Gesinserediens notas

Page 1


Gesinsdiens / Kinderkerk (laerskoolkinders) Lesmateriaal vir week 1 1

Lesdoelwit  Daar is beslis ʼn appèl in hierdie gelykenis om toe te sien dat ons lewe “goeie grond” vir die ontkieming van die evangelie bied. Maar ons moet ook raaksien dat die gelykenis primêr oor God as saaier handel, wat sy goedheid oor alle mense strooi of hulle dit verdien of nie.

2

Inleiding  Plaas ʼn paar groot bakke voor die gehoor en sê dat die kinders na afloop van die erediens, elkeen ʼn saadjie in die bak kan kom haal.  Vandag se erediens gaan oor hoe ons daardie saadjie kan laat groei.  Vra uit die gehoor, wat dink hulle is goeie raad om saad te laat groei. Wat dink hulle is nodig vir saad om te ontkiem, en vrug te dra?

3

Skrifgedeelte  Matt 13:1-9  Gebruik gerus die meegaande video wat die teks mooi uitbeeld.  https://www.youtube.com/watch?v=V9IOhGPrRvY

4

Hoofgedagtes  Die opskrifte in die Bybel was nie deel van die oorspronklike teks nie. Dit is later bygevoeg om ons te help oriënteer in die teks.  MAAR… van al die gelykenisse is daar 2 gelykenisse wat wel ʼn titel besit in die oorspronklike manuskripte… en die gelykenis van die saaier is een daarvan.  Wat dit verder merkwaardig maak, is dat dit nie ander mense is wat die gelykenis so noem nie, maar Jesus self.  Jesus sê: “Luister julle dan na wat die gelykenis van die saaier beteken” (Matt 13:18).  Jesus sê, hierdie gelykenis gaan nie oor verskillende soorte grond nie. Hy sê hierdie gelykenis gaan nie eers oor hoe wonderlik die saad is nie. Jesus sê hierdie gelykenis gaan primêr oor die saaier…  Wie is die groot Saaier in ons lewe? Dit is natuurlik God…  En dit is dan wanneer ons bewus raak van iets in die teks wat ons nog die heeltyd gepla het maar nie geweet het wat om daarmee te maak nie. Dit het ons gepla dat die saaier in hierdie gelykenis so onverskillig saai. Hy “mors” as’t ware sy saad. In die regte lewe sal


geen boer so ongeërgd saai en saad links en regs strooi waar hy weet dit nie gaan opkom nie.  Maar dit is nie hoe die Here werk nie. Sy genade stort Hy oor almal en alles uit – of hulle dit verdien of nie. Hy sluit niemand uit nie. Hy diskwalifiseer niemand byvoorbaat, en dink “die saad gaan buitendien nie daar opkom nie”. Nee, die Here hou niks terug as Hy met ons werk nie. Hy oorlaai ons met genade.  Wat is gebeur in jou hart as jy hoor dat die Here jou nie uitsluit nie en jou nogtans oorlaai met sy goedheid? Wil jy minder met Hom te make hê of meer? Voel jy of jy sy genade wil misbruik of wil jy dit juis waardeer en die meeste daarvan maak?  Die noodwendige gevolg van genade, is dat ons op die “guns” wat aan ons bewys is, wil reageer. Ons wil daarop antwoord met ons lewe.  En dit is nou eers wat die verskillende soorte grond ter sprake kom. o Die pad: Die gevaar van hartvogtigheid of hardnekkige weiering om aan die eise van die evangelie gehoor te gee. As jy weer sien, het die saad wat gesaai is, verdwyn. o Die klipbank: Gebrek aan diepte o Die onkruid: Gevaar van verleidelikhede  Ons wil wees soos “Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan” (Matt 13:23). Vrae vir die gesprekskringe  Kan julle onthou wat was die verskillende soorte grond wat in hierdie gelykenis ter sprake gekom het?  Kan jy aan ʼn voorbeeld dink wanneer die duiwel, God se saad in ons lewe kom steel?  Wat is die “onkruid” in ons lewens wat keer dat ons nie geestelik kan groei nie?  Hoe dink jy lyk “goeie grond” in ons geestelike lewe?  Wat dink jy wou Jesus vir sy dissipels met hierdie gelykenis leer?

5

Afsluiting  Laat hulle in gesprekskringe afsluit en die vrae bespreek.


Lesmateriaal vir week 2 1 Lesdoelwit  Die hoofoogmerk van vandag se les is nie om oor die 2 broers te praat nie, maar oor die Pa. Die Pa in hierdie gelykenis gee vir ons ʼn prentjie van God wat ons harte warm maak.

2 Inleiding  Roep so 7-10 kinders vanuit die gehoor vorentoe. Verduidelik aan hulle dat ons vandag ʼn snork-speletjie gaan speel.  Hulle moet in ʼn kring sit en kyk hoe vinnig kan die een na die ander soos ʼn vark snork. Die vangplek is dat niemand mag lag nie.  Jy snork vir die persoon aan jou regterkant, terwyl die persoon jou stip in die oë kyk. Dan draai die persoon weg na sy/haar regterkant en snork weer vir die volgende persoon.  Sodra iemand lag, word daardie persoon gediskwalifiseer.  Die persoon wat oorbly, kry die kans om die vark te wees in vandag se Bybelverhaal

3 Skrifgedeelte  Luk15:11-32  Plaas die volgende items op ʼn tafel voor die gehoor, sodat almal dit kan sien: o Geld/speelgeld (vers 13) o Sandale (vers 22) o Ring (vers 22) o Ou oorskiet kos (vers 16) o Plastiek speelgoedkoei (vers 23) o Ballon vir die fees (vers 23) o Verkyker (vers 20)  Voer die Bybelgedeelte op deur van akteurs gebruik te maak wat jy uit die gehoor haal.  Wanneer jy by ʼn gedeelte van die storie kom wat die gehoor dink ʼn item op die tafel by pas, moet hulle dit uitskree en sê hoekom dit daar pas.

4 Hoofgedagtes  Daar is 3 karakters wat elke sy eie aandag moet kry.  Die 2 broers het baie uiteenlopende leefstyle – maar tog het hulle een ding in gemeen: Beide van hulle maak hulle pa emosioneel seer.


 Tog bly die Pa lojaal en lief vir altwee sy seuns. Hy hardloop na sy verlore seun en hy gaan buitentoe na sy oudste seun.  Wat is die prentjie van God wat hierdie pa versinnebeeld?  Een van uiterste genade. Vrae vir die gesprekskringe  Wie kan die gelykenis wat ons vandag behandel het, oorvertel?  Hoekom dink jy het die optrede van die jongste seun die pa seergemaak? Hoe dink jy het die pa gevoel?  Hoekom dink jy het die optrede van die oudste seun die pa seergemaak? Hoe dink jy het die pa gevoel?  Hou jy van die pa in hierdie gelykenis of nie? Hoekom sê jy so?  Wat dink jy leer die gelykenis ons oor God?

5 Afsluiting  Laat hulle in gesprekskringe afsluit en die vrae bespreek.


Lesmateriaal vir week 3 1 Lesdoelwit  Hierdie les handel oor gebed. Dit leer ons die belangrikheid daarvan om te volhard – maar dit herinner ons ook aan die vaderhart van die Here.

2 Inleiding  Roep so 5 kinders uit die gehoor vorentoe en deel ʼn stukkie watte aan hulle uit.  Verduidelik dat hulle eers moet wag voordat hulle dit in hulle ore plaas, omdat jy die korrekte manier eers moet demonstreer  Plaas die watte in jou ore en skree hardop: “Kan julle my nog hoor?”  Die antwoord is natuurlik “ja”, want hulle het nog nie hulle watte in hul ore nie. Behoort ʼn gelag af te gee.  Vra ʼn paar vrae wat hulle moet antwoord en maak asof jy hulle nie kan hoor nie.  Haal die watte uit jou ore en sê dat hulle nou kan voortgaan om hul watte in te sit  Net voordat hulle dit insit, sê vir hulle dat hulle nou mooi gaan moet luister want jy gaan ʼn paar vrae vra wat hulle moet beantwoord.  Wanneer hulle watte in die ore is, kan jy ʼn paar vrae aan hulle vra met ʼn fluisterstem – maak seker hulle kan nie hoor nie deur sag en vinnig te praat.  Na ʼn paar sulke vrae wat ʼn gelaggery afgee, laat hulle die watte uithaal.  Vra nou die gehoor: “Dink julle dat God se ore partykeer verstop is?”  Dink julle God hoor altyd as ons met Hom praat?  Wie het al in hulle gebedslewe gevoel of die Here nie hulle hoor nie?  Vandag luister ons na ʼn gelykenis wat Jesus vertel het oor gebed.

3 Skrifgedeelte  Luk 18:1-8

4 Hoofgedagtes  Ons almal voel soms of ons gebede teen die plafon vasslaan. Met respek gesê, dit voel vir ons of die Here se ore vol watte gedruk is.  Die gelykenis het 2 karakters en gevolglik 2 punte wat dit probeer maak:  Die weduwee se optrede is prysenswaardig want sy het volhard in haar versoek aan die regter.


 Weduwees was uitgelewer en het geen regte gehad of mense wat vir hulle uitkyk nie. Die weduwee kon dus nie op haar eie vermoëns staatmaak om haar uit die gemors te kry nie. Sy het die hulp van iemand anders nodig gehad. Daarom wend sy haar na die regter.  So is ons ook. Ons vertroue is nie in onsself nie. Ons vertroue is in God.  Wat die weduwee egter goed gedoen het, was om nie moed op te gee toe sy nie dadelik ʼn antwoord kry nie. Sy het volhard. En so moet ons ook wees. Ons moet volhard in gebed.  Maar dit is net die een deel van die boodskap van hierdie gelykenis. Die ander karakter is die slegte regter.  Hy word betaal om sy werk te doen, maar tog doen hy dit nie.  Eers toe hy later so lastig geval word, gee hy in en luister hy.  Die punt wat Jesus maak is dat as ʼn slegte regter na die pleidooi van ʼn hulpelose luister, hoeveel te meer nie die Here wie se hart nie makeer nie en wie lief is vir ons?  Jesus skets die regter negatief in die gelykenis, om die positiewe uit te lig.  Ons het nie ʼn slegte regter wie se aandag ons moet probeer trek nie.  Ons het ʼn goeie Vader wat wil help.  En dit is die sleutel in gebed: Om te onthou dat die een wat luister, ʼn goeie Vader is wat wil help.  As ons dus nie dadelik ʼn antwoord ontvang nie, beteken dit ons moet nie moedeloos word nie.  Ons kan met aanhou bid, nie omdat ons die Here se hart moet probeer verander nie, maar omdat ons met vrymoedigheid na Hom toe mag kom.  Ons mag aanhou en aanhou vra, omdat Hy ons Vader is. Vrae vir die gesprekskringe  Wie kan die gelykenis wat ons vandag behandel het, oorvertel?  Wie het al gebid en gevoel of die Here nie jou hoor nie? Deel ʼn bietjie met ons…  Die gelykenis leer ons 2 dinge, wat is daardie 2 dinge?

5 Afsluiting  Laat hulle in gesprekskringe afsluit en die vrae bespreek.


Lesmateriaal vir week 4 1 Lesdoelwit  Vandag se les handel oor ons plig as volgelinge van Jesus om ander te vergewe. Ons kan nie met die een hand God se vergifnis ontvang, maar met die ander hand vergifnis van iemand weerhou nie. ʼn Volgeling van Jesus se lewe word gekarakteriseer deur vergifnis.

2 Inleiding  Sê dat ons vandag ʼn spesiale soort Olimpiese spele gaan hou. Daar is verskeie aktiwiteite wat gaan plaasvind, maar net een persoon per aktiwiteit mag deelneem. Vir jou om egter te wen, moet jy met een probeerslag, 490 keer die doel van die aktiwiteit slaag.  Stel die verskillende soorte aktiwiteite bekend: o Laat ʼn sokkerbal 490 keer op jou voet bons o Gooi ʼn bal 490 keer in ʼn snippermandjie o 2 persone swaai ʼn springtou en die derde moet 490 keer spring sonder om die tou te raak o Iemand moet 490 push-ups doen o Iemand anders moet 490 sit-ups doen  Dit behoort baie energie los te maak die gehoor behoort lekker te lag en betrokke te wees.  Vra dan die gehoor of hulle kan raai watter Bybelstorie ons vandag behandel wat oor die getal 490 gaan?

3 Skrifgedeelte  Matt 18:21-35  Plaas die volgende items op ʼn tafel sodat die gehoor dit kan sien: o `Kroon o Geldnote (kan speelgeld wees) o Voorskoot (vir diensknegte) o Ketting/boeie (vir tronk) o Hartfiguur (vir vergifnis)  Vertel die verhaal deur van die gehoor te gebruik as akteurs. Die gehoor moet telkens as jy by ʼn element van die storie kom wat hulle aan iets op die tafel laat dink, uitskree.

4 Hoofgedagtes  Doen moeite om die Koning (wat God voorstel) uit te beeld as iemand wat besorgd oor regverdigheid en ook sy amptenare se welstand.


 Doen moeite om die amptenaar wat vergifnis teruggehou het, uit te beeld as iemand wat inhalig en selfsugtig is.  490 (70x7) is ʼn hiperboliese getal wat poog om uit te druk dat daar geen einde is aan vergifnis nie.  Beklemtoon die feit dat ons nie vergewe om vergewe te word nie (wat op verdienste neerkom), maar dat ons vergewe omdat ons vergewe is.  Iemand wat egter weier om te vergewe, besef nie dat die Here reeds meer vergewe het as wat Hy ooit van my verwag nie.  Gebruik die beeld en sê dat indien jy jou hand oopmaak om jou vergifnis by Jesus in ontvangs te neem, dit nie vir jou moontlik is om terselfdertyd jou hand toe te hou en wrokke vas te hou nie. Jy moet dit laat gaan.  Op ʼn soortgelyke wyse word die lewe van ʼn Christen gekarakteriseer deur vergifnis. Vrae vir die gesprekskringe  Wie kan die gelykenis wat ons vandag behandel het, oorvertel?  As jy luister na hoe die koning opgetree het, dink jy hy was onregverdig of regverdig? Hoekom?  As jy luister na hoe die amptenaar opgetree het wie se skuld vergewe is, dink jy hy het onregverdig of regverdig opgetree? Hoekom?  Wat beteken dit om iemand te vergewe?  Moes jy al iemand vergewe? Vertel ʼn bietjie vir ons.  Wat dink jy leer Jesus vir ons uit hierdie gelykenis?

5 Afsluiting  Laat hulle in gesprekskringe afsluit en die vrae bespreek.


Lesmateriaal vir week 5 1 Lesdoelwit  Die hoofoogmerk met vandag se les is om die punt te maak dat ons nie na ander mense moet kyk en dink dat hulle “onwaardige” gelowiges is omdat hulle geloofsverhale anders as ons s’n lyk nie. Daar mag nie selfvoldaanheid by ons wees nie. Die Here verwag ʼn nederige hart.

2 Inleiding  Hou 2 potlode op vir die gehoor om te sien. Een is ʼn nuwe potlood en die ander ʼn ou gebreekte (kort) een. Vra vir die gehoor watter een kan beter skryf? Die antwoord is natuurlik dat hoewel die een mooier lyk, kan altwee skryf en hulle funksie verrig.  Vra nou vir die groep om die verhaal van die haas en die skilpad te vertel. Dit handel mos oor hierdie 2 wat resies teen mekaar wou hardloop. Die haas was egter so selfvoldaan, dat hy eers bietjie gaan slaap het. Toe hy wakker skrik, was sy verbasing groot dat die skilpad hom voor is.  Hierdie kinderstorie herinner ons eintlik baie aan een van Jesus se gelykenisse. Laat hulle raai watter gelykenis handel oor 2 mense waar die een neerkyk op die ander…

3 Skrifgedeelte  Luk 18:9-14

4 Hoofgedagtes  Die Fariseër het na homself gekyk en gedink die lysie wat hy “reg doen” gaan maak dat hy in ʼn gesonde verhouding met God is.  Hy het gedink hy is ten minste beter as ander. Ons dink ook dikwels so: Ek is darem nie soos so en so wat nie kerk toe gaan nie…  Die “lysie” dinge wat ons dink ons “goed” maak, is altyd ekstern. Die “lysie” dinge wat vir Jesus belangrik is, is innerlik.  Volgens Jesus is enige iemand wat weet dat hy/sy die Here se genade benodig, gereed vir ʼn gesonde verhouding met die Here. Vrae vir die gesprekskringe  Wie kan die gelykenis wat ons vandag behandel het, oorvertel?  Wie was in Jesus se tyd die persoon in die oë van die mense wat die naaste aan God geleef het? ʼn Fariseër of ʼn tollenaar?  Wat dink julle wou Jesus deur hierdie gelykenis vir sy dissipels leer?


5 Afsluiting  Laat hulle in gesprekskringe afsluit en die vrae bespreek.


Lesmateriaal vir week 6 1 Lesdoelwit  Hierdie les handel daaroor dat ons nie alles in die lewe kan hê nie. Te veel keer dink ons dat ons volgelingskap van Jesus, met die res van my lewe kan balanseer. Jesus sê “nee, dit is alles of niks”.

2 Inleiding  Speel ʼn speletjie waar jy met beperkte aantal vuurhoutjies ʼn syfer moet verander. Etlike voorbeelde is te vinde by http://matchstickpuzzles.blogspot.co.za/  Na so 3 maklike voorbeelde waar hulle dit regkry, bied jy vir hulle ʼn onmoontlike opdrag aan.  Die gedagte is dat hulle moet besef dat hulle hopeloos te min/veel vuurhoutjies vir die doel het. Die taak is onmoontlik.  Gaan oor tot ʼn volgende voorbeeld wat dieselfde uitbeeld. Sê dat ʼn skip besig is om te sink. Daar is ʼn eiland waarheen jy kan swem om te oorleef. Maar jy kan nie alles saamvat nie, ander verdrink jy. Wat neem jy saam? Jou hond, varswater of kos? Maak ʼn keuse en motiveer dit.  Ons was dalk nog nie in so ʼn situasie nie, maar het jy geweet dat ons elke dag so ʼn besluit in ons verhouding met die Here moet maak?

3 Skrifgedeelte  Luk 14:25-34

4 Hoofgedagtes  Jesus wou die punt tuisbring dat dissipelskap nie goedkoop of maklik is nie.  Dikwels kom ʼn mens in situasies waar jy moet kies of jy Jesus gaan volg en of jy bv. gewildheid gaan kies.  In sekere situasies is dit net nie moontlik om altwee te kies nie.  Byna soos die vuurhoutjies waar jy te min/veel het, of soos die eilandsituasie waar jy ʼn keuse moet maak.  So moet ons dikwels keuses maak. Jesus sê dit help nie ons is halfhartige dissipels nie. Dan kon ons dit netsowel gelos het.  Vra die groep wat dink hulle is die tipiese dinge wat tussen hulle en hul verhouding met Jesus kom?  Lei die groep om in te sien dit kan dinge wees soos: o Vriende o Vergifnis


o Verhouding o Gewildheid o Toekomsplanne ens. Vrae vir die gesprekskringe  Wie kan die gelykenis van Jesus wat ons vandag behandel het, oorvertel?  Wat dink julle probeer Jesus vir ons leer deur hierdie gelykenis?  Noem ʼn paar voorbeelde van moeilike situasies waarin jy kan beland, waar jy ʼn keuse vir Jesus of iets anders moet maak.

5 Afsluiting  Laat hulle in gesprekskringe afsluit en die vrae bespreek.



Turn static files into dynamic content formats.

Create a flipbook
Issuu converts static files into: digital portfolios, online yearbooks, online catalogs, digital photo albums and more. Sign up and create your flipbook.