CROP PROTECTION
Oesbeskerming van sagtevrugte Oesbeskerming maak ‘n integrale deel uit van enige produksiestelsel, ook in die produksie van sagtevrugte. Die kuns is om die oesbeskerming op ’n volhoubare manier te doen. Volhoubare oesbeskerming behels dat die produkte wat gebruik word, volhoubaar en omgewingsvriendelik moet wees. NEXUSAG
O
esbeskerming se produkte moet só gebruik word dat dit nie weerstand ontwikkel nie en die produkte moet goedgekeur wees deur die markte waarheen die sagtevrugte uitgevoer word. Dit moet ook op so ’n manier toegedien word dat die maksimum residu-limiete (MRL) nie oorskry word nie. Die chemiese program wat gebruik word moet boonop finansieel volhoubaar wees vir die produsent, wat beteken dat al die produkte wat gebruik word op een of ander manier waarde tot die eindproduk moet toevoeg. Onkruidbeheer of -bestuur is een van die bene van optimale oesbeskerming. Deur die onkruide te bestuur, hetsy dit met onkruiddoders dood te spuit of deur meganiese bestuur te beheer, soos met die gebruik van bossieslaners, gee dit die plante ’n kans om beter te presteer. Plantprestasie verbeter omdat daar nie mededinging met die onkruide is vir water en voedingstowwe nie, gevolglik is daar ’n beter verspreiding van water en voedingstowwe in die wortelstelsel. Boordhigiëne kan ook makliker toegepas word, wat lei tot beter bestuur van direkte en indirek verwante peste en plae. Onkruide huisves verskeie nadelige insekte wat beter beheer kan word indien onkruide onder beheer is. Die ander bene van optimale oesbeskerming is siekteen plaagbeheer. Suksesvolle siekte- en plaagbeheer begin by die monitering daarvan. Sommige siektes en plae moet voorkomend behandel word, veral as daar ’n geskiedenis van hierdie siektes en plae in die boorde is. Die siektes en plae moet egter steeds gemonitor word om te bepaal of bykomende stappe nodig is. Siektes kan oor die algemeen nie gekwantifiseer word nie, maar die mate van teenwoordigheid van die siekte kan gebruik word as aanduiding of die huidige oesbeskermings program doeltreffend is en of dit aangepas moet word. Plae is oor die algemeen meer kwantifiseerbaar, veral as lokvalle
12
gebruik kan word. ’n Ander manier om plae te kwantifiseer is om vrugmonitering te doen. Die besluit om bykomende siekte- of plaagbeheer te doen, buiten die bestaande voorgeskrewe program, kan op die volgende fasette gebaseer word: • Ekonomiese skadevlak (ESV): Die vlak van besmetting is van so ’n aard dat die beheer daarvan gelykstaande is aan die skade wat dit aan die vrugte aanrig. • Ekonomiese drempelwaarde (ED): Die punt waar die siekte of plaag beheer moet word voordat dit die ESV bereik. Drempelwaardes is nie vir alle siektes en plae beskikbaar nie, maar indien dit wel is, kan dit as ‘n riglyn gebruik word. Ander faktore wat ook hierdie besluit kan beïnvloed, is byvoorbeeld die volgende: • Die tyd van die seisoen – as dit naby blaarval is, sal meer insekskade aan blare nie ’n groot probleem wees nie, gevolg lik sal dit nie nodig wees om die insekte te beheer nie. • Die teikenmark – produkkeuse gaan bepaal of daar ’n aanvaarbare chemiese residu gaan wees of nie. Sekere markte het ook spesifieke fitosanitêre vereistes. • Die kultivar en vrugtipe – sommige kultivars is minder vatbaar vir sekere siektes en plae wat die moontlike versprei ding en skade daarvan kan bepaal. Indien die moontlikheid van meer skade laag is, is bykomende beheer onnodig. • Doeltreffendheid van beskikbare plaagdoders – om die maksimum residuvlakke (MRL’s) vir spesifieke uitvoermarkte te bestuur, mag net sekere plaagdoders gebruik word. Indien hierdie goedgekeurde plaagdoders nie meer optimaal doeltreffend is nie, gaan dit nie finansieel sin maak om dit te gebruik nie. Kontak 'n geakkrediteerde gewasadviseur van NexusAG Croplife vir meer inligting oor volhoubare gewasbeskerming van sagtevrugte. Skakel 021 860 8040 of besoek www.nexusag.net.
VEGETABLES & FRUIT | JULY • AUGUST 2021