5 minute read

NET VIR PAPPAS

Next Article
TV-TYD

TV-TYD

’n Breër IMPAK

Koesterende pa’s maak emosioneel-intelligente kinders groot —en help om die samelewing meer regverdig te maak

Deur Kevin Shafer

Toe my oudste seun, wat nou amper 13 is, in Julie 2008 gebore is, het ek gedink ek sou maklik my loopbaan kon balanseer met my begeerte om meer betrokke by die huis te wees, veel meer as wat my pa en sy generasie was. Ek was verkeerd.

Ek het bykans dadelik agtergekom hoe moeilik sosiale beleide, skool en gesondheidstelsels dit vir pa’s maak om intens betrokke by die huis te wees. Teenstrydige verwagtinge oor werk en gesinslewe is in oorvloed.

As ’n vaderskapnavorser met vier kinders van my eie, is ek daarvan oortuig dat pa’s transformerende figure vir hul kinders, gesinne en gemeenskappe is.

Maar ’n man se blote teenwoordigheid, salaristjek en bereidwilligheid om ongehoorsame kinders te straf, is nie naastenby genoeg nie. Baie van die voordele van vaderskap vir kinders kom van pa’s wat koesterend is, liefdevol en betrokke by alle aspekte van ouerskap.

Wanneer pa’s versorgers is—wanneer hulle emosionele ondersteuning verleen en liefdevol teenoor hul kinders optree—strek die invloed veel verder as groei, ontwikkeling, goeie gesondheid en goeie punte. My navorsing wys die voordele sluit ook in om kinders te hê wat waarde heg aan emosionele intelligensie, geslagsgelykheid en gesonde kompetisie.

KOESTERENDE TEENOOR ONVERSKOONBARE PA’S

Met die fokus op die breër impak wat pa’s het, het ek in Mei 2021 geanaliseer hoe vaderskap verskillende sosiale waardes soos ’n geloof in geslagsgelykheid beïnvloed.

In ’n meningspeiling onder meer as 2 500 Amerikaanse pa’s 18 jaar en ouer, het ek gevind dat betrokke vaderskap ’n blywende impak op die persoonlike waardes en kulturele perspektiewe van kinders het.

Die verskille tussen die mins koesterende en die mees koesterende pa’s kom duidelik in my navorsing na vore.

Pa’s met wie ek gepraat het en wat gesê het hul eie pa’s was baie teruggetrokke, was uiters kompeterend, emosioneel onverskoonbaar en het nie waarde geheg aan vroue se bydraes buite die huis nie.

In teenstelling hiermee, het pa’s wat gesê het hulle het hoogs koesterende pa’s gehad, ’n baie groter kans gehad om hul doelwitte op ’n gesonde manier te bereik, om emosioneel meer oop te wees en glo in ’n gelyke vennootskap.

HOE PA’S WAARDES VASLÊ

’n Aantal dekades gelede, was baie pa’s nie bereid of in staat om hul kinders emosioneel te ondersteun of fisies voor te sorg nie. Hulle het instede gefokus op kos op die tafel, kinders se dissipline en om bloot net teenwoordig in die huis te wees.

Hierdie tradisionele norme het baie hedendaagse pa’s swak toegerus vir moderne ouerskap. Hedendaagse sosiale normes het groot verwagtinge aan pa’s gestel: die neerlê van reëls en ekonomiese ondersteuning van die gesin asook om aan die kinders se fisiese en emosionele behoeftes te voldoen.

Breër ouerskapbetrokkenheid met kinders is belangrik omdat pa’s ’n unieke invloed op kinders het. Kinders se waardes, emosionele uitdrukking en sosiale ontwikkeling word nou verbind met vaderskap. Kinders word beter emosioneel hanteer, het meer deursettingsvermoë en is meer oopkop wanneer hul pa’s betrokke is by hul opvoeding en sosialisering.

Seuns, soms beter en soms slegter, is dikwels die spieëlbeeld van die gewoontes, belangstellings en waardes van hul eie pa’s.

Ek en my kollega, Scott Easton, het gevind hoe ’n mens se pa optree, is veral kragtig gegewe die feit dat kulturele, sosiale en institusionele norme oor vaderskap baie swakker is as wat dit vir moederskap is.

Byvoorbeeld, ma’s word tradisioneel verbind met die wys van toegeneentheid teenoor kinders en vir die verskaffing van emosionele ondersteuning. Sosiale verwagtinge vir hierdie gedrag is nie goed gedefinieer onder pa’s nie. En as ’n gevolg, het pa’s ’n baie groter invloed op hul seuns se vaderskapgedrag as wat ma’s op hul dogters se moederskapgedrag het. Positief gesien, beteken dit ’n aansienlike deel van mans boots die beste eienskappe van hul eie pa’s na, soos om liefdevol te wees. Aan die negatiewe kant, beteken dit slegte gedrag—soos buitengewone harde straf—word soms deur generasies herhaal.

Sommige mans vergoed tog vir hul eie pa’s se swak of nie-bestaande ouerskap deur hul eie idees en waardes oor ouerskap te skep.

VOORDELE VIR ALMAL

Die bevindinge van my meningsopname bou op dekades se navorsing oor die voordele van positiewe vaderskap. En hierdie voordele is nie net vir kinders nie.

Ma’s en ander ouerskapvennote is gelukkiger en gesonder wanneer pa’s baie by hul kinders betrokke is. Mans wat vir hul kinders sorg en hulle ondersteun, vind ook baat met ’n verbeterde selfbeeld, lewensuitkyk en verhoudinge. En gemeenskappe trek voortdurend voordeel uit die verhoogde vertroue en veiligheid van die verhoudinge wat gebou word wanneer pa’s positief deelneem aan hul kinders se aktiwiteite, skool en sosiale netwerke.

WAARDEER ONDERSTEUNENDE PA’S

Hoe kan die gemeenskap verseker dat gesonde kompetisie, emosionele openheid en respek vir vroue by toekomstige generasies van mans en pa’s posvat? Deel van die antwoord is deur

Pa’s is transformerende figure vir kinders, gesinne en gemeenskappe

waarde te heg aan liefdevolle, ondersteunende vaderskap.

Dit beteken meer ondersteuning vir pa’s in die werkplek, openbare beleid en instellings. Betaalde gesinsverlof, buigsame werksomstandighede en die integrasie van pa’s in prenatale en na-geboorte sorg is alles effektiewe maniere om pa’s aan te moedig om meer betrokke te raak.

Baie pa’s het meer betrokke geraak by kindersorg-take tydens die COVID-19 pandemie. Hierdie skuiwe kan permanent word, en uiteindelik kulturele waardes oor ouerskap en geslagsrolle verander.

Die breër gemeenskap moet ook duideliker boodskappe aan pa’s gee oor wat werk en wat nie werk in ouerskap. Byvoorbeeld, ek en my kollegas het gewys dat mans wat glo hulle moet koesterende ouers wees, meer betrokke is by hul kinders se lewens. Pa’s wat gesonde manlike eienskappe ten toon stel, soos selfgelding en sterk doelgerigtheid, neig ook om meer sensitiewe, betrokke ouers te wees.

Daar is dus baie roetes na transformerende vaderskap. En dit is nie bloot net gedrag van biologiese pa’s nie. Vaderskap word wyd gedefinieer, en mense kyk baie keer na nie-biologiese vaderfigure soos familielede, stiefpa’s, pleegpa’s en onverwante mentors.

Alle mans wat vir kinders omgee en hulle ondersteun, het ’n kritiese rol te speel om positiewe sosiale waardes in toekomstige geslagte vas te lê. ■

Kevin Shafer is ’n mede-professor van Sosiologie aan die Brigham Young Universiteit

This article is from: