
2 minute read
IETS ANDERS
from W122021
by nustobaydo
Baster van die Bosveld
Hy het op ’n ongewone Nissan Safari afgekom met ’n ryk geskiedenis, en nadat hy hom herstel het, het die Safari selfs méér ongewoon geraak – en die noemnaam Baster gekry – sê Nico Lintvelt van Thabazimbi.
Advertisement
Ek woon in die Bosveld waar jy Land Cruisers om elke hoek en draai vind. Toe ek ’n 1986 Nissan Safari op OLX sien, het ek dadelik besluit om hom te koop, want hulle is skaars en ek wou die Cruiser-ouens wys dat Nissan ook só ’n bakkie het.
Die verkoper het beweer die bakkie het voorheen aan die veldtydrenjaer Hannes Grobler behoort, en die tweede eienaar was glo Martin van Rensburg, stigter van Maus Performance. Ek het eers gedink dis ’n verkoopsfoefie, maar ek kon vir Hannes én Martin opspoor – en hulle het die bakkie se geskiedenis bevestig.
Hannes vertel Nissan SuidAfrika Motorsport, vir wie hy destyds gejaag het, het Meano Conversions in Krugersdorp opdrag gegee om ’n Safari in ’n dubbelkajuit te omskep as ’n vakansievoertuig vir sy gesin. Hannes het selfs vir my foto’s gestuur van sy vakansiesleepkombinasie. Hy het later die 2,8 ℓ-enjinkapasiteit laat vergroot tot 3 ℓ – die modifikasie is uitgevoer deur Vanderlinde Developments onder toesig van Hennie van der Linde, ’n ander legendariese Nissan-renjaer.
Ongelukkig het die Nissan L28-enjin mettertyd opgepak en die verkoper het dit met ’n Lexus-V8-enjin vervang. Dit het egter nie vir my reg gevoel dat hierdie ou dame Toyota-onderdele het nie, en omdat die verkoper nog die oorspronklike L28-enjin gehad het, kon ek dit herstel en terugsit in die bakkie.
Ek het op die Patrol-groep gevra of ek die Safari tot die oorspronklike moes restoureer, maar ’n forumlid het daarop gewys die Safari was van die begin af ’n ombouing en dat daar niks mee verkeerd sou wees as ek hom gimnasium toe stuur om ’n bietjie spiere te bou nie.
Galaxy Customs in Pretoria het die bakwerk se roeskolle genees, die webblad mq-patrol.com het ’n uiteensetting gegee van watter GQ Patrol-onderdele ek in ’n K160 Safari kon gebruik, en David Volschenk op BelaBela het gehelp om hierdie onderdele in die hande te kry. Ek het ook rubberseëls uit Australië en ’n sonskerm vir die voorruit uit Pole laat invoer. Die bosbrekers, rolstaaf, laaibak en glystawe het ek self gebou. Nou weet jy hoekom ek my bakkie Baster gedoop het.
Die projek het deurgaans verander soos ek nuwe idees gekry het. Die 6x6ombouing was byvoorbeeld nie my oorspronklike plan nie, maar toe ek ’n foto van ’n soortgelyke ombouing sien, wou ek ook een hê.
Die derde as word nie tans aangedryf nie. Ek bedink planne om twee oordraratkaste te gebruik om sodoende seswielaandrywing te kry. Ek wil ook kronkelvere voorlangs aanbring, want my Safari is maar ’n stamperige ryding. Die laaibak is in wording en ek besluit nog of ek ’n vyfde wiel daarop gaan monteer –ek dink hier aan ’n Mac-lorrie met ’n sleepwa – óf om dit te omskep in ’n “Aussie tray” met ’n daktent wat agtertoe oopvou eerder as sywaarts.
Die 35 duim-wiele steel baie krag by die enjin – veral as al ses van hulle aangedryf gaan word – en daarom oorweeg ek ’n groter Nissan-enjin. In hierdie stadium is ek egter tevrede met die bou. Ek hoop net nie my vrou verkoop hom eendag vir dieselfde geld wat ek vir haar gesê het ek op Baster uitgegee het nie, want daai persoon gaan ’n winskoop kry!
