15 minute read

Internasionale Lughawens

Next Article
Suidwes Afrika

Suidwes Afrika

Veiligheidstak van die S.A. Polisie inligting ontvang het dat ʼn aantal Limpet kleefmyne by die opslagplek geplant was. Ons het die gebied deursoek en al die myne, behalwe vir een, gevind. ʼn Uniform offisier van Nelspruit het op die toneel opgedaag en was eintlik meer in ons pad as wat hy van hulp was. Hy was later versoek om die onmiddellike toneel te verlaat waarop hy langs ʼn sink verf stoor gaan staan het. Terwyl hy vies langs die stoor gestaan het, het ek en die ander hondegeleider die vermiste kleefmyn langs hom teen die sinkstoor opgemerk. Ons het hom nader geroep en toe hy by ons kom, het ons die kleefmyn aan hom gewys. Hy het die toneel onmiddellik verlaat sonder dat hy ʼn woord gesê het. Adjudant offisier Roy Otto van die S.A. Polisie se Veiligheidstak op Komatipoort het die kleefmyn verwyder en onskadelik gestel. My tweede ervaring was by Waterval Onder waar die terroriste ʼn koffieblik, wat met plastiese springstof gevul was, onder aan die brug vasgemaak het. Sersant Japie Smit, toe Posbevelvoerder te Kaapmuiden en ook ʼn opgeleide springstof deskundige, was alreeds besig om die selfgemaakte bom onskadelik te stel toe ek daar aangekom het. Daar was papiere met slagspreuke daarop wat aan ʼn trekskakelaar gekoppel was. As iemand die slagspreuke wou verwyder, sou dit die bom geaktiveer het. (Pieter Swanepoel)

INTERNASIONALE LUGHAWENS

Advertisement

Die kerk as wegsteekplek

Een nag was daar by die Staatspakhuis te Jan Smuts-lughawe ingebreek. ʼn Groot aantal gewere, handwapens, TV stelle, kassies met silwer kettings en ander goedere was gesteel. Ek was die ondersoekbeampte in die saak en was bygestaan deur die Posbevelvoerder, kolonel André Horak, en die speuroffisier, kaptein Andries Walton. Vroeg daardie oggend het die kommissaris, generaal J.J.J. van Vuuren, geskakel en opdrag gegee dat ons hom te alle tye met die vordering van die ondersoek op hoogte moes hou. Die Kommissaris wou met alle geweld die speurders van Johannesburg na die lughawe stuur om die ondersoek oor te neem. Ek en Eddie van Dyk het eendag die speurders van die S.A. Polisie op Kemptonpark gaan besoek en daar sien ek ‘n aantal kassies met silwer kettings waarop hulle in ʼn klopjag op beslag gelê het. Kolonel Horak en kaptein Walton het die bevel van die ondersoek oorgeneem. Daardie naweek het ek en ʼn swart speurder-konstabel deur die hele Tembisa lokasie gery en alle leidrade het ons keer op keer teruggeneem na ʼn kerk in Tembisa waar ʼn spesifieke swart vrou die koster was. Ons het een spesifieke nag weer inligting ingewin en met die opvolg daarvan het die ondersoek ons weereens teruggeneem na dieselfde kerkgebou. Ons het talle vuurwapens en TV stelle gevind tydens die deursoeking van die kerk en die goedere was onder andere in die konsistorie, onder die preekstoel en onder die banke weggesteek. Meer as vyftig beskuldigdes was by die saak betrokke. Ek was betrokke met die opstel van die dossier wat ʼn lywige een was. Al die beskuldigdes was skuldig bevind en gevonnis. Die prokureurs wat namens die beskuldigdes opgetree het, het een na die ander hulle verdediging gestaak aangesien die vuurwapenwet, waaronder die beskuldigdes aangekla was, hulle Moses was. (Jan Vorster)

Diefstal van Krugerrande.

Gedurende die jare 1970 - 1980 was lede van die S.A. Spoorwegpolisie te Jan Smutslughawe verantwoordelik vir die veilige begeleiding van groot besendings goud en Krugerrande per vliegtuig na verskeie lande oorsee. Vir hierdie doel was daar van goed opgeleide lede van die SASP gebruik gemaak wat ook dienste as anti - kapers op SAL se vlugte vervul het. In die laat sewentigs was ʼn besending Krugerrande dan ook na New Yorklughawe gestuur. Die begeleiers van dié betrokke besending was adjudant offisier Van Dyk en sersant Banie Buys. Net na die aankoms van die vliegtuig te New York-lughawe was ek in kennis gestel dat een kissie met Krugerrande met aankoms te New York-lughawe kort ontvang was. Ek was op daardie stadium die Posbevelvoerder op die lughawe. Die berig het koue rillings langs my ruggraat afgestuur aangesien dit die eerste keer in die geskiedenis van die SASP was dat so ‘n waardevolle besending kort ontvang was. Ek het gesê dat dit

80

onmoontlik was dat die besending kort vanaf Jan Smuts-lughawe gestuur kon gewees het. Die prosedure by die besending van waardevolle vrag was die volgende : Lede wat die begeleiding doen, gaan die besending saam met die personeel van S.A. Lugdiens na, waarna hulle vir die aantal houers teken. Hulle begelei dan die besending na die betrokke vliegtuig waarin dit gelaai gaan word. Sodra die besending in die vragruim gelaai is en die deure daarvan gesluit is, het die lede na die trappies van die vliegtuig beweeg waar hulle aan boord van die vliegtuig gegaan het. Ek was oortuig daarvan dat die kissie met die Krugerrande op New York-lughawe gesteel was omdat, met die aankoms van die SAL vliegtuig te New York-lughawe, was die lede wat die begeleiding gedoen het nie toegelaat om na die laaiblad, waar die besending reeds uit die vragruim van die vliegtuig gelaai was, te gaan nie. Hulle moes eers deur Paspoortbeheer en Doeane gegaan het alvorens hulle na die laaiblad kon beweeg het. Op daardie stadium was die besending dus reeds uit die vliegtuig gelaai en op die bagasiewa gesit vir vervoer na die kluis waar dit bewaar sou word. Die lede het daarna die besending saam met die New Yorkse polisie na die kluis begelei waar die besending nagesien was. Tydens die kontrole van die besending was daar toe gevind dat een kissie met Krugerrande kort was. Ek het na New York gevlieg waar ek by die FBI vir die ondersoek aangesluit het. Dit was duidelik dat die kissie Krugerrande nie op Jan Smuts-lughawe kort gelaai was nie, maar dat dit gesteel was voordat die besending op die laaiblad beland het. Die ondersoek van die saak op Jan Smuts-lughawe was deur myself en adjudant offisier Van Dyk behartig. Op ʼn gegewe dag het adjudant offisier Herman Buckingham, wat ook op die lughawe werksaam was, my meegedeel dat hy inligting ontvang het dat ʼn dame wat by een van die privaat karweiers werksaam was, daagliks met ʼn plastiese Checkers sak vol R10-note by die werk opgedaag het. Op ʼn vraag van haar kollegas waar sy al die geld gekry het, het sy gesê dat sy dit by haar vriend gekry het wat as ʼn tegnikus in die tegniese afdeling van SAL op die lughawe werksaam was. Ek het die tegnikus na my kantoor ontbied waar hy deeglik ondervra was rakende die geld wat hy aan sy vriendin gegee het. Hy het uiteindelik drie verskillende verduidelikings gegee. Al hierdie verduidelikings was egter leuens. Om die waarheid uit hom te probeer kry was daar besluit dat hy vir een nag in die selle by Germiston toegesluit sou word. Die volgende dag het die verdagte weer teruggeval op sy verduidelikings van die vorige dag. Dit was toe ek opdrag gegee het dat sy vriendin na my kantoor moes kom. Sy het haar vriend se stories, wat hy aan die ondersoekspan vertel het, beaam. Uit die ondervraging was dit duidelik dat sy ook gelieg het en wel geweet het wat die oorsprong van die geld was. Die verdagte en sy vriendin was toe meegedeel dat hy sou teruggaan na die selle by Germiston en dat sy vriendin die nag in die selle in Kemptonpark aangehou sou word. Die verdagte het byna ʼn hartaanval gekry toe hy verneem het dat sy vriendin ook in die selle aangehou sou word. Hierna het hy gesoebat dat sy vriendin nie opgesluit moes word nie en dat hy die waarheid sou praat. Hy het die ondersoekbeampte meegedeel dat hy besig was om die seildoek van een van SAL se vliegtuie in die vragruim te vervang toe hy op die swart kissie afgekom het wat agter die seildoek versteek was. Hy was aanvanklik onder die indruk dat die kissie ammunisie bevat het en hy het die kissie agter die seildoek verwyder, dit in sy oorpak toegedraai, agterop sy fiets gesit en na sy woonstel geneem. Met aankoms by sy woonstel het hy die kissie oopgemaak en gevind dat die inhoud daarvan inderwaarheid Krugerrande was. Hy het die Krugerrande stelselmatig begin verkoop en die kontantgeld dan vir sy vriendin gegee om dit vir hom te bank. Met die deursoeking van sy woonstel was daar nog ʼn aantal Krugerrande gevind. Vir een of ander rede het ek die luidspreker van sy Hi Fi radio opgetel en gevoel dat die luidspreker besonder swaar was. Die luidspreker was toe oopgemaak en ʼn groot aantal Krugerrande was daarin gevind. Met die geld wat hy met die verkoop van die Krugerrande ontvang het, het hy vir hom ʼn Mercedes Benz motor gekoop. Daar was toe op die motor beslag gelê. Baie van die vermiste Krugerrande was opgespoor nadat die beskuldigde die persone aan wie hy dit verkoop het aan die ondersoekspan uitgewys het. Na die ondersoek was hy aangekla en het hy in die Hooggeregshof in Pretoria verskyn waar hy aan diefstal van die Krugerrande skuldig bevind was.

81

Na afloop van die saak het ek verdere samesprekings met die FBI gevoer en hulle het my meegedeel dat hulle ʼn vorige saak gehad het waar ʼn kissie met goud ook gesteel was. Hulle ondersoek het aan die lig gebring dat ʼn kissie met goud tydens die uitlaai van die besending gesteel was en later agter die seildoek van ʼn ander vliegtuig versteek was. Die naam en besonderhede van die vliegtuig waarin die kissie versteek was, was dan neergeskryf en wanneer die storm rondom die vermiste besending gaan lê het, was die versteekte kissie uit die vliegtuig verwyder sodra die vliegtuig weer in New York geland het. Dan word die kissie verwyder en by die lughawe uitgesmokkel. In hierdie geval het die vraghanteerders in New York dieselfde modus operandi gevolg. Hulle het die kissie met die Krugerrande wat gesteel was in ʼn ander SAL vliegtuig, wat op daardie stadium op die laaiblad gestaan het, gaan versteek met die doel om dit te verwyder wanneer die vliegtuig weer by New York sou aandoen. Die vliegtuig van SAL wat die oorspronklike besending na New York vervoer het, was met sy aankoms te Jan Smuts-lughawe deeglik ondersoek. Ongelukkig vir die diewe in New York was die vliegtuig waarin hulle die kissie versteek het, met sy terugkeer na Jan Smuts-lughawe geskeduleer vir reparasies en die vervang van die seildoek; dit is waarom die tegnikus op Jan Smuts-lughawe op die kissie afgekom het. Hy het sy kanse waargeneem en dit uitgesmokkel. As die diewe die kissie in die vliegtuig wat dit aanvanklik na New York vervoer het, versteek het, sou die ondersoekspan dit met aankoms te Jan Smuts-lughawe opgespoor het. (Lt. Genl. André Horak)

International Assosiaction of Airport and Seaport Police

Die S.A. Spoorwegpolisie het in 1970 lid van die International Association of Airport and Seaport Police geword. Ek en luitenant kolonel Roelf van Heerden het die eerste kongres van die IAASP in Miami bygewoon. Die doel van hierdie internasionale organisasie was om misdaad en veiligheid op lug- en seehawens te koördineer en om kontakte in offisiersgeledere wêreldwyd te bewerkstellig. Daar was in 1970 reeds ongeveer 60 lande wat deel uitgemaak het van dié organisasie. Daarna het ek die jaarlikse kongresse eers as kolonel, en later as brigadier, saam met die dienende Kommissaris van die S.A. Spoorwegpolisie bygewoon. Die eerste kongres was deur luitenant generaal J.J.J. van Vuuren bygewoon, gevolg deur luitenant generaal J.H Claassen en toe later deur luitenant generaal H.J Visagie. Laasgenoemde was dan ook die laaste Kommissaris van die S.A. Spoorwegpolisie. Elkeen van die Kommissarisse, asook myself, het op die Raad van Direkteure van die IAASP gedien wat kongresse te Miami, Seattle, Vancouver, Montreal, New York, Washington, Maryland, Bermuda, Ciprus, Taiwan en Hong Kong bygewoon het. Lidmaatskap tot die organisasie het tot gevolg gehad dat ek, wat toe die Posbevelvoerder te Jan Smuts-lughawe was, ook die Bevelvoerder van die anti-kapers eenheid was. Baie belangrike kontakte kon met offisiere van ander lande, waarheen SA Lugdiens vlugte onderneem het, opgebou word. Die samewerking met die buitelandse offisiere het my taak, wat Staatspresidente B.J Vorster, P.W Botha en verskeie kabinetministers op buitelandse reise vergesel het, baie vergemaklik. Ek en my span was vir die veiligheid van die BBP’s op die buitelandse lughawens asook die vlug veiligheid van die vliegtuie verantwoordelik. Verskeie van die buitelandse offisiere was ook per geleentheid na Suid Afrika uitgenooi om besoek aan die lug- en seehawens in Suid Afrika te bring. Hierdie wedersydse besoeke het sterk kameraderie en vertroue tussen die lede van die S.A. Spoorwegpolisie en polisiemagte van oor die wêreld heen tot gevolg gehad. Wat die lidmaatskap van die Spoorwegpolisie se offisiere tot die IAASP so besonders gemaak het, was dat die offisiere van die SASP tot die Raad van Direkteure van die organisasie verkies was, terwyl Suid Afrika in daardie stadium as die muishond van die wêreld beskou was. (Lt. Genl. André Horak)

Die bagasiedief en die vuurwapens

Nadat die anti-kapers se dienste opgehef was, was ek belas met die ondersoek van bagasie diefstalle wat te Jan Smuts-lughawe plaasgevind het. Met die ondersoek van een van dié sake het ek alle moontlike leidrade opgevolg, dog sonder enige sukses. Een oggend terwyl ek en my kollega, adjudant offisier Eddie van Dyk, ons toebroodjies geniet het, het ek aan

82

Eddie gesê dat hy dadelik moes kom, want ek was vas van plan om die blikskottel daardie dag vas te trek. Eddie wou eers klaar eet en nog sy tee drink, maar ek het hom oorreed om dit te los en saam met my te gaan. Talle passasiers het in die aankomste saal aangeland en ek het posisie gaan inneem by die deure van die aankomste saal, terwyl Eddie by die toilette stelling gaan inneem het. Ons het die passasiers onder observasie gehou soos wat hulle na die vervoerband beweeg het om hulle bagasie te ontvang. Daar was baie passasiers en die volgende oomblik het Eddie net eenvoudig verdwyn. Toe ek omkyk was daar twee passasiers wat gekla het dat hulle bagasie nie op die band was nie. Ek het hulle versoek om my na die speurderskantore te vergesel en, onderweg na die kantoor, het ek vir Eddie raakgeloop terwyl hy met ʼn blanke man, met ‘n klomp bagasie op ʼn trollie, iewers heen onderweg was. Eddie het ʼn blou oog gehad wat hy nie vroeër gehad het nie. Hy het die verdagte in die aankomste saal opgemerk en hom agtervolg tot waar hy agter ʼn motor in die parkeerarea gaan wegkruip het. Net toe Eddie om die draai kom, het die verdagte ʼn vuurwapen op Eddie gerig. ʼn Gestoeiery het onstaan tussen Eddie en die verdagte en in die proses het die verdagte hom met die vuis op die oog geslaan. Die beskuldigde, ene mnr. Van den Berg, was gearresteer en was na die speurderskantore vir ondervraging geneem. Onder leiding van kaptein Andries Walton het ons na die beskuldigde se huis in Randfontein gegaan. Met die deursoeking van sy huis het ons op talle reistasse, klerasie, toiletsakkies ens. beslag gelê. Van den Berg het die bagasie gesteel en na sy huis geneem waar sy vrou die klere gewas en alle identiteitsmerke op die klere verwyder het. Daarna het hulle die gesteelde items aan swart mynwerkers verkoop. Een passasier het ook twee vuurwapens as gesteel aangemeld. Die beskuldigde was ook met dié misdaad verbind. Hy het beweer dat hy die vuurwapens in die Donaldson dam, tussen Randfontein en Westonaria, gegooi het. Ek en Eddie het die dam met ‘n kano ingevaar en dit het maar wankelrig gegaan want ons was nie gesout in die kuns van kano roei nie. Ons kon skaars ons geluk glo nadat ek die vuurwapen in die water opgespoor het. Dit was voorwaar ʼn gelukskoot soos min. Die wapen was al rooi van die roes. Ons kon die ander vuurwapen nie opspoor nie. Later het ons verneem dat die ander vuurwapen nooit in die dam gegooi was nie, maar wel deur sy vrou versteek was. Die beskuldigde was tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. Na ʼn ruk het die beskuldigde uit die tronk ontsnap en moes ek en Eddie weer na hom gaan soek het. Ek het ʼn vermoede gehad waar hy sou skuil. Ek en Eddie het in die pad geval oppad na Donaldson dam toe. Met ons aankoms by die dam het ons ʼn karavaan opgemerk wat by ʼn staanplek geparkeer was. ʼn Mans persoon het net mooi op daardie tydstip met ʼn handdoek om sy nek na die ablusieblok gestap. Ons die beskuldigde dadelik herken. Ons het intussen ook berigte ontvang dat Van den Berg aan almal wat wou luister, verkondig het dat hy vir my en Eddie sou doodskiet. Nadat hy by die ablusieblok ingestap het, het ek en Eddie ʼn rukkie gewag totdat ons gehoor het dat hy die stortkrane oopgedraai het. Van den Berg het uit volle bors onder die stort gesing. Ons het meteens die verdagte bestorm en ek het die .38 Special tussen sy oë vasgedruk. Ons wou geen kanse waag nie want hy het immers gedreig dat hy ons wou doodskiet. Ons het hom weer in hegtenis geneem en hy het sy vonnis uitgedien. Terwyl hy in die tronk was, het sy vrou ʼn verhouding met ʼn ander man aangeknoop. Dié man het die ander vuurwapen by haar oorgeneem en in sy besit gehou. Terwyl die verhouding aan die gang was, het sy weer ʼn verhouding met ʼn ander man aangegaan. Haar lover het dit te hore gekom en haar, met die gesteelde vuurwapen wat sy aanvanklik weggesteek het, doodgeskiet. (Jan Vorster)

Rooftog by Jan Smuts-lughawe

ʼn Bende bestaande uit vier rowers, het gedurende November 1968, by Jan Smuts-lughawe op twee werknemers van die Air Travel Maatskappy toegeslaan. Hulle het die werknemers met ʼn rekverband vasgebind, gemuilband en van R6529-00 beroof. Hulle het geen leidrade op die toneel agtergelaat nie. Goeie speurwerk het daartoe gelei dat die rowers drie dae later deur die ondersoekbeampte, kaptein Eddie van Eeden en sy span speurders, sersant Robbie Robberts, konstabels Andries du Plessis en Jan Mokwena in Mayfair, Johannesburg vasgetrek is. ʼn Speelgoed rewolwer wat vermoedelik in die rooftog gebruik was, was by hulle

83

This article is from: