Van onbeholpe, mislukte “gewapende stryders” na onbeholpe, mislukte, strydende regeerders: die wie, wat, waarom & wenners van SA se gewapende stryd; die nalatenskap daarvan, en die toekoms wat dit mag vooruitskadu...
Dr. Willem Steenkamp 1. Agtergrond: hoe pas hierdie artikels en die onlangse e-boek in mekaar? Die Veiligheidstak van die destydse S.A. Polisie (SAP-VT) word in die media en in meeste geskiedskrywing – veral in Engels – enkel-dimensioneel uitgebeeld as rassistiese geweldenaars. Die lede word met Nazi’s vergelyk, en die “gewapende stryd” wat deur die bevrydingsbewegings gevoer is teen die “Apartheid-regering” word daarenteen as moreel-geregverdigd voorgehou. Dit is ook algemeen dat die “enkel storie” te kenne gee dat die ANC die gewapende stryd teen die Blanke bewind gewen het, in die sin dat dit tog hulle is wat in 1994 die beheer oor die magshefbome van regering oorgeneem het. Maar is die waarheid so eenvoudig soos wat hierdie “enkel storie” wil te kenne gee? Wat sê die onderskeie operasionele doktrines en die vergelykende statistiek oor die aard en omvang van die stryd, en oor wie “just cause” gehad het? Waarom is die gewapende stryd werklik gevoer? Wie het dit gewen, en teen wie, met welke gevolg? Watter impak het dit gehad op die oorgangsfase wat gevolg het? Ook op die afgelope “post-apartheid” dekades? En – belangrikste – watter rol speel die dekade-oue klowe in die ANC steeds in die post-Apartheid landsregering? Faksie-klowe wat terugdateer na die vyftigerjare en eng verweef was met manipulasie deur die SA Kommunistiese Party, met lg. wat die oorgaan tot wapenstryd aangehits het; klowinge wat steeds bepaal, dit wat die afsienbare toekoms vir Suid-Afrika skyn in te hou... NONGQAI se redakteurs het die ongebalanseerde “enkel storie” wat so wyd (en grootliks sonder teenspraak) sirkuleer, nou in detail aangespreek en in ware perspektief gestel. Vir die eerste keer kan u as leser, in u hand hou, die volle spektrum van feite, sodat u self, as “regter”, tot u eie bevinding kan kom. Ons het dit as ‘n gratis e-boek gepubliseer (Desember 2021 – u kan dit aflaai deur hier te KLIEK ). Om die inligting so wyd moontlik te kan versprei, is die e-boek in Engels geskryf. 2. Waarom is die e-boek geskryf, en vir wie? Die e-boek is enersyds bedoel vir oud-lede van die SAP-VT (en lede van die destydse veiligheidsmagte in die algemeen) en, deur hulle, veel-al vir hulle nageslag en vriendekringe. Want dié wat nie daardie tye self beleef het nie, het (aan die hand van die gruwelike “enkel storie”) dikwels vrae oor wat werklik gedurende die stryd-era gebeur het. Dus, as u kinders of kleinkinders wonder wat Oupa of Ouma gedoen het (en waarom & met welke gevolg) is hierdie e-boek as gebalanseerde feite-opgaaf, ‘n ideale spreekbuis wat u aan hulle kan deurgee – u kan die aflaai-skakel na hartelus deel met wie u wil, heeltemal gratis. Eersdaags sal dit ook in drukvorm beskikbaar wees, as gedenk-boek wat u kan bestel. Andersyds is die e-boek bedoel vir almal wat in die tema belang stel, en wat ‘n gebalanseerde geheelbeeld en begrip van die stryd-jare wil verkry. Daarom is die bronne wat gebruik is, merendeels dié van die ANC self (húlle statistiek, en die herinneringe, ontledings en menings van hulle eie oudstryders) sodat nie gesê kan word dat die e-boek eensydig gebaseer is op “fake news” van die Veiligheidsmagte se kant nie. Gegewe hoe belangrik die stryd was in die bepaal van die onderhandelinge en oorgangsfase, sowel as in die giet van die nuwe grondwetlike bestel en les-bes in die gang van die dekades wat gevolg het, is ‘n gebalanseerde, volledige begrip van hierdie vormende fase en sy faksies van kardinale belang vir die verstaan van die hede, asook vir die begryp van die interne ANC-magstryd en die strominge en drange wat die toekoms grootliks gaan bepaal... 10 Nongqai Vol 13 No 3