16 minute read
LESERSTORIE
from W122021
by nustobaydo
Uiteindelik… avontuur!
Hulle het ’n aftreereis soos min beplan, maar toe steek Covid-19 ’n stokkie voor hulle planne. Al moes hulle ’n jaar wag, was dit uiteindelik ’n avontuur vir die boeke, vertel Hennie en Emmerentia Hugo van Brackenfell in die Kaap.
Advertisement
Toe Hennie en Emmerentia getroud is, het hy haar gewaarsku hulle pad vorentoe gaan ’n avontuur wees. Hy erken egter nou dat sy dalk nie voorbereid was op presies hoé avontuurlustig hy is nie. Hulle was al digby tien keer in die Gamkaskloof, soms met erge teenstand en verskonings van Emmerentia se kant af, maar Hennie het altyd daarop aangedring dat hulle sáám die avonture beleef.
Toe Hennie se aftrede aan die einde van 2019 begin nader kom, het hy reeds ver gevorder met die beplanning en bespreking van verblyf vir hulle volgende groot avontuur. Hy het Google Maps “stukkend gekyk” soos hy na moontlike paaie en roetes gestaar, planne gemaak en dit dan weer verander het.
Teen Januarie 2020 was alles haarfyn beplan. De laaste verblyf is bespreek en in die meeste gevalle ook ten volle betaal. Die plan was soos volg: om en by ’n maand in die Krugerwildtuin, vandaar na Tshipise, dan na Marakele, gevolg deur Botswana tot by Senyati, van waar hulle ’n vinnige uitstappie na die Victoriawaterval sou onderneem. Volgende sou die Zambesistreek (Caprivi) aan die beurt kom op pad na Okaukeujo in Etosha, gevolg deur Erindi en dan na hulle geliefkoosde Swakopmund. Daarvandaan sou hulle net op plekke oorslaap op pad na Augrabies voor hulle terugkeer huis toe.
Waarmee hulle nié rekening gehou het nie, is die wêreldwye Covid-19-pandemie. Ná die president se eerste familievergadering vroeg verlede jaar was al hulle reisplanne van die baan. Maar Hennie-hulle ken nie van moed opgee nie en het vinnig gespring om hulle planne met ’n jaar aan te skuif. Genadiglik werk al die plekke waar hulle reeds bespreek het, mooi saam en hulle kan begin uitsien om in 2021 in die pad te val.
Covid-19 was egter nog nie klaar met hulle nie: In Februarie kom maak die virus ’n ongenooide draai in hulle huis – soveel so dat Hennie én Emmerentia twee weke lank in die hoësorgeenheid beland.
Vroeg in Maart word hulle ontslaan, en sowat ’n maand later gee die longspesialis toestemming dat hulle op toer mag gaan.
Hennie vertel.
Ons beoog om op 30 April 2021 te vertrek, en die pakkery verg omtrent ’n gemeet en gepas om alles in te kry. Ons vat selfs ons kampwasmasjien saam, want ons gaan met vakansie en wil nie sukkel met vuil klere nie.
Dan breek die groot dag aan. Die president het nou al verskeie familievergaderings gehou, maar niks keer ons om te ry nie, want daar is nie meer geslote grense of enige ander struikelblokke nie. Ons val vroegoggend in die pad en mik vir die Karoo- nasionale park, ons eerste oornagplek. Ons reis met ’n 2007-model Mazda BT-50-bakkie en ons Alpha Panther-woonwaentjie (’n 2017-model) wat ons “Alphi” gedoop het. >
Ons bereik die Karoo- nasionale park sonder voorval en is aangenaam verras met die staanplekke wat nou met stene geplavei is. Ons bring net een nag hier deur en val die volgende oggend weer in die pad. Ons bestemming is River of Joy buite Bloemfontein.
Alles loop voorspoedig. Op Colesberg hou ons stil vir iets te ete en diesel... en dit is hier waar die duiwel in my bakkie klim, want toe ek die sleutel draai, is daar níks. Ons kry ’n werktuigkundige, wat sê dis die battery. Hy kry my bakkie met oorleikabels aan die gang en ons ry verder. In Bloemfontein skaf ons ’n nuwe battery aan.
Dis koud en reënerig toe ons by River of Joy aankom, maar ons maak die woonwa staan en braai ’n vleisie. Die volgende dag is ons op pad na die Lakeview-woonwapark in Mbombela – ’n langerige skof. Ons bereik Lakeview sonder probleme, en ons vriende Daan en Elize van den Berg van Meyerspark sluit hulle by ons aan. Hulle gaan vir ’n ruk saam met ons in die wildtuin kuier.
Die volgende dag maak ons vinnig ’n draai op die dorpie Kaapsche Hoop. Dis ’n lieflike plekkie, maar ongelukkig is die perde nêrens te vinde met ons besoek nie.
Op 5 Mei vertrek ons wildtuin toe. Ons moet eers ’n bietjie padwerk trotseer, maar kom uiteindelik by die eerste hek aan. Die mense hier pas Covid-maatreëls streng toe en dit pas ons goed. Glo my, ons wil nie weer met die virus deurmekaar raak nie.
Berg-en-Dal is ’n ou bekende vir ons en ons kry ’n staanplek vir albei waens sodat ons darem naby mekaar is. Ons gaan drie nagte hier oorbly.
Dit is sommer gou duidelik dat wildkyk met die lang gras nogal uitdagend gaan wees. Die diere wat ons wel sien, is in ’n goeie kondisie en ons ry heerlik rond. Ons gaan eet een oggend ontbyt by Afsaal en geniet die oomblik saam met ons vriende en met mekaar.
Ons volgende kamp is Krokodilbrug, en ná ’n vinnige kajuitraad besluit ons om by die Malelanehek uit te ry, die N4 te volg tot by Komatipoort en dan weer die wildtuin by Krokodilbrug binne te gaan. Dié roete verloop sonder teëspoed.
Krokodilbrug is ’n kleinerige kamp met min staanplekke, maar dit is ’n heerlike plek waar vlakvarke en ’n bosbok of twee dikwels in die kamp rondloop. Ons staan ook drie nagte hier en ry selfs op Moedersdag Onder-Sabie toe vir ’n bietjie koffie en ’n bederfie.
Ná Krokodilbrug is dit Onder-Sabie se beurt. Ons ry solank vooruit, want Daan en Elize kom ’n dag later. Ons kry ’n heerlike staanplek en dis lekker dat die staanplekke netjies uitgemerk is sodat jy en jou bure nie kan stry kry oor wie se staanplek tot waar strek nie. Ook hier bly ons drie nagte, en in dié tyd maak ons ontbyt by Nkuhlu. Dis ’n lieflike plek, pragtig opgeknap met heerlike piekniekgeriewe en die winkel het ’n verskeidenheid voorraad.
Ons ry heerlik rond en kom op ’n dik- >
gevrete hiëna af wat duidelik pootuit is en reg langs die pad lêplek maak.
Ná Onder-Sabie kom Skukuza aan die beurt. Hoewel dit nie skoolvakansie is nie, is die kampplek stampvol. Ons sukkel om staanplek langs mekaar te kry en moet uiteindelik daarmee vrede maak dat ons nie naby mekaar gaan kamp nie.
Die feit dat die staanplekke nie duidelik gemerk is nie, maak ons ook onseker oor waar jy mag kamp opslaan en waar nie. Ons slaag uiteindelik daarin om twee staanplekke redelik naby aan mekaar te kry waar ons opslaan, maar ons s’n is baie skuins en ons moet sommer baie kreatief raak om die woonwa waterpas te kry.
Die diere bly maar skaars, maar met heelwat rondry sien ons tog genoeg. Alles behalwe wildehonde, natuurlik. Hulle is ons nie beskore nie, maar ons sien darem twee keer luiperds langs die pad – en hulle loop sommer téén die bakkie.
Dis binnekort tyd vir Daan en Elize om huiswaarts te keer en ons besluit om ’n afskeidsete by die Skukuza-buiteklub se restaurant te geniet.
Ons volgende bestemming is Satara, waar ons vyf nagte gaan oorstaan. Ons vertrek op Maandag 17 Mei soontoe. Daan en Elize bly nog ’n nag in Skukuza voor die tyd aanbreek vir hulle om huiswaarts keer.
Op pad na Satara hou ons by Tshokwane stil. Hier kan jy kies en keur tussen ’n verskeidenheid smullekker eetgoed – van mieliepap tot roosterkoek en die lekkerste wildpasteitjies.
By Satara wag my oudkollega Vic Theunissen en sy vrou, Sylvia, ons in en ons kamp langs mekaar. Ons braai saam en gesels te heerlik oor die ou dae.
Dit bly maar ’n uitdaging om diere te kyk. Die owerheid het ook die veld hier gebrand, en hoewel ’n mens nie die doel daarvan kan bevraagteken nie, bly dit ’n irritasie. Dit lyk nie mooi nie en uiteraard is hier ook min diere in die dele waar hulle brand. >
KLOKSGEWYS VAN LINKS BO Hennie en Emmerentia vier Moedersdag; Piekniek by Nkuhlu; Hennie-hulle saam met sy vriend Vic Theunissen; Afskeidsete om vir Daan en Elize tot siens te sê.
Ons beland in ’n stadium op ’n pad waar ons nie beplan het om te ry nie, maar die geluk is aan ons kant en ons kom af op ’n trop leeus wat gereed maak om ’n rooibok te jag. Nodeloos om te sê het die kamera oortyd gewerk.
Dit is een van min hoogtepunte wat betref dierekyk, en kort voor lank is dit tyd dat ons aanbeweeg Letaba toe. Die kampplek is nie besonder vol nie en die wêreld is mooi hier, maar dis ’n oerwoud. Dis moeilik om enigsins iets anders as olifante te sien.
Op 24 Mei kom die Tsendze-ruskamp aan die beurt. Hier is geen krag nie, jy maak self die hek by die kamp oop en toe as jy wil uitry, maar tog steek die geriewe geensins af by ander kampe nie. Die storte het genoeg warm water en hier is selfs ’n vrieskas wat kampeerders kan gebruik. Die staanplekke is ruim en skaduwee eintlik te veel – die ouens met sonpanele sukkel om die son te vang. Omdat ons nie heeltemal toegerus is om sonder krag te kamp nie, bly ons net een nag.
Shingwedzi is ons volgende bestemming. Ons was nog nooit tevore hier nie, en omdat ons gewoonlik maar min tyd het, doen ons normaalweg net die sogenaamde driehoekroete wat Berg-en-Dal, Satara en Krokodilbrug insluit.
Die kamp is ’n aangename verrassing. Dit is netjies, die staanplekke is afgemerk en wek oor die algemeen ’n baie goeie indruk. Dit is dan ook geen wonder nie dat hierdie kamp gereeld met toekennings wegstap. Die olifante wat gereeld langs die kamp se grensdraad kom wei, help natuurlik, maar as jy hier wil kamp, moet jy vroeg bespreek én dit kos jou ’n ietsie ekstra.
Ons het ’n groot trop olifante naby die hek gekry terwyl hulle besig is om hulle dors te les. Dan was daar ook ’n aangename belewenis met ’n duif, van alle diere. Dié een het baie van Emmerentia gehou en twee dae agtereenvolgens opgedaag, nader gevlieg en op haar hand gaan sit.
Op Vrydag 28 Mei vertrek ons Punda Maria toe. Dit is ons laaste kamp in die Kruger en ons gaan twee nagte hier bly. Ek was baie jare gelede hier, maar kon glad nie onthou hoe die kamp lyk nie. Met ons aankoms is dit moeilik om vas te stel waar jy kan of mag staan, want dit lyk asof mense sommer in die middel van die paar paadjies kamp opslaan.
Die tydjie by Punda gaan vinnig verby, en hoewel ’n bosnagapie twee aande ná mekaar vir ons kom kuier, kan ek net nie daarin slaag om ’n foto te neem wat duidelik en in fokus is nie. Praat nou van ’n groot teleurstelling.
Ons besluit om die wildtuin te verlaat by die Pafurihek. Op pad daarheen kom sien twee jagluiperds ons af.
Die uitgaanprosedure by die hek is vinnig en pynloos. Dit is vir ons ’n aanpassing om ons weer op ’n pad te bevind waar jy 120 km/h mag ry en die wilde diere wat
in die paaie binne die wildtuin geloop het, maak plek vir donkies en bokke. Die paaie is oor die algemeen in ’n slegte toestand en hier is oral slaggate.
Die reis na Tshipise, ’n Forever-oord, neem gelukkig nie te lank nie. Ons proses om die oord binne te gaan word vinnig afgehandel en ons kan vir ons ’n staanplek gaan uitsoek.
Hier maak ons kennis met ’n ander soort swaeltjie. Dit is mense wat meestal in woonwaens kamp en agter lekker weer aan trek. Sommige van hulle kamp al ’n hele klompie jare en het óf hulle huis verkoop óf verhuur dit op langtermyn.
Die oord is pragtig met goedversorgde warm- en kouewaterswembaddens. Die Swaeltjies is ’n vrolike klomp wat gereeld jukskei en rolbal speel. Van hulle het selfs ’n tuintjie by hulle staanplek.
Junie breek aan en dit is tyd om weer ons wa te haak en aan te beweeg na ons volgende staanplek.
Omdat ons Botswana op 3 Junie wil binnegaan, moet ons vandag ’n Covid-toets in Polokwane laat doen sodat ons die uitslag op 2 Junie op Thabazimbi kan kry – dit is vir 72 uur geldig.
Vandag is dit tyd om twee nuwe bande op die woonwa te laat aanbring en ’n nuwe hoëdigtheid-skuimrubbermatras te koop. Dit kry ons alles gedoen in Polokwane –waarna ons koers kies na Marakele, een van die kleiner nasionale parke knus teen Thabazimbi.
Ná alles wat op pad gedoen is, kom ons maar laterig by Marakele aan. Weer eens word Covid-maatreëls streng toegepas. Ons kry ’n staanplek en raak rustig. Die Woensdag is opsy gesit om ons Coviduitslae te gaan afhaal op Thabazimbi en sommer ook voorrade aan te vul.
Die kampplek is nie omhein nie en ons kry darem so tussendeur die geleentheid om ’n paar verskillende wildsoorte te sien, waaronder ’n vlakvarksog wat knaend probeer nader kom om ietsie te ete te bedel.
Ons Covid-uitslae is negatief – ’n baie groot verligting. Môre gaan ons ons grense verskuif en Botswana binnegaan, gewapen met splinternuwe paspoorte, genoeg pula om die nodige grenstariewe te betaal, en laaste maar nie die minste nie, ons Covid-sertifikate.
Ons vertrek uit Marakele en druk die bakkie se neus in die rigting van Francistown. Nou wag Botswana.
Lees in die Februarie-Maart 2022-uitgawe die tweede deel van Hennie en Emmerentia se reis – deur Botswana en Namibië.
Hennie wen ’n Camp Cover Bundu-sak ter waarde van R400. Dié veeldoelige sak is só ontwerp dat jy hom as ’n noodhulp- óf smuktas kan gebruik. Gaan kyk na Camp Cover se beskermende oortreksels op die webwerf campcover.co.za
HENGELOORD
Sien julle by Sion
Kry die gesin bymekaar en kom kyk presies hoe lekker kamp en hengel kan wees.
SIONBERGH WATERS WAAR RUS IS
Skaars ’n kilometer suid van die Suikerbosrand-natuurreservaat net suid van Johannesburg kan jy van jou sorge kom vergeet by ’n lieflike kampplek. Dis maar ’n hanetree uit die besige stad, en hier kan jouself weer langs die hengelwaters kom vind en sommer vol lewe terugkeer huis toe.
Op ’n stille manier voed die Suikerbosrand die Sionbergh-kampplek, want die waters wat in die oord opdam, kom uit die fontein in die reservaat. Hiervandaan vloei dit na die Blesbokspruit, waar jy kan kyk of jy ’n blinklyf kan haak.
Sionbergh is op die plaas Rivierdraai met sy lusernlande. Maar voor jy die plaas kan binnery, moet jy die oordmense laat weet jy staan voor die hek sodat hulle kan oopmaak – die foonnommer is op die hek. Die laaste paar meter grondpad lê dan voor met die eerste staanplekke links op die grasterras. Die ontvangskantoor en winkel is oorkant die pad – hier kan jy basiese kruideniersware soos melk en brood aanvul. Of dalk konfyt, koekies, ’n melktert...
Die hartklop van die oord – dis nou as jy vir ’n oomblik van die vis vergeet – is in die gebou agter die ontvangskantoor. Binne is ’n warmwaterswembad, met die donkie wat die water 36-38 ºC hou. Langsaan is die kinders se speelplek met onder meer ’n klimraam, verskeie swaaie en ’n glyplank. Die soutwaterswembad met sy koue water – en ’n kleiner swembad vir die kinders – is langsaan.
Terug oorkant die ontvangskantoor volg die een kampterras op die ander tot jy naderhand by ’n T-aansluiting uitkom. Die dam is nou reg voor jou, die oornagkamers regs en die laaste staanplekke links. Die oewerstaanplekke – 11 van hulle – is effens duurder as die res, maar dis beslis die moeite werd. Jy kan karp, baars en kurper aan die hoek kry, maar almal moet terug water toe nadat jy hom ingekatrol het. Hier is ook baber, maar hom mag jy hou.
Hier is twee ablusieblokke – naby die
N3
na Johannesburg
R550 R550
R557
R42
na Vereeniging
Sionbergh
R549 GAUTENG
N3 R23
na Deneysville na Villiers
kamers en dan ook by die oewerstaanplekke – en drie gesinsbadkamers vir die ouens wat meer private ruimte soek. ’n Paar staanplekke het plaveisel, maar by die meeste slaan jy jou kamp op gras op. As jy nie ’n kraan en kragpunt (blou woonwasok) met jou buurman deel nie, het jy jou eie.
Hier is nie permanente braaiplekke nie, maar sodra jy afgepak het, sorg die bestuur dat ’n losstaande een met sy rooster by jou afgelaai word.
En, voordat die kinders begin vra, jy kan wifi-tyd koop by die winkel – koepons kos tussen R20 en R80.
Kortliks | Sionbergh
Vis Swartbaars, karp, baber en kurper. Kampplek 62 staanplekke waarvan 20 plaveisel het en 11 teenaan die water lê. Ablusiegeriewe 2 badkamergeboue en 3 gesinsbadkamers. Prys Afhangend van die seisoen R420R460 p.n. per staanplek op die oewer (4 mense) en R400-R420 vir die res. Daarna kos dit R90 p.p. (hoogstens 6 mense per staanplek). Aankoms- en vertrektyd 14:00 en 12:00, maar as jou staanplek beskikbaar is, mag jy vroeër opdaag. Kontak 079 491 7919 of 062 288 0614 sionbergh.co.za info@sionbergh.co.za Naaste dorp Heidelberg 11 km. Hoe lyk die pad? Die laaste 1,5km is ’n netjiese grondpad. GPS S26.556431 E28.284471
Ry & Sleep sê Die oord sluit elke winter ’n maand lank vir instandhoudingswerk.
HENGELTOERUSTING
Veer in die bek
Kunsaas is deesdae ’n hipertegnologiese storie, en hoe meer die aas natuurlik soos die ware Jakob lyk, hoe beter die kans dat jy ’n roofvis gaan flous.
Een voorbeeld is die Flutter Sardine van Livetarget, ’n unieke aas wat enig in sy soort is in die land. Die buitekant is deurskynend met ’n lewensgetroue nabootsing van ’n lokaasvissie binne. Die roofvis sien dus die nabootsing, maar nie die ware profiel van die aas nie.
Die vorm van die aas in die Flutter Sardine is soos ’n tipiese hengellepel. By die stertgedeelte kom ’n drieweerhaakhoek vas saam met ’n veer. Die aas is bedoel vir seevis in kalmer waters – soos ’n riviermonding of strandmeer. Jy kan hom taamlik ver ingooi, en soos hy die water tref en na die bodem sak, strem die veer die aas en dit val in poses af bodem toe. Dit wek dan die indruk van ’n klein vissie wat seergekry het – vir die roofvis ’n smaaklike happie.
Hy werk ook uitstekend om die aandag af te trek van trae visse in koue of warm water. Hulle is dalk nie in die luim vir ’n aggressiewe aanval nie, maar sal eerder na die veergedeelte byt, wat jou dus ’n groter kans gee op ’n vangs.
Die aas is beskikbaar in ses kleure, weeg 1,5 onse en is 75 mm lank. Prys R229 elk. Kontak Beskikbaar in hengelwinkels landwyd – ook in Namibië. adrenalinfishing.co.za VISGEREG
LEKKERBEK-SNOEK Só ’n bek moet jêm kry!
Gebraaide snoek met daardie sweempie soet in die sous is mos ’n eg Suid-Afrikaanse ding.
Jy benodig
(genoeg vir 4) 1 koppie romerige mayonnaise 1 eetlepel appelkooskonfyt 2 eetlepels vars suurlemoensap (of na smaak) ’n ruim knippie droë rissievlokkies ½ koppie gesmelte knoffelbotter 1 eetlepel olyfolie 1 gevlekte snoek van 700g, kop afgesny en in porsies gesny 2 eetlepels gekapte sprietuie
Só maak jy
1 Roer die mayonnaise, appelkooskonfyt, suurlemoensap, rissie en botter saam tot dit ’n gladde mengsel is. Laat dit dan eenkant staan. 2 Sit ’n stuk foelie met die dowwe kant boontoe op jou rooster en verf die foelie met olyfolie. Pak die vismote met die velkant na onder daarop en braai hulle vir ongeveer 10 minute tot halfgaar. (Jy draai dit nie om nie.) 3 Verhit die sous in ’n pan of skottelbraai tot warm. Voeg die vismote versigtig by die sous en smoor dit verder tot net-net gaar en geurig. Sprinkel die sprietuie oor en geur dit na smaak met sout en peper.
Ry & Sleep sê Jy kan die sous ook mildelik oor die vis op die foeliepan verf!