3 minute read

NEELSSESTOEPTENT

Next Article
LESERSTORIE

LESERSTORIE

Die feite en fabels van woonwasleep

Daar is ’n klompie praktiese gebruike wat jy maklik kan aanleer om sleepangs te voorkom, sê Neels van Heerden.

Advertisement

Kenners is dit eens: As jou woonwa se aluminiumstroke jou skok, moet jy die fout óf by jou woonwa se kragkabel óf by die kampplek se elektriese installasie soek. Die kinkel lê in der waarheid in die kabel en dus nié in jou woonwa se bakwerk nie. Dis onsinnige lekeadvies wat aanbeveel dat ’n meter lange geroeste ysterpaal in die grond geslaan en dan met ’n stuk bloudraad aan die onderstel van jou woonwa verbind moet word. Die fout lê ook nie by hoekstutte se voetjies wat van plastiek vervaardig is nie. Jou woonwa se aardleiding gebeur nie by die hoekstutte nie.

Toe ek destyds by die gradering van oorde betrokke was, het ek ’n eenvoudige toetsstelletjie gehad om te bepaal of die bedrading by die kragpunte behoorlik funksioneer. Dieselfde stukkie tegnologie het ook handig te pas gekom om die veiligheid van kragpunte in en om ablusiegeriewe te toets. ’n Standaardbepaling stel dit onomwonde dat daar minstens een meter tussen die kragpunte en kraan op elke staanplek moet wees, juis om te keer dat ’n kampeerder geskok word as die installasie foutief is. Skaf jou eie toestel aan om verlengkabels en multiproppe te toets.

Te oordeel na die gereelde gekibbel op verskillende forums het tandemsleep sy eie stel feite en fabels. Die betrokke regulasie stel die feite in perspektief, en dis nie net ek wat spog dat ek al jare my Ventertjie agter my woonwa sleep sonder enige probleme nie. ’n Woonwa se onderstel is nie ontwerp om ’n bykomende las agterna te piekel nie. Slepers moet hulle voertuigversekering sorgvuldig bestudeer.

Regulasie 222 van die Nasionale Padverkeerswet plaas ’n beperking op die kombinasie van ’n voertuig en een of meer sleeptuie.

Lees jou voertuig se eienaarshandleiding sorgvuldig deur, want die meeste voertuie het ’n sleepgradering.

Lees ook die fynskrif in jou versekeringskontrak of tandemsleep gedek of goedgekeur word. Onlangs lees ek van ’n ervare kampeerder wat tussen Pretoria en Durban voorgekeer word. Die verkeersbeampte meen die lengte van die trein – wat bestaan uit een sleepvoertuig en hoogstens twee waens – mag nie 22 m oorskry nie. Die waentjie agter die wa moet ook inloopremme hê.

Toe die veteraan sy versekeringsmakelaar raadpleeg, kom hy tot sy skok agter dat tandemsleep nie gedek word nie. Dis ’n goeie plan om ’n stel regulasies uit te druk en byderhand te hou as ’n verkeersbeampte jou voorkeer.

Ervare slepers verklaar onomwonde dat buiten die kweek van ’n goeie sleeptegniek almal moet besef dat ’n sleepding bykomende slytasie op die enjin, ratkas, en onderstel veroorsaak.

As jy gereeld sleep, is dit raadsaam om meer gereeld olie te ruil en te belê in olieen lugfilters van ’n goeie gehalte.

Die regte sleepspoed, die regte bande, banddruk en ’n sleepstang wat sy sout werd is, is onontbeerlik om voorvalle van sleepangs te voorkom.

Eerstens moet ’n woonwa nie oorlaai word nie en swaarder items moet bo-op die as gepak word. Die woonwa moet effens neus-af aangehaak wees en aan ’n stewige sakplaat geanker word. Die plaat moet met moere en boute van ’n hoë gehalte aan die voertuig se sleepstang geheg wees.

Hou sowat elke 200 km stil en maak seker alles is nog stewig vas en geanker. Hou die regte gereedskap in jou voertuig aan om die banddruk en wielmoere se stewigheid te toets.

Sleep veilig en moenie mede-padgebruikers se lewe in gevaar stel nie. As regulasies onduidelik is, behoort ’n gesonde verstand en ’n ingebore en ingeoefende veiligheidsbewustheid die botoon te voer.

This article is from: