1 minute read

Paulene de Bruin NINA

Kaptein Van Die Eerste Hokkiedogters

Wat is die hoogtepunt van julle span se seisoen sover?

Na ‘n moeilike verloor aan die begin van die seisoen, het ons span deurgedruk en die week daarna vir Rustenburg Girls’ High School, een van die uitdagendste opponente, gewen. Dit was ‘n groot vertoon van krag en vasberadenheid en het vir die res van die seisoen vir ons momentum gegee!

Hoe motiveer jy jou span?

Ek probeer altyd om my span te motiveer deur op die positiewe aspekte te fokus, en hulle aan te moedig wanneer hulle iets nuuts probeer. Ek glo dat positiewe terugvoer noodsaaklik is vir enige speler se groei.

Wie is julle onderkaptein en hoe staan sy jou by?

Ons onderkaptein is Keziah Petersen. Sy motiveer my en ons span met haar uitmuntende spel en vasberadenheid op die veld. Sy moedig ons ook aan met die wyse waarop sy op die hokkieveld speel!

Wat wil julle as `n span die jaar bereik? Wat sal jou trots maak?

Ons sal graag onder die topdrie wil eindig. Dit sal my baie trots maak om te sien hoe ons span die liga op ‘n hoë noot teen Durbanville afsluit. Ek glo ons span het baie diepte en dat ons in die volgende paar jaar nog hoë hoogtes sal bereik. Selfs al speel ek nie meer in die span nie, sal dit my trots maak om hulle prestasies getrou te volg!

Wat is jou planne vir die toekoms?

Ek wil volgende jaar graag medies studeer en eendag as chirurg praktiseer. Die lesse wat ek in my hoërskoolsportloopbaan geleer het, sal ek vir die res van my lewe koester en met my saamdra. Selfs al is my toekomsplanne akademies van aard, sal my liefde vir hokkie altyd voortleef.

This article is from: