VRYDAG 31 MEI 2013
WWW.BLOEMNUUS.CO.ZA
GRATIS
Dit gaan ’n fees wees Braam Muller en Jens Friis
VANJAAR vier die Vryfees, amptelik een van die gewildste feeste in Suid-Afrika, ’n gelukkige dertiende verjaardag. Bloemnuus is die mediaborg van die vlagskip uitvoering, Spectacular Spectacular. As ’n lusmakertjie gee ons tien dubbelkaartjies weg. (Sien hieronder hoe jy moet maak om dit te wen.) Ná ’n wegholsukses en staande toejuigings elders, besoek dié dansproduksie Bloemfontein op Vrydag 12 Julie om 15:30 in die Callie Human. Van ons land se voorste dansers dans saam met ’n paar bekendes soos Shaleen Surtie Richards, Valiant Swart en Neels van Jaarsveld die verhoog aan die brand. Van klassieke tot kontemporêr, ballet tot gumboot – op die maat van Karoonag en Lisa se klavier. Bring jou tiener of jou ouma. Jy sal uitloop met ’n huppel in jou stap. Dit kos R110 en kaartjies is te koop by Computicket. Kyk ook by www.vryfees.co.za. Maak só om vir die tien dubbelkaartjies wat weggegee word in aanmerking te kom: Stuur ’n SMS na 45527 gevolg deur die woord “dansproduksie”.
Die kompetisie begin vandag om 07:00 en eindig Maandag om 11:00. Dit kos R1,50 per SMS. As jy ’n SMS stuur, gee jy volgens wet Bloemnuus toestemming om jou vir bemarkingsdoeleindes te kontak. GEWILD Die Vryfees is vanjaar deur kykNET se Fiësta as een van die vier gewildste feeste in Suid-Afrika aangewys. Die meeste respondente het die fees reeds meer as vier keer die afgelope 12 jaar besoek en bykans almal meen die fees bied goeie waarde vir geld.
Vanjaar is reggekry om alle opvoerings en konserte op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat aan te bied – jy kan dus brandstof spaar
deur op een plek te parkeer en voet te slaan na al die lokale waar jou programkeuses plaasvind. Toegang tot die feesterrein en kunstemark bly
gratis. Dus hoef jy nie in te boet op ’n glas wyn of koedoeburgers vir die kinders nie. Die slagspreuk van die fees vanjaar is HARTELUS! Almal kan vanjaar op die Vryfees na Hartelus baljaar, want die kunsteprogram bied waarlik iets vir almal. Die Bloemfonteinse stadsorkes speel Andrew Lloyd Webber. Vir die manne is daar ware burlesk-poppies wat sing en dans in Big Top Burlesque. Luister jy fyner, is daar Zorada Temmingh se orrelspel, André van Daalen se hobo, Magdalene Minnaar en Zanne Stapelberg se sopraanstemme en Charl du Plessis se Bach-jazz. Die kontemporêre musiekprogram bied nuutjies aan soos Chris Chameleon saam met die Bloemfonteinse Kinderkoor, Fyngeslyp met Jannie Moolman waarin Bloemfonteinse top-kunstenaars onder hande geneem is vir ’n konsert, en dan ook die feestreffer en gala-openingskonsert Liedjie vir jou met onder andere Laurika Rauch, die 78-jarige Dorothy Masuka en Karen Zoid.