2 minute read
Les 8: Die Goue Renoster en ander artefakte
Les 8 Die Goue Renoster en ander artefakte
Definieer
Status: mense se belangrikheid of posisie in ’n samelewing, gebaseer op goed soos rykdom, beroep, geslag, ens. Statussimbole: voorwerpe wat iemand se belangrikheid voorstel, bv. beeste of goud
Kerninhoud
Goud is ’n baie waardevolle element. Argeoloë het goue voorwerpe in grafte opgegrawe.
Goud is nie by Mapungubwe self ontgin nie, maar wel by die myne verder noord. Goud was skaars en net mense met hoë status of belangrikheid het goue voorwerpe as statussimbole besit. Goue artefakte is in drie van die 27 grafte by Mapungubwe-heuwel ontdek.
Figuur 2.5: Die Goue Renoster van Mapungubwe
Die belangrikste artefak wat in Mapungubwe gevind is, is die goue renoster.
Die renoster is eintlik van hout gemaak, wat toe met dun velle goud oorgetrek en met spykertjies vasgeslaan is. Die renoster was ’n simbool van leierskap omdat dit ’n kwaai dier is en die ander nie sommer met hom sukkel nie. Die renoster se horing simboliseer die rol van die leier wat sy mense beskerm.
Figuur 2.6 & 2.7: Ander goue artefakte wat by Mapungubwe ontdek is
’n Goue septer is ook uit een van die grafte gegrawe. Die septer is soos ’n kort staf. Dit dui op ’n leierskapsposisie. Die hoofmanne het septers gedra.
Buiten honderde glaskrale is daar ook vreeslik baie goue krale by Mapungubwe gevind. Net die koning en sy familie het die goue krale gedra. Dit het as simbole van hulle mag en leierskap gedien.
Suid-Afrika het ’n toekenning wat die Orde van Mapungubwe genoem word. Die goue renoster verskyn op die toekenning en die president oorhandig die toekenning aan Suid-Afrikaners.
Die toekenning word aan mense gegee wat ’n voortreflike diens aan ons land lewer, want Mapungubwe verteenwoordig vindingrykheid en hoe mense se denkwyses ons lewe verander het. Vindingrykheid is die krag van kreatiewe verbeelding – die mense van Mapungubwe het daaraan gedink om ivoor te ruil vir goedere wat hulle benodig het. So het hulle kontak met mense van verskillende lande gemaak.
Figuur 2.8: Die Orde van Mapungubwe
Nelson Mandela het die Orde van Mapungubwe ontvang vir sy uitnemendheid en uitsonderlike prestasie. Die toekenning is deur die president van daardie tyd, Thabo Mbeki, aan hom oorhandig.