1 minute read

REDAKTEURSBRIEF

Next Article
IETS ANDERS

IETS ANDERS

kep asem. jy verdien

Die versoeking is nogal groot om dié tyd van die jaar te tob oor hoe vinnig die afgelope 12 maande verbygevlieg het. En jy moet veral sterk staan om nie (wéér) ’n eiertjie te lê oor hoe ons almal se omstandighede sedert vroeg 2020 handomkeer verander het nie.

Advertisement

Dit is egter ’n feit dat nog ’n uitdagende jaar verby is, selfs al voel dit soms of ’n mens nie genoeg opkom vir asem nie. Te veel goed gebeur te vinnig, en wanneer jy jou oë uitvee, hang die Kersversierings in die winkels en Boney M word afgestof. (Terloops, ek vra om verskoning vir die geykte Kersversieringsen Boney M-verwysings. My brein is moeg so laat in die jaar... Jammer!)

Ek sal die eerste een wees wat erken dat ek vanjaar nie naastenby genoeg gereis het nie. Daarvoor kan ek net myself blameer. Maar danksy my talentvolle kollegas en verskeie getroue lesers kon ek elke twee maande op hierdie tydskrif se blaaie saamtoer en van Suid-Afrika (en ons buurlande) se mooiste bestemmings beleef en meer leer oor interessante versteekte plekke. Ek is innig dankbaar vir die voorreg.

Die Feestyd lê nou voor en ek kan nie wag om my rekenaar vir ’n rukkie weg te bêre en vir ’n week of drie ál my aandag aan my mense te gee nie.

Ek is seker jy voel ook so. Skep dus nou oor die volgende klompie weke ’n bietjie asem. Die vet weet, ons almal verdien dit.

Namens ons almal by Ry & Sleep wens ek jou ’n rustyd vol goeie tye, vreugde en wonderlike mense toe. Geniet alles en ry asseblief versigtig.

Ons praat gou weer.

REDAKTEUR schalk.jonker@media24.com

This article is from: