1 minute read

Voorwoord

Wat is Geskiedenis en hoe word dit aangebied?

Geskiedenis is die studie van verandering en ontwikkeling. Geskiedenis sal jou in staat stel om te sien watter impak mense se optrede in die verlede op die hede het, en om verder te verstaan en te evalueer hoe dit die toekoms kan beïnvloed.

Geskiedenis is ’n proses van ondersoek en om vrae oor die verlede te vra: ● Wat het gebeur? ● Wanneer het dit gebeur? ● Waarom het dit gebeur? ● Wat was die gebeurtenisse en besluite se impak op die samelewing?

Wanneer mense weet wat in die verlede gebeur het, kan hulle uit vorige foute leer en verhoed dat dit weer gebeur. Dit is veral belangrik wanneer maatskaplike, politiese en ekonomiese besluite in enige samelewing geneem word.

Die spesifieke doelwitte van Geskiedenis is om die volgende te skep:

● Belangstelling in en genot van leer oor die verlede. ● Kennis, begrip en waardering oor dinge wat in die verlede gebeur het. ● Die vermoë om ’n proses van historiese ondersoek te onderneem, en deel te neem aan navorsing en projekte deur die jaar. ● Die ontwikkeling van kognitiewe en ander vaardighede wat nodig is vir holistiese opvoedkundige ontwikkeling. ● Om ons te help om die hede te verstaan en selfs toekomstige gebeurtenisse te voorspel. ● Om verantwoordelike burgerskap te verseker.

Jy moet leer hoe om geskiedeniskennis en -vaardighede in brongebaseerde vrae en langer vrae soos paragrawe en opstelle te kan toepas. Bronne kan spotprente, artikels, gevallestudies, begripstoetse, foto’s en prentjies insluit. Om bronne te kan interpreteer, moet jy nie net feite en inhoud memoriseer nie, maar ook leer hoe om kennis toe te pas. Addisionele bronne soos KABV-voorgeskrewe handboeke kan ook saam met hierdie handleiding gebruik word.

This article is from: