1 minute read
Les 2: Nedersettings voor Mapungubwe – K2 en Schroda
Les 2 Nedersettings voor Mapungubwe – K2 en Schroda
Definieer
Argeoloog: ’n persoon wat opgrawings maak om prehistoriese en historiese artefakte of voorwerpe te vind en te bestudeer om hulle te help om die verlede te rekonstrueer Artefak: ’n voorwerp wat in die verlede gemaak en/of gebruik is, bv. meubels, klere, eetgerei, gereedskap, juwele, ens. Artefakte kan baie waardevolle bronne van inligting vir geskiedkundiges wees, veral wanneer daar min/geen toegang tot geskrewe inligting is nie
Kerninhoud
Baie jare gelede was daar ’n klomp koninkryke in Suider-Afrika, maar inligting oor dié koninkryke is moeilik verkrygbaar. Hierdie mense het nie alles neergeskryf oor wat hulle gedoen het nie. Argeoloë het eers in die 20ste eeu artefakte van die inwoners ontdek.
Ons kan sekere afleidings oor hulle lewenswyses maak uit die inwoners van K2 en Schroda se gereedskap, juwele en geboue. Gelukkig is daar van hulle nageslagte wat ons ook meer inligting kan gee deur van hulle verhale en gebruike oor te vertel. Die inligting wat ons sover van die twee plekke het, is soos volg:
In die tydperk van 900 tot 1300 was daar verskeie dorpies in die Limpopo-vallei. Die boere wat in die dorpies gewoon het, was bestaansboere. Hulle het met vee en gewasse geboer sodat hulle vir hulself en hul gesinne kon sorg. Die boere het yster gebruik vir hulle gereedskap en daarom word daar ook verwys na hierdie tydperk as die Laat-Ystertydperk.
Die klomp dorpies was nie afhanklik van mekaar nie, alhoewel ’n groep dorpies soms deel van ’n groter dorp gevorm het. Die dorp is dan deur ’n hoofman geregeer en ouer mense was belangriker as jonger mense. Die mans het ook meer mag as die vroue gehad.