2 minute read
Taalkontak
Die kern van die probleem is die taal se raakpunte met Oeraals aan die een kant, en met Semities en Kartveels aan die ander. Eintlik stem PIE op ‘n diep morfologiese en fonologiese vlak nie net met Oeraals nie, maar met verskeie ander taalfamilies van noordelike Eurasiё ooreen, insluitend Altaïes, Inuit-YupikInangan, Nivkh en Kamchadaals. Saam word hulle die Eurasiatiese familie genoem. Terselfdertyd bestaan daar leksikale ooreenkomste met Kartveels van die westelike Kaukasus en Semities van Siriё en
Mesopotamiё.
Advertisement
Oeraals het heelwat PIE leenwoorde maar PIE het min Oeraalses. Die sprekers van Oeraals was steeds jagters en versamelaars lank nadat veeteelt en landbou in die Midde-Ooste en Europa posgevat het en Altaïes en Oeraals beskik ook oor volop leenwoorde van die Iraanse dogtertaal van PIE, wat op ‘n later stadium oor groot dele van Sentraal-Asiё gepraat is, waar vandag die Turkssprekende lande Kazakhstan, Kirgizstan, Uzbekistan en Turkmenistan geleё is.
Die Eurasiatiese familie, wat PIE insluit, word onderskei deur /m/ in die eerstepersoon- en /t/ in die tweedepersoon-voornaamwoord, byvoorbeeld Engels /me/ en /thee/, Spaans /me/ en /te/, Fins /minӓ/ en /te/, sowel as ‘n meervoud wat met die suffiks /-t/ aan die naamwoordstam gevorm word, en ‘n dualis gevorm deur die suffiks /-k/. Hierdie patrone word nie in tale buite Eurasiaties gevind nie.
Die diep leksikale stratum van Proto-Indo-Europees wat met Proto-Semities gedeel word, bestaan hoofsaaklik uit woorde vir plaasdiere, landerye, gesaaides en implemente. ‘n Woord vir mens in ProtoSemities en PIE toon beide ‘n verbintenis met die grond. Proto-Sem *adamah (rooi grond) en *adam (man), en PIE *dheghom (aarde) en *homo (man) wat “aardling” beteken. Die woorde vir “ster” en “sewe” dui moontlik op ‘n eenvormige ideologie of religie.
Proto-Indo-Europees, Proto-Semities en Proto-Kartveels beskik oor ‘n uitsonderlike isomorfiese medeklinker-struktuur met drie reekse sluitklanke. Proto-Kartveels se groot aantal leenwoorde uit PIE moet die resultaat wees van ‘n langdurige periode van geografiese interaksie, en Proto-Kartveels se ablautpatroon (klinkerwisseling) in die woordstam stem ooreen met dié van PIE, teenoor die vokaalharmonie van Altaïes en Oeraals. Ook verskil die patroon van PIE se woordstamstruktuur en sy komplekse werkwoordstelsel van dié van die ander Eurasiatiese tale.
Kozintsev (2018) se statistiese paar-ooreenkoms-matriks in die 50-woord-lys van 41 tale, maak PIE ‘n lid van Nostraties en van Eurasiaties. Die nie-metriese multidimensionele skaal, ‘n ruimtelike benadering, beklemtoon PIE se oosterse verbintenisse, en toon verwantskap met vier tale, waaronder Eskimo, Oeraals, Semities en Kartveels. Die lenings tussen PIE en Proto-Semities dateer uit ‘n vroeё tydperk, en moes Akkadies en Eblaïties voorafgegaan het.