4 minute read

Inleiding

Next Article
Suidwes Afrika

Suidwes Afrika

INLEIDING

Die motivering vir die samestelling van die bundel is hoofsaaklik gebore uit die onthulling van die Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument op 25 Oktober 2009. Die name van alle soldate wat sedert 1961 tot en met 1994 in ʼn oorlog gesterf het, is op die Muur aangebring. Ek was ten nouste betrokke by die opleiding van die lede van die Suid Afrikaanse Spoorwegpolisie wat dienste in die Operasionele gebied verrig het en ek wou weet of die vyf lede wat gedurende 1982 in die Operasionele gebied gesterf het, se name ook op die Muur aangebring was. In Maart 2010 het ek besoek aan die Voortrekkermonument gebring en ook ʼn besoek by die Muur afgelê om te kyk waar die lede se name op die Muur verskyn het. Tot my ontsteltenis was die lede se name nie op die Muur aangebring nie. Die stappe wat gevolg was om die lede se name op die Muur te laat aanbring word elders bespreek. Lede van die S.A.Spoorwegpolisie het ʼn groot bydrae tot die beveiliging van die Spoorweë se personeel en eiendom asook dié van die algemene publiek wat van die treine, vliegtuie en busse gebruik gemaak het, gelewer. So ver my kennis strek is weinig, indien enige, van die Spoorwegpolisie se werksaamhede wat so belangrike rol in die geskiedenis van die eertydse Suidwes Afrika se geskiedenis gespeel het, vir die nageslag opgeteken. Derhalwe het ek besluit om die S.A.Spoorwegpolisie se betrokkenheid en werksaamhede in die eertydse Suidwes Afrika (Namibië) op te teken. Om dit te kon te doen het ek verskeie oud lede wat in Suidwes Afrika diens gedoen het, gekontak om hulle insette te bekom. Nadat ek al ver met die projek gevorder het, het ander oud lede wat daarvan te hore gekom het, my gekontak en versoek dat ek nie net die gebeure in Suidwes moet aanteken, maar ook die verhale en staaltjies van wat in die Republiek op die stasies, lughawens, seehawens ens. gebeur het. Ek het toe soos die diaken gevoel wat vir die eerste keer na die erediens in die konsistorie gevra was om met gebed af te sluit. Hy bid toe: “Here hier staan ek, die wat kan bid die wil nie en die wat nie kan nie die moet ”. Ek het gevoel dat ek nie die aangewese persoon is vir die taak nie, maar het nietemin skouer teen die wiel gesit en begin skryf. Hieronder is die produk van my ywer. Daar was dikwels in die verlede verwys na die groot familie wat die Spoorwegpolisie was. Die egtheid hiervan was bevestig toe lede wat vyftig jaar gelede, vir so kort tydperk as een jaar, lid van die Mag was, my gekontak het en hulle ervarings as lede van die Mag met my gedeel het. In dié tydperk het ek drie-honderd-en-negentig oud lede opgespoor en persoonlike kontak met minstens drie-honderd-en-tagtig van hulle gemaak. Ses-en-tagtig van hierdie lede en vriende het hulle verhale en vertellings aan my gestuur wat ek vir die doeleindes van die bundel verwerk het. Dit is net jammer dat ek nie die gesprek wat ek met elkeen van hulle gehad het op band opgeneem het nie. Die nostalgie toe ek van die lede gekontak het, het in talle gevalle die oorhand gekry en het van hulle ʼn traan van verlange weggepik toe ek myself aan hulle bekend gestel en die rede vir my oproep bekend gemaak het. Twee troepmaats, kolonel Riet Reichert en Johan Venter, beide tagtig jaar oud wat in 1950 saam in die Kollege te Kroonstad was, kon weer na sestig jaar met mekaar in kontak gebring word. Op 31 Januarie 2011 het ek en oom Johan by kolonel Reichert gaan kuier. Hulle het ‘n hond uit ‘n bos gesels oor die dinge wat met hulle in die Kollege gebeur het. Kollegas wat vir tot so lank as vyf-en-veertig jaar laas iets van mekaar gehoor het, kon weer met mekaar in verbinding tree. Die hoogtepunt van die projek was egter toe daar op 12 Januarie 2011 versoening tussen twee oud-kollegas plaasgevind het na ʼn ongelukkige skietvoorval wat bykans vyf-en-dertig jaar gelede op die grens plaasgevind het. Dit opsigself het die nege maande wat ek aan die projek afgestaan het, die moeite werd gemaak. Wat die taak egter bemoeilik het, was die feit dat geen amptelike dokumente of korrespondensie, behalwe artikels in nuusblaaie, tydskrifte en die dokumente wat lede in hulle besit gehad het, beskikbaar was nie. Dit is ook ʼn onbegonne taak om man alleen alle prestasies en suksesse wat die S.A. Spoorwegpolisie, of individuele lede, bereik het, volledig in die bundel aan te teken. Op 1 Oktober 2011 sal dit vyf-en-twintig jaar wees sedert die Mag, wat oor goed opgeleide, gedissiplineerde en bekwame lede beskik het, in die niet verdwyn het. Talle van die offisiere en lede het ná die amalgamasie met die Suid Afrikaanse Polisie hulle merk op verskeie terreine gemaak. Van hulle het tot die rang van luitenant generaal gevorder, ander was as die Hoof van die S.A. Polisie se Opleidingsvleuel aangestel, ander weer as Provinsiale Kommissarisse, Distrikskommandante en Stasiebevelvoerders asook die Bevelvoerder van een van die SAP se Teeninsurgensie opleidingsentrums. Ronnie Beyl (Brigadier aft.) Outeur. 21 Januarie 2011

Advertisement

2

This article is from: