gevind. Die bedrag van R496-00 was teruggevind, terwyl hulle met die res van die buit klere gekoop het. Van die geld was ook gebruik om meisies na nagklubs te neem. (Hennie Slabbert – Vaderland 21/11/1968) LUGDIENSVEILIGHEID My tydperk as anti - kaper. Aan die einde van 1969 was ek en ʼn aantal lede opdrag gegee om by die opleidingskollege te Esselenpark aan te meld. Daar aangekom het die Kommissaris, generaal majoor J.J.J. van Vuuren, ons ingelig dat ons keuring sou moes deurloop ten einde as anti-kapers op SAL se vliegtuie diens te kon doen. Dertien van ons was gekeur om die intensiewe opleiding te ondergaan na afloop van al die toetse. Die opleiding het, bo en behalwe die wetsaspekte, ook skietkuns en selfverdediging ingesluit. Vir die doel van die vuurwapenopleiding en selfverdediging was Joe Grant Grierson, wat ʼn spesialis in die twee gebiede was, van buite die Mag in diens geneem. Na afloop van die opleiding was ons in groepe ingedeel om dienste op alle SAL vlugte wat na die buiteland gevlieg het, te verrig. My twee spanmaats was sersant Herman Buckingham en adjudant offisier Harry van der Linde. Ons eerste vlug was na Engeland. Daarna het ons vlugte onderneem na Madrid, Portugal, Parys, Hong Kong, Las Palmas, New York, Nederland, Gaboen Bon, en vele meer. Ek was ook bevoorreg om Staatspresidente John Vorster en P.W Botha, ministers Pik Botha, Hendrik Schoeman en buitelandse ministers soos Banda Nserewa, saam met kolonel André Horak, adjudant offisier Jan Kilian en sersant Brancken op vlugte na die buiteland te vergesel om beskerming te verleen. Wanneer ons nie gevlieg het nie, moes ons as speurders plaaslike sake op Jan Smuts-lughawe ondersoek. Die speuroffisier was kaptein Andries Walton en die speur-adjudant offisier was Daisy van Dyk. Soms moes ek vir Van Dyk aflos en die ondervinding wat ek as speurder in die Noord Kaap opgedoen het, het goed te pas gekom. Nadat die dienste van die anti-kapers opgehef was, het ek op die lughawe aangebly en was toe verantwoordelik, saam met ʼn aantal lede, om goudstawe, munte en platina na Frankfort, Zürich, Hong Kong en Taiwan te begelei. Ek sou as ʼn gewone polisiebeampte nooit die geleentheid gehad het om die buiteland te besoek nie en ek vermoed dat ek vir luitenant André Horak, met wie ek op Klerksdorp saam gewerk het, hiervoor moet bedank. Sou die geleentheid nie op my pad gekom het nie, sou ek waarskynlik as polisieman op Klerksdorp bedank het omdat ek en luitenant De Vos nie goed oor die weg gekom het. Terwyl ek diens in Rome verrig het, het ek opdrag gekry om na Jan Smuts-lughawe terug te keer waar ek deur kaptein Andries Walton, met sy hoed in sy hand, ingewag was. Ek het geskrik want beide my moeder en my vrou was nie gesond gewees op daardie stadium nie en ek was besorg dat daar moontlik iets met een van hulle kon gebeur het. Ek was na kolonel Klopper geneem en hy het my voorts ingelig dat die Kommissaris, generaal majoor Marius van Vuuren, my wou spreek. “Nou wat de hel het ek aangevang dat die Kommissaris my wil sien?”, het ek so in my stilligheid gewonder. Die Kommissaris wou met my aankoms by sy kantoor by my weet hoe gou my vrou ʼn ander koffer kon pak, want hy wou my vir ʼn ruk Nederland toe gestuur het. Ek het half verward vir vroulief geskakel met die nuus – en dit terwyl sy nog onder die indruk verkeer het dat ek nog in Rome was. Daardie selfde aand nog het ek Nederland toe gevlieg om my drie maande lange diens aldaar te begin. Generaal Marius van Vuuren en sy vrou het mettertyd by my in Nederland aangesluit. Ek moes intussen onder andere onderhoude reël tussen generaal van Vuuren en majoor Gerritsen, Bevelvoerder van die Reikas en Volkspolisie, by Schipol-lughawe. Verder was ek getaak om die veiligheidstandaarde by Schipol-lughawe te monitor en met my terugkoms te Jan Smuts-lughawe moes ek aan majoor Phillip Delport verslag gedoen het. Die tydperk in Nederland was vir my ʼn besondere voorreg en ondervinding. Maar vir my was die grootste van alles, die vertroue wat die Kommissaris en die offisiere in my gestel het. (Jan Vorster)
84