By ‘kleiner Germaanse tale’ word bedoel dié tale met minder as een miljoen moedertaalsprekers, te wete Faroëes, Fries, Hoogste Alemannies, Limburgs en Yslands. Hiervan is Faroëes en Yslands lede van Noord-Germaans, terwyl Fries, Alemannies en Limburgs deel van Wes-Germaans is. Elkeen van hierdie kleiner tale, behalwe Hoogste Alemannies, geniet amptelike erkenning in die gebied waar dit gepraat word.
Fries
Fries bestaan uit drie verskillende tale wat nie onderling verstaanbaar is nie, en wat oor Nederland en Duitsland versprei is. In die vroeë Middeleeue is die taal vanaf die streek rondom Bruges in België tot by die Weserrivier in Duitsland gepraat, al langs die suide van die Noordseekus, in ‘n kusgebied wat as Groter Frisia bekend gestaan het. Die grootste van die drie tale is Frysk of Wes-Fries, ‘n amptelike taal van die Nederlandse provinsie Fryslân (Friesland), waar dit op die vasteland en op die eilande Terschelling and Schiermonnikoog gepraat word, sowel as op vier dorpies in die Westerkwartier van die Groningenprovinsie. Die getal moedertaalsprekers is sowat 400,000. 2