2 minute read

Eetbare sonskerms

Next Article
Jak de Priester en

Jak de Priester en

Covid-19 en reuk bl. 132 ADHD neem toe bl 136 gesond

DEUR LYDIA VAN DER MERWE lydia.vdmerwe@sarie.com

Advertisement

sonskerms

Son . . . strand . . . sonroom, ja! Het jy geweet ook kosse kan jou vel teen die son beskerm? Nie ’n ekskuus om jou room, hoed en donkerbril opsy te skuif nie. Maar nog ’n wapen in jou arsenaal teen velveroudering

GROENTEE Dit verminder skade deur UVA-strale en bied beskerming teen tanende kollageenvlakke, is in ’n dierestudie bevind. Kollageen is die proteïen wat die meeste in die liggaam voorkom en maak die vel fermer. In nog ’n studie het velkanker minder voorgekom by muise wat groentee-polifenole (antioksidante) ingegee is. Wetenskaplikes het tot die gevolgtrekking gekom dat dit dalk ook by mense ’n voorkomende effek kan hê. Teug dus aan verfrissende groentee met ys, mentblare en jou gunsteling-sitrussap.

WAATLEMOEN Tamaties bevat baie likopeen, ’n antioksidant, maar waatlemoen selfs méér, asook vitamiene A en C. Likopeen absorbeer UVA- en UVB-strale, hoewel dit ’n hele paar weke kan duur voordat die vel meer “sonparaat” is, oftewel vir die biochemiese proses wat help om jou teen die son se molekulêre skade te beskerm, om in te skop. Ná ’n paar weke van soet, sappige waatlemoen elke dag (wat is nou moeilik daaraan) en siedaar . . . ’n natuurlike sonblok!

AVOKADO Kikker ’n maaltyd daarmee op, eerder as wat jy dit dik aan jou gesig smeer. (Soos beïnvloeders op YouTube doen en dan magiese resultate belowe.) Romerige avokado bevat hope vitamien E, noodsaaklik vir die voorkoming van sonskade. Dit hou ook die vel bevog en help veg teen kraaispore. Sit dit in slaai, of vervang die botter op jou brood daarmee. Of eet dit net so uit die skil, met bietjie sout en peper.

DONKERSJOKOLADE Dit het jy nie verwag nie! Die gereelde eet van sjokolade ryk aan flavonoïede, wat as antioksidante optree, bied beskerming teen die UV-strale se skade, volgens ’n studie in die Journal of Cosmetic Dermatology. Maar nie alle sjokolade gaan die ding doen nie, goeie sjokolade van die donkerder soort (70% en meer kakao) bevat meer flavonoïede. (Sien ook die artikel op bl. 40.)

WORTELS Dié krakerige happie slaan ’n driedubbele hou teen UV-skade: Dit bevat betakaroteen (wat in vitamien A omgesit word), likopeen en vitamien C. Al drie voedingstowwe beskerm die vel teen sonskade, wat vroeë veroudering en velkanker insluit. Geniet saam met tuisgemaakte hoemoes, of voeg by ’n kleurryke slaai.

This article is from: