4 minute read
KOS OP DIE TAFEL
Met Elmarie Berry se nuwe resepteboek sal jy in jou kombuis nuwe herinneringe skep
KOSBAAR is Elmarie Berry se eerste kookboek, hoewel sy reeds sedert 2015 ’n bekende kosblogskrywer is. Haar hartsbegeerte is om ’n boek uit te gee wat jou siel sal voed en waarmee jy in jou kombuis met jou nabye vriende en familie herinneringe kan skep. Die kookboek bevat meer as 100 eg Suid-Afrikaanse resepte. Met ’n Libanese ouma, toon Elmarie se kosvoorkeure ’n goeie mengsel van boerekos met ’n sterk Libanese invloed. KOSBAAR bevat ook heelwat graanvrye resepte. In haar eie woorde: “Kos is ’n manier en plek om bymekaar te kom, om rustig te raak en om jou hart oop te maak om te deel, lief te hê en lekker te lag. Geniet die reis en samesyn!”
Bastilla
Hierdie speseryagtige hoendergereg is ’n heerlike, maklike resep propvol interessante geure. Terwyl ek in ’n restaurant gewerk het, het ek dit dikwels gemaak.
LEWER 4 TOT 6 PORSIES
BESTANDDELE
• 100g botter • 1 ui, gekap • 2 knoffelhuisies, fyngekap • 1 eetlepel gerasperde vars gemmer • 1 eetlepel fyn kaneel • 1 eetlepel gemengde speserye • sout en varsgemaalde swartpeper • 1 teelepel borrie • 1 teelepel fyn kardemom • 1 heel hoender • 2 koppies hoenderaftreksel • 1 koppie room • 200g amandelvlokkies, gerooster • ‘n handvol vars kruisement, gekap
METODE
• Smelt die botter in ’n groot swaarboomkastrol en braai die ui tot sag. Voeg die knoffel, gemmer, kaneel, gemengde speserye, sout en peper, borrie en kardemom by.
Voeg die hoender by en gooi die hoenderaftreksel oor. Prut sowat ’n uur tot die hoender baie sag is. • Skep die hoender uit die kastrol en laat effens afkoel. Haal die vel af en die bene uit en pluis die vleis fyn. • Kook die vloeistof tot dit met die helfte verdamp het en voeg die room by. Voeg die gepluiste hoender by en prut vir 10 minute. • Strooi amandelvlokkies en kruisementblare oor en sit voor op rys.
LET WEL: Jy kan ook 6 hoenderfilette gebruik en dit vir sowat 30 minute prut.
Gebakte Beesstert met Olywe en Lemon
Beesstert met lemoen en olywe mag dalk vreemd klink, maar die kombinasie is verruklik. Dit is die maklikste en geurigste beesstert en sal die mense om jou tafel beïndruk.
LEWER 4 TOT 6 PORSIES
BESTANDDELE
• 3 eetlepels olyfolie • 1kg beesstert, in stukke gesny • 4 eetlepels brandewyn • 1 koppie droë witwyn • ongeveer 2 koppies beesaftreksel • 2 lourierblare • 2 eetlepels pietersielie, gekap • 2 repies lemoenskil (hou die res van die skil vir later) • 2 knoffelhuisies, gekneus • 225g swart olywe, ontpit • skil en sap van 1 lemoen • ‘n handvol pietersielie, gekap
METODE
• Verhit die oond tot 150°C. • Verhit olie in ’n ysterpot en braai die beesstert tot bruin. Verhit die brandewyn in ’n potjie tot warm en gooi oor die vleis. Steek die brandewyn aan die brand. Gooi die witwyn by nadat die vlamme uitgebrand het en laat 2 minute vinnig kook. Voeg net genoeg aftreksel by om die vleis te bedek.
Voeg die lourierblare, pietersielie, 2 repies lemoenskil en knoffel by. • Sit die deksel op en bak vir 4 uur.
Haal uit die oond en laat effens afkoel. Skep die oortollige vet af. • Voeg die olywe by en kook vir nog 1 uur stadig op die stoofplaat sodat die vleis van die bene begin loskom. • Rasper die lemoenskil oor en gooi die lemoensap oor die vleis. • Strooi pietersielie oor en sit voor met kapokaartappels en/of patats.
Nutella-gevulde Plaatkoekies
Wat ’n lieflike manier om ’n Sondagoggend te begin met ’n koppie stomende koffie en varsgebakte plaatkoekies gevul met Nutella. Dit is my kinders se gunstelingontbyt en so maklik om te maak. Probeer gerus die resep en maak jou gesin se harte bly!
LEWER 12 PLAATKOEKIES
BESTANDDELE
• 2 eetlepels botter • 150ml melk • 1 groot eier, geklits • 1 koppie bruismeel • ’n knippie sout • ½ koppie suiker • Nutella vir die vulsel
METODE
• Die maklikste manier is om die botter, melk, eier, meel, sout en suiker in ’n elektriese menger te meng. So nie, smelt eers die botter en voeg dan die melk en die eier by en meng.
Meng die meel, sout en suiker eers en meng dan alles saam met ’n ballonklitser. • Verhit ’n kleefvrye pan tot matig warm. Jy kan ’n klein bietjie botter of olie in die pan sit, maar ek gebruik die pan net so. Skep die mengsel met ’n lepel in die pan. Wanneer die boonste deel van die plaatkoekies begin borrels maak, skep ’n teelepel Nutella bo-op. Dan skep jy weer ’n teelepel plaatkoekiemengsel bo-op om die Nutella te bedek.
Draai die plaatkoekies om en bak die ander kant tot gaar en ligbruin.
LET WEL: Jy kan hierdie resep sonder die Nutella maak en die plaatkoekies gewoonweg bak.
Resepte en foto’s uit “KOSBAAR” deur Elmarie Berry (R380). Penguin, ‘n drukkersmerk van Penguin Random House, 2022