3 minute read
Laaste sê deur Riana
from S012022
by nustobaydo
Daar ry ’n spoggerige motor deur onse dorpie.
Die mense op die sypaadjies gaan staan botstil om te kyk. Dié van ons wat op die koffiewinkel se stoep sit, vergeet om ons koffie te sluk. Die fietsers ry omkyk-omkyk verby, amper ry een ou in ’n lamppaal vas. Só ’n motor sien mens net in flieks en tydskrifte. Of outydse sigaretadvertensies. ’n Bloedrooi sportmotor. Afslaankap oop in die lentewind. Die enjin spin genoeglik, soos ’n groot kat. Ook ek kyk, met groeiende verstomming. Die bestuurder, wat nou voor die koffiewinkel parkeer, is ’n oompie so oud soos die berge. Sy benerige hande die ene plooie en ouderdomsvlekke. Die wind kan maar waai, sy yl grys haartjies bly soos dit is. Alles aan hierdie prentjie is verkéérd. Dit moet mos ten minste Casanova self wees wat agter daardie stuur sit? En langs hom ’n vrou wat lyk soos ’n silwerdoekgodin van weleer, iemand so sensueel soos Sophia Loren. Of Rita Hayworth, met ’n donkerbril en hare waaruit vuurvonke spat. Skaam kry ek vir myself, want ek is nou gruwelik skuldig aan
Advertisement
RIANA SCHEEPERS diskriminasie. Ouderdomsdiskriminasie. En stereotipering. Dis mos nie net jong, pragtige liggame wat uit ’n sportmotor kan klim nie? Natuurlik mag die oompie met sy duur sportmotor rondpronk, dis sy geld. Die mense van ons dorpie hou die motor en sy bestuurder met groot belangstelling dop. Dat hy bewus is van die aandag, is baie duidelik. Maar hy het ’n houding aan hom, een wat my nie juis aanstaan nie. My ouma sou hom een kyk gegee het en gesê het: Hy het nie ’n mooi lyk aan hom nie. Want van die oomblik dat ons kelnerin hom ontvang, flankeer hy met haar. En nie op ’n elegante manier nie. Hy noem haar “Jou oulike ding” en knyp guitig aan haar wang. Hy vat met sy benerige hand aan haar arm. Té lank en té intiem. Hy kyk na haar op ’n manier wat slymerig is. Sy hou nie daarvan nie. Ek ook nie. Ek moet my bedwing om nie iets te sê nie. Gelukkig is ons kelnerin bedrewe in die kuns van ontwyking, want sy sorg dat sy wegbly. Dit is haar manlike kollega wat sy koffie bring, al vra hy ewe ongepoets vir hom waar sy girlie is. Ek sit en stoom. Wat is dit met sekere ouer mans? Wat dink dat hulle onweerstaanbaar vir alle vroue is, veral as hy ’n deftige kar het? Besef hulle nie dat sommige vroue yskoud en hoflik sal bly, maar dat die meeste hom teen dié tyd al ’n klap sou gegee het nie? Miskien moet ek eendag ’n gids skryf. Wat vroue nié wil hê nie. Subtitel: Veral nie van ou mans nie. Dié gids gaan redelik omvattend wees, vermoed ek, want daar is baie skrikverhale uit die werklike lewe. Maar as ek dit kort en kragtig moet maak, sal die ouer, manlike leser wel die boodskap kry: Hou op flankeer, dis onaanvaarbaar. (Om sommer prontuit te sê, dis grillerig.) Wees vriendelik, nie vatterig nie. Tree op soos ’n heer, dan gesels ek graag met jou. (Maar net as jy nie jou storietjie die tiende keer oorvertel nie.) En miskien die belangrikste: Dis nie sleg om oud te wees nie, maar leef daarvolgens. Op ’n dag sit ek in ’n lughawe se sitkamer. Naby my sit ’n ouer man. Duur skoene en ’n ontwerpersbaadjie, maar sy houding is onopvallend, beskeie.’n Pragtige vrou, een wat die koppe laat draai, kom in en gaan sit op die oop sitplek langs hom. Hy knik hoflik toe sy met hom oogkontak maak, maar verdiep hom verder in sy boek.Toe sy opstaan om te gaan, staan hy op, ’n outydse hoflikheidsgebaar. En ek dink: Watter fantastiese man. Wat op só ’n manier respek betoon vir ’n vrou. Hier naby my drink die oom sy koffie klaar en staan op. Teleurgesteld dat hy nie ons kelnerin verower het nie, en teleurgesteld dat ek nie ag slaan op sy kyke na my, die tweede keuse, nie. Die arme man, dink ek. Oud. Én grillerig. 146 | Januarie/Februarie 2022 SARIE.com