32 minute read

Lugdiensveiligheid

Next Article
Suidwes Afrika

Suidwes Afrika

gevind. Die bedrag van R496-00 was teruggevind, terwyl hulle met die res van die buit klere gekoop het. Van die geld was ook gebruik om meisies na nagklubs te neem. (Hennie Slabbert – Vaderland 21/11/1968)

LUGDIENSVEILIGHEID

Advertisement

My tydperk as anti - kaper.

Aan die einde van 1969 was ek en ʼn aantal lede opdrag gegee om by die opleidingskollege te Esselenpark aan te meld. Daar aangekom het die Kommissaris, generaal majoor J.J.J. van Vuuren, ons ingelig dat ons keuring sou moes deurloop ten einde as anti-kapers op SAL se vliegtuie diens te kon doen. Dertien van ons was gekeur om die intensiewe opleiding te ondergaan na afloop van al die toetse. Die opleiding het, bo en behalwe die wetsaspekte, ook skietkuns en selfverdediging ingesluit. Vir die doel van die vuurwapenopleiding en selfverdediging was Joe Grant Grierson, wat ʼn spesialis in die twee gebiede was, van buite die Mag in diens geneem. Na afloop van die opleiding was ons in groepe ingedeel om dienste op alle SAL vlugte wat na die buiteland gevlieg het, te verrig. My twee spanmaats was sersant Herman Buckingham en adjudant offisier Harry van der Linde. Ons eerste vlug was na Engeland. Daarna het ons vlugte onderneem na Madrid, Portugal, Parys, Hong Kong, Las Palmas, New York, Nederland, Gaboen Bon, en vele meer. Ek was ook bevoorreg om Staatspresidente John Vorster en P.W Botha, ministers Pik Botha, Hendrik Schoeman en buitelandse ministers soos Banda Nserewa, saam met kolonel André Horak, adjudant offisier Jan Kilian en sersant Brancken op vlugte na die buiteland te vergesel om beskerming te verleen. Wanneer ons nie gevlieg het nie, moes ons as speurders plaaslike sake op Jan Smuts-lughawe ondersoek. Die speuroffisier was kaptein Andries Walton en die speur-adjudant offisier was Daisy van Dyk. Soms moes ek vir Van Dyk aflos en die ondervinding wat ek as speurder in die Noord Kaap opgedoen het, het goed te pas gekom. Nadat die dienste van die anti-kapers opgehef was, het ek op die lughawe aangebly en was toe verantwoordelik, saam met ʼn aantal lede, om goudstawe, munte en platina na Frankfort, Zürich, Hong Kong en Taiwan te begelei. Ek sou as ʼn gewone polisiebeampte nooit die geleentheid gehad het om die buiteland te besoek nie en ek vermoed dat ek vir luitenant André Horak, met wie ek op Klerksdorp saam gewerk het, hiervoor moet bedank. Sou die geleentheid nie op my pad gekom het nie, sou ek waarskynlik as polisieman op Klerksdorp bedank het omdat ek en luitenant De Vos nie goed oor die weg gekom het. Terwyl ek diens in Rome verrig het, het ek opdrag gekry om na Jan Smuts-lughawe terug te keer waar ek deur kaptein Andries Walton, met sy hoed in sy hand, ingewag was. Ek het geskrik want beide my moeder en my vrou was nie gesond gewees op daardie stadium nie en ek was besorg dat daar moontlik iets met een van hulle kon gebeur het. Ek was na kolonel Klopper geneem en hy het my voorts ingelig dat die Kommissaris, generaal majoor Marius van Vuuren, my wou spreek. “Nou wat de hel het ek aangevang dat die Kommissaris my wil sien?”, het ek so in my stilligheid gewonder. Die Kommissaris wou met my aankoms by sy kantoor by my weet hoe gou my vrou ʼn ander koffer kon pak, want hy wou my vir ʼn ruk Nederland toe gestuur het. Ek het half verward vir vroulief geskakel met die nuus – en dit terwyl sy nog onder die indruk verkeer het dat ek nog in Rome was. Daardie selfde aand nog het ek Nederland toe gevlieg om my drie maande lange diens aldaar te begin. Generaal Marius van Vuuren en sy vrou het mettertyd by my in Nederland aangesluit. Ek moes intussen onder andere onderhoude reël tussen generaal van Vuuren en majoor Gerritsen, Bevelvoerder van die Reikas en Volkspolisie, by Schipol-lughawe. Verder was ek getaak om die veiligheidstandaarde by Schipol-lughawe te monitor en met my terugkoms te Jan Smuts-lughawe moes ek aan majoor Phillip Delport verslag gedoen het. Die tydperk in Nederland was vir my ʼn besondere voorreg en ondervinding. Maar vir my was die grootste van alles, die vertroue wat die Kommissaris en die offisiere in my gestel het. (Jan Vorster)

84

Eerste vliegtuig kaping.

My eerste ondervinding as anti - kaper het gekom tydens die kaping van ʼn SAL Boeing wat vanaf Salisbury na Johannesburg onderweg was toe dit om ongeveer twee uur die middag in die lug bokant die grens tussen Suid Afrika en Rhodesië (Zimbabwe) gekaap was. Een van die kapers het die vlieënier met ʼn vuurwapen gedreig en geëis dat die vliegtuig moes omdraai en na die Seychelle, vanwaar hulle opgestyg het, moes terugkeer. Die owerhede in die Seychelle het geweier dat die vliegtuig op hulle grondgebied kon land, met die gevolg dat die vliegtuig na Malawi moes uitwyk. Ek en sersant Langenhoven het opdrag gekry om na Bulawayo te vlieg aangesien die aanvanklike inligting daarop gedui het dat die vliegtuig daar sou land. Die vliegtuig het egter nie daar geland nie en ons moes inderhaas na Jan Smutslughawe terugkeer. Generaal Marius van Vuuren, majoor Phillip Delport, en ʼn klompie anti-kapers het na Malawi vertrek en nadat ons daar aangekom het, het ek, Langenhoven, Lou Hattingh, Dok Malan en majoor Phillip Delport onder die vliegtuig stelling ingeneem in afwagting op die opdrag om die vliegtuig te bestorm. Die vlugkaptein van die vliegtuig, kaptein Flemming, het, met behulp van ʼn aantal doeke wat hy aanmekaar geknoop het, daarin geslaag om deur die venster van die kajuit te ontsnap. Hy het ons meegedeel dat daar twee kapers aan boord van die vliegtuig was en dat hulle plofstof met elektriese drade aan die deure van die vliegtuig gekoppel het. Nadat kaptein Flemming die inligting aan ons oorgedra het, het hy weer met behulp van die doeke by die kajuit se venster ingeklim. Een van die kapers, ene Kamil, het ʼn groot som geld en ʼn vliegtuig of ʼn helikopter geëis. Die kapers het ene mnr. Hoffin aan boord toegelaat om met hulle te onderhandel. Die agterste deur van die Boeing 727 was oopgemaak om hom in die vliegtuig in te laat. Hoffin het die vliegtuig verlaat en na ʼn rukkie teruggekeer met ʼn groot som geld wat in trommels verpak was. Toe die kaper die trommels met geld by die deur kom haal het, het Phillip Delport met sy skerpskutter geweer aangelê om hom te skiet, maar hy het opdrag gekry om nie te skiet nie. Ek en die ander lede het ook opdrag gekry om nie die vliegtuig te bestorm nie. Gedurende die nag het generaal Marius van Vuuren opdrag gegee dat ons van die vliegtuig moes onttrek. Dié opdrag het vanaf President Banda gekom wat saam met hom in die BBP kamer op die lughawe was. Ongeveer vyf uur daardie oggend het die Malawiese polisie die kapers die keuse gegee om óf hulleself aan die polisie te oorhandig óf die gevolge te dra indien hulle sou weier. Hulle het geweier en die brigadier in bevel van die weermag het die opdrag gegee dat daar op die vliegtuig geskiet moes word. Die vliegtuig was aan flarde geskiet. Een kaper was gewond en die ander kaper het gesê dat hy homself wou oorgee. Die vliegtuig was bestorm en die kapers was in hegtenis geneem. Springstof inspekteurs van die weermag het die plofstof verwyder en op die aanloopbaan vernietig. Ek het vervolgens opdrag gekry om mnr. A. Delport, wie ʼn eise inspekteur by Jan Smuts-lughawe was, te vergesel om die skade aan die bagasie te bepaal wat deur die geweervuur veroorsaak was. Die passasiers en die bemanning was na die lughawe gebou geneem en ek en konstabel Kobus van der Merwe het opdrag gekry om die vliegtuig te bewaak terwyl die ander lede na Suid Afrika teruggekeer het. Tegnici van Jan Smuts-lughawe was na Malawi gestuur om die vliegtuig te herstel. Terwyl ek en Van der Merwe by die vliegtuig gewaak het, het generaal Van Vuuren dikwels geskakel om te verneem hoe die herstelwerk gevorder het. Kolonel G.P. Pretorius het ons in Malawi besoek en met sy aankoms aldaar was hy deur die polisie gearresteer en hulle het op sy paspoort beslag gelê. Dit het baie oorreding gekos om hom vrygelaat te kry. Die aand wat die gekaapte vliegtuig na Suid Afrika teruggevlieg het, het ons in die hotel gaan eet waar die plaaslike vrouens net met ons wou dans. Kolonel Gerrie kon ons gelukkig uit die penarie red. Met ons terugkeer in Suid Afrika het genl. Marius van Vuuren vir almal wat in Malawi met die gekaapte vliegtuig betrokke was, na die Blue Room op Johannesburgstasie vir ʼn deftige ete uitgenooi. Ons was nie bietjie spoggerig oor die uitnodiging nie aangesien die Blue Room ʼn vyfster restaurant was wat net deur vermoënde persone besoek kon word. (Jan Vorster)

85

Die gekaapte vliegtuig op Malawi.

Ek was een van die eerste lede wat die lugdiensveiligheidskursus as anti - kaper deurloop het. Nadat ek al verskeie kere diens op SAL se vliegtuie oorsee gedoen het, het ek een Woensdag vanaf Engeland na Suid Afrika teruggekeer. Ek het na ons kantore gestap om terug te boek toe ek merk dat van die offisiere en ander anti-kapers by die kantore rondgeskarrel het. Ek het vir een van die vroue lede, wat in die kantoor werksaam was, gevra wat aan die gang was. Sy het my ingelig dat ʼn SAL vliegtuig gekaap was en nog voordat ek enige verdere inligting kon bekom, was ek aan die arm gegryp en opdrag gegee om by generaal Marius van Vuuren, wat op daardie stadium by ons kantore was, aan te meld. Hy het my meegedeel dat ʼn SAL vliegtuig, wat na Suid Afrika onderweg was, oor die Hartebeespoortdam deur onbekende persone gekaap was. Die aanvanklike inligting het getoon dat die vliegtuig na Bulawayo onderweg was om daar te gaan land. Adjudant offisier Vorster en sersant JB Langenhoven was reeds na Bulawayo op pad. Die berig het later deurgekom dat die vliegtuig van rigting verander het en dat dit op pad na Malawi toe was. Generaal van Vuuren, majoor Pretorius, luitenant Phillip Delport, adjudant offisier Dok Malan, sersante Martin de Wet, Kobus van der Merwe en ek het ʼn vliegtuig bestyg wat ons na Malawi sou neem. Vorster en Langenhoven het voor ons vertrek by ons aangesluit. In Malawi aangekom het ons die gekaapte vliegtuig op die einde van die aanloopbaan aangetref. ʼn (GOS) Gesamentlike Operasionele Sentrum was in die BBP vertrek in die lughawegebou ingerig vanwaar generaal Van Vuuren, saam met die Malawiese weermag, die operasie gekoördineer het. Ons span het in die bosse langs die vliegtuig stelling ingeneem vanwaar ons die ontsetting sou uitvoer. Aangesien ek nog in ʼn pak klere geklee was, het ek gevra of daar nie iewers ʼn oorpak vir my beskikbaar was nie. ʼn Werker op die lughawe het sy oorpak aan my oorhandig en ek het dit aangetrek. Een van die bemanningslede het die voorwiele van die vliegtuig afgeblaas waarna ons span tot onder die vliegtuig beweeg het. Martin het op die een vlerk van die vliegtuig gelê en Kobus van der Merwe op die ander vlerk. ʼn Swart man, geklee in ʼn swart sweetpak, het opgedaag en duidelike opdragte gegee dat ons onder geen omstandighede skote moes afvuur nie aangesien ons nie op ons grondgebied was nie. Die man het hom aan ons as ʼn brigadier van die Malawiese weermag voorgestel. Hy het gereël dat ons iets te ete en te drinke gekry het. Later was die motore van onder die vliegtuig se voorste landingswiele afgeskakel. Die passasiers was nog in die vliegtuig en die deure was toe. Een van die bemanningslede het daarin geslaag om te ontsnap en toe hy ons onder die vliegtuig met ons wapens opgemerk het, het hy soos ʼn besetene tekere gegaan omdat sy eerste gedagte was dat ons deel van die kapers was. Hy het egter bedaar toe hy hoor dat ons Afrikaans gepraat het en hy was derhalwe na die lughawegebou geneem ten einde sy veiligheid te verseker. Verskeie onderhandelinge het tussen ʼn priester, een ander persoon en die kapers plaasgevind. Tydens die onderhandelinge was daar van die passasiers vrygelaat en op ʼn latere stadium was daar weer ʼn klompie vrygelaat. Ons het verneem dat President Banda die Vrydagoggend na Engeland sou vertrek het, maar die gekaapte vliegtuig het die aanloopbaan versper en gevolglik moes die tegnici die vliegtuig sleep totdat dit vry van die aanloopbaan gestaan het. Om ongeveer vyf uur die oggend het lede van die weermag opdrag gekry om die vliegtuig met kleingeweervuur aan te val. Die kapers het hulleself na die skietery aan die weermag oorgegee en die passasiers het ongedeerd van die vliegtuig afgestap. Die Weermaglede het daarna die vliegtuig bestyg. Inligting wat ontvang was het berig dat die deure van die vliegtuig met ʼn rooi tou en springstof verbind was. Die rooi tou was egter die plastiese band van ʼn bandmasjien waarmee hulle die passasiers om die bos gelei het. Die springstof was, nadat dit uit die vliegtuig verwyder was, langs die aanloopbaan vernietig. Die vliegtuig was na die lughawegebou gesleep waar ons die vliegtuig bewaak het. Ek het intussen al die klein botteltjies drank wat op die vliegtuig was in ʼn plastiese sak geplaas en onder een van die sitplekke weggesteek. Daarna het die Doeanebeamptes die vliegtuig bestyg en die houers met die ander drank en items geseël. Die Vrydagaand het ons die plastiese sak oopgemaak en lekker gekuier. Die voggies was net nodig om al die afwagting en spanning te verlig. Later het ʼn verslaggewer by ons op die vliegtuig aangesluit maar hy was verbied om enige foto’s te neem. Omrede die vliegtuig al vanaf die Woensdag in gebruik was, het dit aan die binnekant baie gestink. Die toilette was oorvol en geen vars lug was ingepomp

86

nie. Die Saterdagmiddag het ons gereed gemaak om na Jan Smuts te terug te keer. Die brigadier van die Malawiese weermag het ons by die vliegtuig kom afsien. Hy het elkeen van ons met die hand kom groet, op aandag gekom en gesalueer toe hy my groet. Generaal van Vuuren wou toe ewe verleë van my weet wie die generaal was, ek of hy? Vorster en Van der Merwe het agtergebly om die vliegtuig te bewaak. Na afloop van die operasie het generaal Van Vuuren ons by die Bloukamer op Johannesburgstasie onthaal. (Louw Hatting)

Die gevreesde geslagsiekte.

Lede van die anti-kapers eenheid was aan baie vreemde dinge blootgestel. ʼn Nuwe wêreld met vreemde uitdagings en ervarings het vir hulle oopgegaan. Die meeste van hulle het nie vantevore die voorreg en geleentheid gehad om die grense van die land oor te steek nie; wat nog te sê daarvan om nuwe lande en stede te besoek waar die wette, gebruike en tradisies heeltemal anders was as waaraan hulle gewoond was? Vanweë die Publikasie wette wat pornografie en ander onsedelike aktiwiteite verbied het, het hierdie manne soos elke ander jongman in Suid Afrika in ʼn baie beskermende en konserwatiewe omgewing grootgeword. Die manne was jonk, vol energie en beskikbaar en het alles gehad wat by ʼn jong man hoort. Tydens een van die vlugte na Portugal was daar vasgestel dat een van die nuwer lede op die eenheid ʼn jonge dame die hele nag in sy kamer onthaal het. Die manne wat al daar was, sal weet dat dié dames daar nie die hoogste morele standaarde gehandhaaf het nie. Sy was ook maar mens. Die betrokke kollega het toevallig ʼn doodgewone koorsblaar op sy lip gehad. Sy ouer kollegas het afgespreek dat hulle dié nuwe lid teen die gevare van sulke genietinge moes waarsku. Nadat sy kollegas die koorsblaar “wetenskaplik” bekyk en ontleed het, was dit hulle eenparige en onomwonde bevinding dat die koorsblaar ‘n definitiewe teken was van een van die mees gevreesde geslagsiektes, wat algemeen onder die prostitute in Portugal voorgekom het; dit was as “snailtracks” bekend. Ten einde geloofwaardigheid aan hulle “mediese bevinding” te verleen, was daar met die ander lede van die eenheid op beide Jan Smuts- en Kaapstad lughawens gereël dat hulle dié kollega met sy aankoms aldaar moes inwag. Sodra hy hulle gegroet het, moes hulle hom ewe bekommerd oor die snailtracks tekens op sy bolip uitvra. Die aand van sy vertrek vanaf Lisboa het aangebreek en, soos afgespreek, was hy met sy aankoms op Jan Smuts-lughawe, voor hy die aansluitingsvlug na Kaapstad kon haal, met die vraag gebombardeer: “Jong, by wie het jy geslaap? Dit lyk dan of jy snailtracks opgedoen het.” Die vlug na Kaapstad moes ʼn lang vlug vir hom gewees het. Dieselfde ongemaklike vrae en diagnose was gemaak toe hy by Kaapstad lughawe aangeland het en die ontstellende gedagte is in sy gedagtes vasgemessel met opmerkings soos: “Jong, dit is snailtracks wat jy het, bly net weg van vroulief af.” Jare later het hy vertel dat die vlug na Kaapstad inderdaad baie senutergend was. Hy moes eenvoudig ‘n plan maak om by sy vrou verby te kom. Hy het geweet dat wanneer die bemanning te DF Malan-lughawe aangekom het, was die lede gewoonlik met die vangwa na hulle onderskeie huise vervoer. Die rit huis toe was natuurlik nog erger aangesien hy jonk getroud was en boonop toe vir 15 dae van die huis af weg was. ʼn Man het mos immers ook verpligtinge by die huis gehad. Hy was mos ʼn “Jet setter” en vir drie dae het vlugflouheid die skuld gekry dat hy nie sy huweliksverpligtinge kon nakom nie. “Ma moes eers wag want miskien kan ek gou vir ʼn vlug na die buiteland reël”, het hy geredeneer. Hy het daagliks gebel om te hoor wat die moontlikheid was vir ‘n vlug, maar die manne wat die vlugrooster uitgewerk het, het geweet van die snailtracks waaraan hy kwansuis sou lei. “Hou hom ʼn bietjie by die huis; laat hom goed worry”, was die versoek. Daar was vir hom geen ander uitweg nie en hy het toe sy pel, wat ook sy huisdokter was, in sy vertroue geneem. Hierdie keer was hy deur ʼn gekwalifiseerde dokter ondersoek wat bevind het dat die koorsblaar niks te make gehad het met enige sogenaamde gevreesde siekte nie. Na ʼn penisillien inspuiting het hy perdfris en vol energie huis toe gegaan; in staat om sy huweliksverpligtinge na te kom. (Douw Vermeulen)

87

Pasop wat jy sê.

Gedurende 1970 was ek en 'n aantal uitgesoekte lede as spesiale anti-kapers by Esselenpark opgelei. Ons het beveiligingsdienste op SAL se vliegtuie wat na die buiteland gevlieg het, verrig. Ek was dus bevoorreg om verskeie wêreldlande oor 'n tydperk van 'n jaar te sien, wat as ek daarvoor moes betaal het, my baie sou gekos het. Daar was gelukkig nooit ernstige voorvalle op enige van die vlugte wat ek beman het nie. Die kos in sommige van die lande was nie altyd so smaaklik nie en dan het 'n man maar op vrugte oorleef. So was dit die geval in Italië waar dit baie moeilik was om kos te bestel want die Italianers praat mos net hulle taal. Op ʼn dag het ek en wyle Charl Du Toit lus gekry vir kerrie en rys maar die kelner in die restaurant kon nie verstaan wat ons wou hê nie. Na baie verduidelikings het hy toe te voorskyn gekom met twee borde vol rys en 'n blikkie kerriepoeier. Daar het ek ook geleer om maar versigtig te wees wanneer jy Afrikaans voor ander praat wanneer jy 'n ander land besoek het. Terwyl ek en Tjaka Neethling eenkeer met 'n bus na die lughawe oppad was, (ook in Italië) het daar 'n mooi vrou oorkant ons in die bus gesit. Sy het soos 'n tipiese Italiaanse vrou gelyk en ons het gedink dat sy nie Afrikaans sou verstaan nie. Tjaka het haar skoonheid besing, min wetende dat sy alles verstaan het wat ons van haar gesê het. Tot ons groot ontnugtering het sy net geglimlag en gesê: “Meneer, ek verstaan elke woord wat julle praat.” Gelukkig het ons niks vulgêr omtrent haar kwytgeraak nie. Gedurende 1971 is ek getroud en kort daarna was ek weer vir drie weke buiteland toe, waarna ek besluit het dat dit nie 'n goeie ding sou wees om so kort na jou troue jou vrou vir so lank alleen te laat nie. (Willie Goosen)

My beste dae.

Hierdie was beslis een van die hoogtepunte van my loopbaan. Om perspektief te verleen aan dit wat ek te vertel het, wil ek darem net ‘n staaltjie van generaal J.J.J. van Vuuren deel wat plaasgevind het kort voor sy aftrede. Ons was ‘n klompie offisiere bymekaar toe die generaal vertel het van sy wedervaringe op ‘n reis wat hy na Londen moes onderneem het. Hy het nog skaars by sy hotel aangekom, of hy word oppad na sy kamer deur ‘n pragtige jong vrou bestorm met onsedelike voorstelle wat die generaal laat bloos het. Die vrou was duidelik daarvan oortuig dat die generaal ‘n ryk besigheidsman was (Nie dat ek haar blameer nie want generaal J.J.J. is ‘n statig man wat jy altyd deur ‘n ring kon trek – voorwaar ‘n “gentleman”). Nietemin, die generaal het sy verbasing uitgespreek oor die lae morele standaarde van mense oorsee en dat die pragtige jong vrou geen probleme gehad het om ‘n veel ouer man met onsedelike voorstelle te nader nie. Ek was in die eerste groep wat as anti-kapers opgelei was. Ons het as die “Dirty dozen” bekend gestaan. Generaal J.J.J. was op daardie stadium ‘n vol kolonel en was baie nou by ons opleiding betrokke. Ek glo dat die generaal baie te doen gehad het met die aanstelling van Joe Grant Grierson in die Mag asook met laasgenoemde se aanstelling as luitenant. Dit was die regte ding om te doen. Joe was ‘n goeie mens en ons het almal van hom gehou. Luitenant Philip Delport was ook by die opleiding van die anti-kapers betrokke. Ek sal nooit vergeet hoe moerig Joe was toe Philip ons in twee spanne wou indeel en luidkeels gevra het “Wie is aan Joe se kant?” Daardie Engelsman het vir Philip vasgegryp en vererg gevra: “Who are you calling a c*^t?” Philip moes vinnig mooi praat en vertalings doen om Joe te kalmeer. Sy verleentheid het ons laat skater van die lag; dit was iets om te aanskou. Ons vlugte het begin en ek was op die eerste “trip” vir twee-en-veertig dae in Lisabon gestasioneer. Ek en Andries Wittstock het op ‘n dag by die Chickenhouse gaan eet toe ons ‘n Amerikaner opgemerk het wat kos bestel het. Hy het met die kelner in ‘n regte “Southern drawl” gepraat: “I say partner, bring me a huge steak and just burn it quickly on both sides.” Die Portugese kelner kon nie kop of stert van die singerige gepraat verstaan nie en kon net antwoord: “Scuza me”. Aanhoudend het die arme man sy bestelling probeer plaas, maar al wat hy uit die kelner kon kry was: “Scuza me.” Uit moedeloosheid het die gefrustreerde toeris gebrom: “Just kill an ox, drag it onto my plate and chop the horns off.” Die arme Portugees het toe verbouereerd begin rondtrap. Die toeris en die kelner het ons verbaas aangekyk toe ek en Andries uitgebars het van die lag. Ons het die kelner gehelp deur die bestelling so goed as wat ons kon te verduidelik. Ek dink dit was Andries wat gesê het: “Moeit grande steak, ben

88

besado.” Vertaal, beteken dit: “Groot biefstuk, goed gaar.” Dit het nie saak gemaak as jy ‘n biefstuk in Lissabon bestel het en jy het gesê dit moes goed gaar wees nie, want jy het dit buitendien nog steeds half rou ontvang. Ons pret was nog nie klaar nie want toe die toeris sy rekening, in escudo’s, ontvang het, het hy die arme kelner weer deurmekaar gemaak deur te vra: “Well partner, how much is that in real money?” Gedurende hierdie tydperk het generaal J.J.J. vir Attie Cronjé van die Kaap en vir my uitgetrap omdat ons hare, soos altyd, borselkop geskeer was. Goedig het hy ons opdrag gegee om ons hare te laat groei want daar het “polisieman” op ons voorkop geskrywe gestaan. Jy kon die hele groep met ‘n veer omgeslaan het. Dit was ongehoord vir ‘n offisier, die netjiese generaal van alle mense nog daarby, om so ‘n opdrag te gee. Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die S.A.Spoorwegpolisie dat ‘n opdrag van hierdie aard gegee was, maar soos altyd was die generaal natuurlik reg. Ons het ons hare toe laat groei en, hoewel dit aanvangklik ongemaklik was wanneer dit aan jou ore geraak het, het ons gou daaraan gewoond geraak. Op my tweede “trip” na Lisabon het ons vir ou Kelllie Kelbrick van die Vrystaat daar ontmoet. Hy het vertel dat hy Lisabon goed leer ken het en dat hy ons daardie aand na ’n paar gate toe sou neem. Die gate was ‘n reeks nagklubs naby Lisabon se hawe. As ek reg onthou was daar onder andere die Niagra en die Texas Bar wat deur Lugdienspersoneel besoek was. By die gate aangekom, het Kellie ons eerstens na die Texas Bar toe geneem. Dit sal nou duidelik word hoekom ek in die eerste paragraaf van generaal J.J.J. se wedervaringe vertel het. Ek was jonk en pas getroud. Ek was miskien binne perke stout gewees, maar daar het niks met my morele standaarde geskort nie. Ek meen te sê ek is ‘n boereseun en wat gevolg het, het my totaal onverhoeds betrap. Ons was net nie aan sulke dinge in Suid-Afrika gewoond nie. Die blerrie stoute Kellie het mos vir een van die mooi dames gesê, terwyl hy met sy vinger na my wys, “He say you plastico.” Die meisie het na my gekyk en het dadelik een van haar borste uitgepluk en klip hard gesê: “I no plastico. Me fantastico.” Ek het blosend gebid dat die aarde moes oopmaak en my insluk terwyl Kellie homself amper natgemaak het soos wat hy gelag het. Ek het nie lank daar gebly nie. Ons gereelde eetplekke in Lisabon was die Chickenhouse, wat in gebraaide hoeders gespesialiseer het, en die Klipkerkie wat lekker ontbyt voorgesit het. Hulle het die lekkerste roereiers met vars garnale vir ontbyt bedien en dan kon jy ook giraffe bier saam met dit geniet het. Dit was ‘n massiewe bierglas van om en by een en ‘n half liter met ‘n giraffe daarop. Die vliegtuig se bemanning wat die vlugkaptein, die junior kelners en veiligheidsmanne ingesluit het, het gereeld by die Chickenhouse bymekaar gekom. Die kaptein het namens almal bestel. Elkeen het die volgende gekry; “One bottle Mateus Rosé wine, pattata fritters, one Franco ben, ben, ben basado and salado.” Die pattata fritters was slap tjips, die franco was ‘n jong hoender en die ben, ben, ben basado was baie, baie, baie gaar. Anders het jou hoeder half rou daar aangekom. Met my eerste maaltyd daar het ek opgemerk dat die bemanning versigtig iets met ‘n kwas aan die hoender gesmeer het. Hulle het verduidelik dat dit ‘n chilliesous was wat baie lekker gesmaak het. Ek het ‘n hoenderboudjie afgebreek om dié sous te probeer. Ek is mos lief vir goed wat brand. Ek het gesmeer en mildelik van die sous op die boudjie gegooi, maar ek het nie agtergekom dat almal my onderlangs dopgehou het nie. Dit was asof my mond met ‘n kool vuur in aanraking gekom het toe ek die hoender in my mond gesit het. Almal het geskaterlag toe ek na my wyn gegryp het om die brand in my mond te blus. So ‘n ete het destyds, met broodrolle ingesluit, vyf-en-sestig escudos gekos wat op daardie stadium gelykstaande was aan een Rand sewentig sent. Voorwaar ‘n winskopie. Ons het altyd mildelik fooitjies aan die kelners uitgedeel wat beteken het dat ons altyd by die eetplekke verwelkom was. Op Saterdagaande was al vier die manne op Lisabon vrygestel van diens. Ek, adjudant offisier Diedie Oosthuizen, Louw Hattingh en nog ‘n lid (ek kan nie onthou wie dit was nie) het op ’n keer die Klipkerkie vir ‘n aandete van roereiers, garnale en biefstuk besoek. Ons het natuurlik ook ‘n giraffie saam met die ete bestel. Oom Diedie was ‘n kleingeboude man en dit was werklik koddig om hom te aanskou wanneer hy ‘n giraffie gedrink het. Die linkerhand was deur die reuse bierglas se oor gedruk en die hele affêre was nader gesleep. Wanneer die bierglas by die rand van die tafel gekom het, was die regterhandtjie onder die

89

glas ingedruk. Die glas was heeltemal van die tafel af getrek en dit het afgesak tot onder Oom Diedie se lyfband sodat die rand van die glas regoor sy mond kon kom. Die bolip met die fyn potloodhaarsnorretjie was dan oor die rand van die glas gehaak en sy hele bolyf het dan terug geleun sodat hy aan die bier kon suig. Na die klomp bier het Oom Diedie kans gesien vir die gate. Ek en Louw was glad nie daarvoor te vinde nie want ons moes Sondagoggend om vier uur opstaan om op die vlug na Athene, oor Rome, te werk. Oom Diedie was die senior van die groep en het net eenvoudig gesê: “Moenie dat ek vir julle mannetjies opdrag gee om saam te gaan nie.” Ons kon nie daarteen gestry het nie en so het ons dan ons weg gebaan na die gate toe. By die Niagra aangekom het Oom Diedie die voortou geneem. Hy was so bekend daar dat die orkes dadelik opgehou het om te speel met die deuntjie waarmee hulle besig was en onmiddellik losgetrek het met “Sarie Marais”. Oom Diedie het gelate vir almal in die klub gewuif want almal se aandag was toe op hierdie belangrike man gevestig wat so baie respek in die klub afgedwing het. Nadat Oom Diedie ‘n paar keer al wuifende en buigende in die rondte gedraai het, het ons ons sit gekry. Dit was duidelik dat ons adjudant ‘n belangrike man in hierdie plek was want die bestuurder het al buigende nadergekom om ons te verwelkom. “Aaaaah, Capitano. Welcome, welcome.” Oom Diedie het hulle oortuig dat hy ‘n vlugkaptein was en het my as sy eerste offisier voorgestel, vir Louw Hattingh as ‘n leerling loots (boy pilot) en die ander lid as die navigator. Na ‘n verdere twee doppe het ek en Louw daarop aangedring dat ons moes loop want ons moes oor ‘n paar uur opgestaan het om te gaan werk. Oom Diedie het vertel dat hy ‘n bietjie Italiaans kon praat want hy was in Italië gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Ai, ons het ons omtrent gebreek soos wat ons vir hom gelag het toe ek hom wou oortuig het dat ons moes loop. Al wat hy aanhoudend vir my gesê het was “Aspeto uno momento, man Ronnie man”. Dit was die “man Ronnie man” in Afrikaans wat ons gebreek het. Uitendelik het ons hom daar weggekry en het ons ook uiteindelik by die hotel aangekom. Dit was hier waar Louw gewys het hoe stout hy kon wees. Ons het ons kamersleutels by ontvangs gekry en die hysbak na bo geneem; elkeen oppad na sy lêplek toe. Louw het die hysbak op die verkeerde vloer gestop en vir Oom Diedie ‘n goeie nag en ’n lekker nagrus toegewens. Louw het die hysbak se deur vasgehou sodat Oom Diedie kon uitstap terwyl die res van ons geloer het om ons te vergewis van wat met die adjudant sou gebeur het. Hy het by die eerste kamerdeur aangekom en vir ‘n hele rukkie gesukkel om die deur met sy sleutel oop te sluit. Skielik was die deur van binne af oopgeruk en Oom Diedie het verbaas verneem: “En wat soek jy in my kamer?” Nog ’n man, wat lank saam met my in Lisabon gewerk het, was Langhans du Plessis. Een oggend het ons ontbyt genuttig en ons het ‘n baie mooi meisie opgemerk by die volgende tafel waar sy saam met ‘n baie lelike ouer man gesit het. Ou Langhans kon nie uitgepraat raak (in Afrikaans natuurlik) omtrent die snaakse verskynsel nie. Toe ek hom maan om nie so hard te praat nie het die man opgestaan en gesê dat hy lank in Suid Afrika gewerk het en dat hy alles verstaan het wat ons gesê het. Hy het voorts gesê dat hy vir die meisie heel aantreklik was en dat dit al was wat saak gemaak het. Verleë was nie die woord om ons gemoedere te beskryf nie. Langhans het ‘n paar flou verskonings aangebied en ons het ons uit die voete gemaak. By ’n ander geleentheid het ons die pragtige armbande in ’n juwelierswinkel bewonder en so met die gepratery het daar ‘n tannie afgehaak: “Sowaar, boereseuns in Portugal.” Ons het toe lekker gestaan en gesels met ‘n groep Suid-Afrikaners wat daar op toer was. Ek het twee van die armbande vir my vrou gekoop. Ons het na hierdie voorvalle ‘n wag voor ons mond geplaas want jy het nooit geweet of daar taalgenote binne hoorafstand was nie. Ons het vriende met alle moontlike S.A. Lugdienspersoneel oorsee gemaak want dit was belangrik om hul vertroue te wen sodat hulle gemaklik sou wees om inligting aan ons oor te dra. Andries Wittstock het vir die Portugese geleer om Afrikaans te praat. Ek sal maar nie herhaal hoedat hy vir ‘n man geleer het om te groet en vir lugwaardinne te sê hulle is pragtig nie. Ek en Langhans het besondere vriendskapsbande met die grondingenieur in Lisabon opgebou. Sy naam was Joe Belagarda en hy was later een van die slagoffers van die Helderberg ramp. Joe het later as vlugingenieur opgetree. Op ‘n dag het Joe gesê dat hy graag vir my en Langhans na die Casino op Estoril wou neem. Ek en Langhans het die dag op ‘n vlug na Zurich in Switserland diens gedoen en met die terukeer het Joe gesê dat ons vir hom moes

90

wag sodat hy ons hotel toe kon neem. Nadat Joe sy werk op ons vliegtuig suidwaarts afgehandel het en ons die vlug veilig afgesien het, het ons saam met Joe na die hotel vertrek. Hy het gevra om ‘n baadjie en ‘n das te leen want dit was noodsaaklik vir toelating tot die Casino. My baadjies was te klein en Langhans s’n het ‘n bietjie los gesit, maar hy het darem redelik gelyk. Daar het ons toe die pad gevat na nog ‘n avontuur te Estoril. Joe het vertel hoeveel geld ons vir die groot “show”, wat later sou plaasvind, moes uithou. Ons het die tyd verwyl deur ‘n paar escudos in die masjiene te gooi en, snaaks genoeg, het ek en Langhans heelwat gewen. Langhans het uitspattig gevoel na die wennery en het ‘n paar escudo muntstukke in die vloerbestuurder se hand gedruk. Die man het dit geweier en gesê: “No, you can give that to the boys.” Ek dog ou Hans wou iets ookom want hy was mos in die gesig gevat en hy sommer in Afrikaans vir die ou verduidelik: “Ek gaan beslis nie vir jou note gee nie, ou maat.” Ons het ons kaartjies vir die “show” gekoop en stelling by ‘n tafel vir vier ingeneem. By die kaartjies se prys was ‘n aantal biere ingesluit as jy wou drink. Soos wat jou glas leeg geraak het, het die besige kelners nog ‘n vol bottel bier voor jou op die tafel neergesit. Die aand se program het begin en daar was mans en dames gimnaste wat op die verhoog en in die paadjies tussen die tafels saltos en allerande asemrowende mannewales uitgevoer het. So het die program voortgegaan totdat die finale uitvoering aangebreek het. ‘n Ontkleedans. Ek en Hans was nie hierop bedag nie en ek kon sien dat Joe hom gate uit geniet het deur te kyk na die gesigsuitdrukkings van hierdie boere wat nog nooit in hulle lewens so iets aanskou het nie. Joe het glad nie na die dans gekyk nie. Sy oë was vasgenael op ou Hans wat stip na die danseres gekyk het. Die hoogtepunt van die dans het gekom toe sy heeltemaal kaal gestaan en gesê het:“I feel so funny.” Hans het kliphard afgehaak met: “How do you think I feel?” Intussen was Langhans besig om bier in sy glas te gooi en hy het skoon vergeet waarmee hy besig was. Sy oë het op die danseres vasgenael gebly. Die bier het oor die glas se rand gestroom en van die tafel af geloop terwyl Joe en ek ons wou breek soos ons gelag het. Voor ek van hierdie onderwerp afstap, net vinnig ‘n kort storie van Christie van Biljon van die Kaap. Die hoofstraat van Lisabon was vir my die mooiste van alle stede wat ek nog ooit besoek het. Dit staan bekend as die “Avenida de Liberdade” (Die straat van vryheid). Die Portugese is baie lief vir hul standbeelde en begin by die bopunt van straat by die “Monumento de Pombal.” Pombal was die man wat Lisabon herbeplan het nadat die stad etlike eeue tevore feitlik totaal deur ‘n reuse brand verwoes was. Dit is ‘n imponerende standbeeld maar verder die straat af was daar ‘n hele aantal ander standbeelde. Naby die Klipkerkie was daar ‘n lewensgroot standbeeld wat helder belig was. Na aandete op hierdie spesifieke geleentheid het ons ons weg gevind terug na die hotel. Christie het vooruit gedraf en het op die voetstuk van die standbeeld gespring en begin om arm-om-die-lyf met die beeld te praat. Hy het ‘n toespraak in Afrikaans afgesteek wat ‘n politikus jaloers sou maak. Om die beurt het hy met die klomp mense wat begin saamdrom het gepraat en dan met die standbeeld. Aan die einde van elke gewigtige sin het hy uitdagend na die standbeeld gekyk en dan na sy gehoor voor hom. Na een dramatiese gebaar het een van die omstanders begin hande klap wat oorgegaan het in ‘n algemene applous. Na nog ‘n minuut of wat se eerbetoon aan die standbeeld het Christie van die standbeeld afgespring en was hy hartlik deur ‘n hele aantal Portugese gelukgewens. Ek was oortuig dat hulle nie altyd geweet het wat hy gesê het nie. Wat die Avenida de Liberdade so pragtig gemaak het, was rye lowergroen bome wat tussen die twee wye hoofstrate en die twee smaller hoofstrate geplant was. Die sypaadjies was kunstig met wit marmeragtige en swart klip motiewe uitgelê. Ek het gedurende hierdie tydperk van my diens vele ander stede en lande besoek en daar is nog baie stories wat vertel kan word maar ek sal dit vir ‘n volgende keer los. (Ronnie Coetzee)

Bambino.

Na Kollege opleiding was ek op Jan Smuts-lughawe gestasioneer. Ons dames het meestal die deursoeking van passasiers gedoen wat ek nie as opwindende werk beskou het nie. Ten spyte daarvan was dit tog vir my genoeg om elke dag deel te kon gewees het van ‘n uiters

91

This article is from: