3 minute read

Beplan volgens jou gesin se behoeftes

՚n vasgestelde groeiprogram te lewer nie. Die groente wat in koeltrokke regstreeks van die plaas na die supermark se verspreidingsentrums vervoer word, het ՚n langer raklewe as groente wat kleiner supermarkgroepe op ՚n varsproduktemark aankoop.

Groot supermarkgroepe het baie streng vereistes om goeie gehaltestandaarde te handhaaf en om seker te maak die groente wat hulle aankoop kan teruggespoor word na die plaas waar dit geproduseer word. Dit is ՚n internasionale vereiste dat groente en vrugte volhoubaar geproduseer moet word sonder dat dit skadelik is vir die verbruiker, arbeiders, diere, die grond en organismes daarin, water en die atmosfeer – met ander woorde die hele ekosisteem.

Advertisement

Groente met ՚n etiket wat aandui dat dit organies geproduseer is en nie chemiese bemesting, onkruid- en insekdoder bevat nie, is gewoonlik duurder as ander produkte.

Mens leer mettertyd watter handelsname van groente wat by supermarkte beskikbaar is betroubaar is en volhoubaar groente van gehalte lewer. Maar dit gee jou net soveel meer gemoedsrus as jy jou eie groente kweek, oes en eet. My kleindogter kan vir haar ՚n tamatie of ՚n aarbei in die tuin pluk en ek weet sy kry nie skadelike middels in nie. Ons weet mos wat ons eet ...

Beskikbaarheid

Watter groente is deur die jaar tot jou beskikking? As jy daarop fokus om groente te koop wat seisoenaal volop is, kan dit dalk goedkoper wees om daardie groente by jou supermark te koop, mits dit van goeie gehalte en teen ՚n redelike prys is.

Groente is seisoengebonde omdat sekere soorte warm weer verkies, terwyl ander beter in ՚n koeler klimaat groei. Daarom is sekere groente vroeg in die seisoen en wanneer die seisoen einde se kant toe staan duurder omdat dit skaarser is.

As jy goed beplan watter groente jy in die lente en somer plant en oes en watter jy laatsomer kan plant om in die herfs en winter te oes, kan jy deurlopend jou gunsteling groente uit jou tuin gebruik.

Hou die volgende in gedagte wanneer jy probeer bepaal wanneer, watter en hoeveel groente jy moet aanplant:

• Watter groente eet julle?

• Hoeveel daarvan gebruik jy?

• Hoeveel plante sal genoeg groente lewer?

• Wanneer moet jy groente vir die lente/somer en herfs/winter plant?

• Wanneer/hoe gou sal die groente gereed wees om te oes, en wanneer moet jy weer in die seisoen plant?

Koste

Die prys van groente hang af van die beskikbaarheid daarvan. Wat kos die groente wat jy koop en kry jy werklik kraakvars groente wat waarde vir jou geld is? Jy kan dit goedkoper doen deur jou gunsteling groente in jou tuin te kweek, mits jy goed beplan en hard werk.

Om ՚n groentetuin aan die gang te kry kan geld kos, maar daar is maniere om dit goedkoper te doen:

• Kweek saad in saadbakkies of houers en plant dit uit wanneer die saailinge sterk genoeg is, eerder as om saailinge by ՚n kwekery te koop;

• Maak jou eie kompos, eerder as om dit te koop;

• Gebruik reënwater wat jy opvang of gryswater wat jy weer gebruik in plaas van duur munisipale water of water wat jy ten duurste uit ՚n dam of boorgat moet pomp;

• Bespaar op chemiese kunsmis deur kompos en deklae te gebruik;

• Gebruik metgeselplante wat insekte van jou groente af weglok, asook organiese middels wat jy met plante uit jou eie tuin en basiese skoonmaakmiddels aanmaak, eerder as om duur chemiese insek-, onkruid- of swamdoder te koop;

• Laat sommige plante toe om saad te skiet sodat jy jou eie saad kan oes, droog en bêre om die volgende seisoen weer te plant, eerder as om aan te hou saad koop. Maak net seker jy koop aanvanklik goeie saad van ՚n betroubare saadhandelaar.

Wat kan jy met ՚n oormaat groente doen?

Dit is nie maklik om te bepaal presies hoeveel ՚n groenteplant gaan produseer nie. Verskeie faktore speel ՚n rol, soos die klimaat en of dit baie warm of baie koud is, die grondsamestelling en -gehalte, hoeveel dit reën en hoe gereeld jy moet besproei, hoeveel peste en plae jou teister, om maar enkele te noem. Omstandighede verander ook van jaar tot jaar, wat dalk iets te doen kan hê met klimaatsverandering. Wie sal weet, want navorsing kan nie regtig bybly nie?

Namate toestande wissel, verander die opbrengs. Hoe gemaak as jy op ՚n dag met ՚n oormaat groente sit wat jy en jou gesin nie kan opeet nie?

Daar is verskillende maniere om baie van die groentesoorte te verwerk en bewaar.

Annette Human, samesteller van die gewilde Huisgenoot se Wenreseptereeks, skryf in die voorwoord van haar boek Lekker vir Later PLUS!: “Om ՚n krat vol vars vrugte of groente voor jou te hê en dan te kan wik en weeg: Sal ek die mooistes vries of sal ek liewer van daardie spesiale stukkonfyt kook? Dalk ook ՚n bietjie blatjang maak ... en braaisous terwyl ek nou aan die gang is.”

Die resepteboek gee vir jou ՚n keur van resepte om groente (en vrugte) te verwerk en te vries, in te maak, konfyt (dink uiemarmelade) te kook, asook blatjang, rissiesous of pesto wat goed in die yskas of op die spensrak gebêre kan word. En as jy nie juis ՚n kombuismens is nie, kan jy van die groente uitdeel aan jou bure, versorgingsinstansies soos ouetehuise, skole met ՚n voedingstelsel, of selfs aan ՚n sopkombuis skenk. “Sharing is caring,” sê my kleindogter van vyf.

Moenie wag nie, haal uit jou Tuinjoernaal en begin beplan.

This article is from: