VRYDAG 19 JULIE 2013
WWW.BLOEMNUUS.CO.ZA
GRATIS
Riana Nel
Leergierig
Op die spel
Kaartjies vir haar konsert gegee
Kunsvrou oefen haar Spaans op pelgrimstog
Eet met David in Iewers Nice
bl. 7
bl. 11
bl. 7
Romanzlid trek na Bfn Jens Friis
VROEëR die week bel ’n leser van Bloemnuus: “Ek is seker ek het André Venter van Romanz by die Waterfront gesien én hy het goed vir sy huis gekoop.” Ja, dink ek, party gerugte kry ook nie end nie . . . Bloemnuus het ’n paar weke gelede ook gehoor André trek Bloemfontein toe, maar Select Musiek het toe geantwoord daar is nie sprake van nie. Die leser op die foon is egter seker van sy saak: “Ek is mal oor Romanz se musiek. Dit wás André – al het hy ’n keps en sonbril gedra.” Só e-pos ek toe weer vir die woordvoerder, Wendy van Niekerk, by Select en gou antwoord sy terug: “Jip, dit is so. André het die week getrek.” (Die vorige keer kon Wendy dit nog nie bevestig het nie, want daar was nog nie sekerheid oor die verhuising nie.) Waarom na Bloem? Dit is uit Gauteng waar André tot Sondag vir vertonings is dat hy vertel waarom hy besluit het om ’n Bloemfonteiner te word. “Bloemfontein was ’n logiese keuse om die volgende vier redes. “Ek is 33 jaar gelede in Welkom gebore en het daar matriek geskryf. My Vrystaatse wortels is dus sterk. “My oudste seun gaan een van die dae hoërskool toe en dit is dus ’n goeie tyd om ’n skuif te maak. “Bloemfontein is groot genoeg dat jy alles kan kry wat jy nodig het, maar steeds relatief veilig vir ’n stad. Dit gaan dus oor lewensgehalte. “En laastens is Romanz op ’n punt dat die lede op enige plek in die land kan woon.
“Bloemfontein is lekker sentraal en daar is vlugte na die groot stede.”
Lewe op die pad André is bewus watter stremming dit op ’n sanger se gesinslewe plaas as hy baie weg van die huis is. Hieroor skryf hy op Romanz se CD Ek sal getuig: Ek wil graag die album opdra aan my wonderlike vrou, Alphi, en ons ongelooflike seuns, Jandré en Walroux, wat die tye dat ek weg van die huis is om ’n droom te lewe altyd geduldig verdra en gereed staan om te ondersteun en lief te hê.” Behalwe vlieg van Bloemfontein sal André waarskynlik ook ry, want hy beskryf homself as ’n petrolkop wat lief vir vinnige motors is. Hoogtepunte Hy sing reeds van kleintyd in Welkom en het op ses jaar al in The Sound of Music opgetree. Op skool was rugby ook ’n groot voorliefde, maar sang het gewen. “Hoogtepunte saam met Romanz was om die volkslied te sing toe die Springbokke teen die All Blacks gespeel het, en om op Huisgenoot-Skouspel en ook prins Albert en prinses Charlene se troue in Monaco op te tree.” S Vir foto’s en ’n video van Romanz gaan kyk by www.bloemnuus.co.za. S Bloemnuus voer Maandag ’n onderhoud met André op sy nuwe tuisdorp. As jy voorstelle vir vrae vir die onderhoud het, laat ons op Facebook weet.
André Venter (met die wit hemp in die middel) van Romanz het pas na Bloemfontein verhuis. Dié is ’n argieffoto van die groep en Louis Loock (links) se plek is sedertdien deur Christopher Viljoen gevul. Regs van André is Adam Barnard en Burgerd Botha.