3 minute read
Woorde Van Wysheid
Die uitnemendste gawe –
Advertisement
Evangeliseer deur AANBIDDING LIEFDE
(deel 3)
DEUR PASTOOR RON KINNEAR
In ’n dorp naby Phuket in Thailand is daar ’n teetuin. Die plaaslike jongmense geniet veral die tee en versnaperinge wat daar bedien word, asook die rustige atmosfeer wat daar heers. Hulle verstaan nie die liedjies wat in Engels gesing word nie. Dit het wel ’n positiewe en heilsame uitwerking op hulle. Die rede waarom die sang en musiek mense aanlok, is dat die musiek aangebied word deur gelowiges in Christus en sendelinge van Suid Afrika – o.a. Trevor en Rochelle Naidoo. Hulle het agtergekom dat sang en musiek en veral aanbidding mense na die Here trek. Die besoekers word uitgenooi om op ’n Donderdagaand na nog musiek te kom luister. Dan verander die situasie radikaal. Die byeenkoms vind in ’n kerkgebou plaas en die jong gelowiges prys en aanbid die Here. Hoewel die besoekers ’n Boeddhistiese agtergrond het, geniet hulle die aanbidding. Daar heers kalmte en vrede. Hulle ervaar ’n Teenwoordigheid van liefde en aanvaarding en dit lok hulle om meer te wil weet. Sodoende het baie van hulle se pad met dié van Christus gekruis en is hulle nou gelowiges. Ons moet die krag van ware aanbidding nie onderskat nie. Dit kan ook ons jeug na ons dienste en aktiwiteite lok wat weer na ’n ontmoeting met hulle Heiland kan lei. Ek verwys hier na die tipe aanbidding waarvan Jesus in Johannes 4:23 praat: Die Vader soek die wat Hom in Gees en waarheid aanbid. Jongmense kan onderskei tussen tradisionele liturgiese aanbidding sonder salwing en ware aanbidding in die Gees. Dié soort aanbidding kan nie nagemaak word nie. As die Here dié soek wat so aanbid, kan ons a ei dat jongmense ook daarna sal soek.
PASTOOR RON KINNEAR is ’n ervare leraar, veteraansendeling, stigter en president van Africa Missions. Kontak hom by africams@mweb.co.za of besoek africamissions.org.za PASTOOR GORDON CLAASEN is senior pastoor en stigter van Kingdom Reign Ministries. Hy bied byeenkomste aan om leiers met die Woord toe te rus. Kontak hom by info@kingdomreign.co.za of besoek kingdomreignministries.co.za
DEUR PASTOOR GORDON CLAASEN
”Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal geword.” – 1 Korintiërs 13:1
In Bybelse dae was dit uiters skaars dat iemand veeltalig was en as jy wel oor so ’n gawe beskik het, was jy as ’n welopgevoede, welgesproke en ook as ’n welbelese persoon beskou. Ander mag dalk beïndruk wees met sulke intellektuele vermoëns en welsprekendheid, maar volgens Paulus baat dit niks as dit sonder die liefde gedoen word nie. “Al sou ek die tale van engele spreek” verwys na die diep geestelike dinge, die verborgenhede, geheimenisse en openbaringe van God. Al het ons die vermoë om dit aan ander oor te dra, maar ons het nie die liefde nie, is al hierdie diep openbarings leeg en betekenisloos. Ons lewer soms die Woord akkuraat, maar sonder enige liefde. Geestelike leiers wat die Woord bedien, moet hul motiewe ondersoek en seker maak dat hulle ander met Christus se onvoorwaardelike liefde bedien. Soms word die verkondiging van die Woord eerder ’n plig sodat eie materialistiese behoeftes vervul kan word. "… en al sou ek al my goed gee uitdeel … en ek het nie die liefde nie, dan sal dit my niks baat nie.” Om vrygewig te wees, is wat God van ons vereis. Maar as diens aan Christus nie ons primêre motief is nie, dan beteken ons goeie dade niks nie. Dit is nie emosies wat ons dring om te gee nie; ons gee onvoorwaardelik, want die grondslag om aan ander te gee, is Sy liefde. As die manier hoe ons gee nie die liefde van Christus weerspieël nie, is dit nutteloos. Al lê ons ook ons lewens af vir ander, sal dit sonder die liefde niks baat nie.