as wat voorheen aanvaar is. Jong volstruise is met goeie gevolge by die navorsingsplaas se teelkudde ingesluit, en die resultate het getoon dat wyfies binne gemiddeld 22 maande begin eiers lê.

Omdat dit belangrik is dat die oudste en onproduktiewe broeivolstruise met jong volstruise vervang moet word, bied die Wes-Kaapse Departement die afgelope 19 jaar veilings aan waar volstruisboere jong teelmateriaal kan bekom.

Volstruisvere van goeie gehalte behaal toenemend beter pryse. Na die destydse ineenstorting van die verebedryf met die draai van die eeu, was boere half kopsku vir die verebedryf en gevolglik is daar min teelmateriaal vir gehalte pluime.

Die Departement van Landbou het besluit om vanjaar in samewerking met die bedryf ՚n gesamentlike veiling aan te bied wat nie net op reproduksie en gewig fokus nie, maar ook op die vel en veral die gehalte van vere.

Agter: Cor du Toit, Pierre de Wet, dr Chris de Brouwer (Departement van Landbou), PA Geldenhuys (afslaer, Klein-Karoo Agri), Gert Laubscher (Klein-Karoo Agri), voor dr Anel Engelbrecht (senior navorser) en Nelleke Lotz ('n student) (albei van die Oudtshoorn Navorsingsplaas). Die twee vroue het die voorkoms van hare op die volstruisvelle evalueer. Dr Chris de Brouwer is die waarnemende hoofdirekteur van Navorsing en Tegnologieontwikkelingsdienste by die Departement en bestuurder van die Veekunde-direktoraat.

Die volstruisvere kon voor die aanvang van die inligtingsdag besigtig word. Hier vertoon Pierre de Wet en Cor du Toit van hulle volstruise se vere.

Net die beste

Die SAVBK het volstruisboere wat bekend is vir hulle ‘verevolstruise’ geïdentifiseer en hulle genader om volstruise vir die veiling beskikbaar te stel.

Die volstruise is deur verekenners Hannes van der Westhuizen en Arthur Muller beoordeel, terwyl dr Engelbrecht en Nelleke Lotz van die navorsingsplaas die velle op grond van die teenwoordigheid van hare op die vel beoordeel het. Piet het gesorg dat die volstruise aan die minimum-vereistes voldoen.

Etiese volstruisboerdery

Dr Olivier, SAVBK se volstruisveearts, het klem gelê op die belangrikheid van dierewelsyn in volstruisproduksie. “Handelsvennote, verbruikers en modehuise, die belangrikste bron van inkomste vir die volstruisbedryf, fokus toenemend op die integriteit van die volstruisvoorsieningsketting, en Europese wetgewing hou hulle aanspreeklik daarvoor.”

Hy sê die Departement van Landbou en die bedryf is deeglik bewus van wêreldneigings rondom verantwoordelike, etiese dierebestuur en was direk betrokke by die opstel van bedryfstandaarde. Daar word ook van volstruisboere verwag om aandag aan biodiversiteit en bewaring te skenk. Volstruisvere is ՚n mode-item wat ՚n goeie inkomste bied, veral as die vere van hoogstaande gehalte is, en modehuise is bereid om hierdie vere te koop mits dit aan naspeurbaarheid- en sertifiseringsvereistes voldoen.

Nuwe navorsing

Dr Engelbrecht, senior navorser by die navorsingsplaas, het nuwe navorsing gedeel. Die navorsing bewys dat die haarskagte op volstruisleer ՚n hoogs oordraagbare eienskap is wat met genetiese seleksie verbeter kan word. Sy het riglyne verskaf vir die evaluasie van volstruise en nuwe teeltmateriaal om die haarskagte op die leer te verminder.

Rekordpryse

Die volstruise is spesiaal vir die standaard van hulle vere uitgesoek. “Volstruisvere se gewildheid neem wêreldwyd toe en volstruisboere wat op vere van goeie gehalte fokus kan van ՚n goeie mark verseker wees,” sê dr Engelbrecht.

Altesaam 88 jong broeivolstruise van die navorsingsplaas en vyf kommersiële volstruisboere is aangebied. Die klem het op gehalte teelmateriaal geval. Die vyf boere is Cor du Toit van Heidelberg, PJ Terblanche & Seuns van De Rust, en Ryan Lipschitz, Joey Potgieter en Jaco Mulder van Oudtshoorn. Die volstruise het almal besonderse vere van goeie gehalte en kom uit gevestigde verelyne van onder meer die Terblanche- en Lipschitz-families wat oor jare bekend is vir gehalte volstruisvere.

Sewentien kopers het geregistreer, maar net sewe het volstruise gekoop. Die pryse het gewissel van R8 000 tot R41 000, met ՚n gemiddelde prys van R14 683. Wyfies se gemiddelde prys was R17 560 en dié van mannetjies R11 598.

Die hoogste pryse is behaal deur twee wyfies. ՚n Wyfie van PJ Terblanche en Seuns is vir R41 000 aan Amie Snyman van De Rust verkoop, en ՚n wyfie van Cor du Toit is vir R31 000 aan Jurie Klue van Klaarstroom verkoop.

Die volstruise is op Heidelberg geselekteer. Agter van links is Cor du Toit en een van sy werkers (naam onbekend), Koos de Wet, Pierre de Wet en Hannes van der Westhuizen. Voor van links is Arthur Muller en Piet Kleyn.

Piet Schoeman van Oudtshoorn het die meeste volstruise gekoop.

Jurie, wat self al toekennings vir sy vere en velle ontvang het, sê hy was heeltemal bereid om R31 000 vir ՚n volstruiswyfie te betaal, al was dit nie goedkoop nie. “Daar is twee redes waarom ek besluit het om te koop. Eerstens vervang ek jaarliks ՚n klompie van ons volstruise, waarvan 95% uit die navorsingsplaas se bloedlyne kom en dit was tyd vir nuwe bloed.

“Tweedens vertrou ek Arthur en Oom Hannes se oordeel. Hulle is kenners van volstruisvere, en ek vertrou Anel en Nelleke se oordeel wat die velle betref.”

Hy vertrou ook die boere wie se volstruise op die veiling aangebied is. “Die wat ek gekoop het, kom uit geslote kuddes en ek glo ons sal in die toekoms waarde vir ons geld kry uit velle en vere van hoë standaard.”

Amie, wat R41 000 vir ՚n volstruiswyfie betaal het, sê hy het nog nie dié volstruis se gene in sy genepoel nie en sy sal beslis sy bestaande kudde verbeter wat vere en velle betref. “Die wyfie het naas goeie genetika ook ՚n mooi bou, goeie vere en geen hare op die vel nie. Dis gewoonlik nie maklik om volstruise se genetika te verbeter nie, maar ek glo ons het ՚n goeie prys vir goeie genetika betaal.”

Kontak PA Geldenhuys (Klein Karoo Agri), wat die veiling hanteer het by 044-203-5221 of 082-4107705 vir meer inligting.

Kontak die SA Volstruisbesigheidskamer (SAVBK) by 044-272-3336

Kontak die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Oudtshoorn Navorsingsplaas by 044-203-9404

Sourcing & Procurement of HighGrade, Mid-Grade & Sub-Grade fertilizers, contract free.

Straights, Blends & Organic Fertilizers

We assist you in sourcing & managing reliable transportation and logistics services at competitive prices.

Agricultural shade netting and irrigation construction and conveyancing

Vries-brandmerk is ‘n hoogs effektiewe, minimaal-indringende metode om jou beeste permanent te brandmerk. Dit laat geen skade aan die vel nie, wat huidverwante vermorsing en finansiële verliese tot die minimum beperk.

GEBRUIK DIE VRIESBRANDMERK METODE OMDAT JY OMGEE.

BY BOTHAVIL

SKAKEL ONS OP 078 164 1712 OF BESOEK ONS WEBWERF BY www.dryice.co.za

This article is from: