8 minute read

Teenspoed net ’n komma, nie die einde

HOE HELP EK MY KIND MET VERANDERING?

Kinders het minder lewenservaring en vir hulle kan verandering nog moeiliker as vir jou wees, sê Nikki. “Aanvaar dat jou kind se proses anders gaan lyk as joune. Hulle het minder gereedskap om verandering te verwerk en gaan dit dus anders aanpak – bly oopkop daaroor. My oudste seun het byvoorbeeld dae omgeslaap ná sy pa se dood, terwyl my jongste probeer aangaan het soos voorheen – totdat posttraumatiese stresversteuring begin kop uitsteek het.” As jou kind baie sukkel, kry professionele hulp, sê sy. “Speelterapie is ’n moet vir jong kinders. Ouer kinders kan ’n traumaberader of sielkundige sien.” As ouer kan jy hulle ondersteun deur te luister en ook te sorg dat jy self dinge verwerk. “Deur na jouself om te sien kan jy jou kind beter ondersteun. Wees kwesbaar voor jou kind sodat hy kan sien en leer hoe jy dinge verwerk. Herinner hulle dat hulle aan die ander kant hiervan sal uitkom, al lyk dinge nou donker. Help hulle ook om raak te sien dat hulle voorheen al deur verandering gekom het en oukei was – hoe angswekkend dit ook al was. (Byvoorbeeld die eerste dag van skool.) Al is dit nie dieselfde nie, gebruik ’n mens baie van dieselfde gereedskap om enige verandering te verwerk.”

Advertisement

< “En selfs as die buitewêreld weer lyk soos voorheen, gaan jy binne-in anders wees.” En dis nie noodwendig ’n slegte ding nie, inteendeel, dit kan wonderlik wees. In Nikki se boek Future-proof Yourself: How to Win at Work and Life (Penguin Random House, 2021) verduidelik sy hoe jy die goeie, die hoop en die potensiaal uit moeilike tye in jou lewe kan ontgin.“Rampspoed kan jou óf begrawe as ’n slagoffer van omstandighede óf dit kan jou oopbreek en plant sodat jy daaruit kan groei. Die keuse is joune.”

’N KOMMA, NIE ’N PUNT

Nikki het die boek geskryf omdat sy baie ooreenkomste gesien het tussen hoe sy die dood van haar man, Simon, verwerk het en hoe mense probeer om die pandemie te verwerk. Die raad wat sy daarin gee, geld egter enige lewensveranderende gebeurtenis. “In 2017 het my lewe binne ses minute onherroeplik verander. Daardie aand het ons honde begin blaf. Simon het uitgegaan om te kyk hoekom en gewapende mans op ons erf betrap. Hy het die huis ingehardloop en die stoep se glasdeur toegemaak, maar hulle het hom deur die deur geskiet. ’n Enkele skoot in sy hart, en hy is daaraan dood.” Toe sy besef wat aangaan, het Nikki haarself in die badkamer toegesluit terwyl die rowers die huis binnegekom het.“Ek het noodoproepe gemaak. Toe hoor ek hulle het my seun, wat toe 18 was. Hulle het die deur probeer afskop, en ek kon hoor hoe my seun baie kalm vir hulle sê ‘sy het reeds hulp ontbied, julle kan netsowel gaan’. Ek dink sy kalmte en dié dat hulle my nie kon kry nie, het hulle die skrik op die lyf gejaag. Hulle het gegryp wat hulle kon en weggehardloop.” Die werklikheid het haar eers ’n week later, by haar man se begrafnis, getref. “Tot in daardie stadium was ek te getraumatiseer om enigiets te begin verwerk. Maar daar het ek besef ek is nou op 50 ’n weduwee. Die broodwinner en ’n enkelma [haar ander seun, toe 22, was al uit die huis]. Dit het gevoel soos die einde van my lewe. As jy iemand verloor, verloor jy nie net die persoon nie, maar ook jul toekoms saam, jul drome. Wie was ek sonder Simon, my maat vir 28 jaar?” Haar vriendin, ’n sielkundige, het daardie aand vir haar gesê sy moet dit as ’n komma eerder as ’n punt begin benader. “Dit het eers maande later ingesink, want ek moes nog baie emosies verwerk. Maar toe tref dit my: Dit was ’n komma, ’n pouse in my lewe – nie die einde nie. En die toekoms is ’n ellips. Daar was werk om te doen, en dit het my die hoop en moed gegee om ’n nuwe toekoms te begin skep.” Nikki was toe al as ouerskapskenner ’n gewilde spreker en het ook praatjies begin doen oor hoe om verandering in jou lewe te verwerk en die beste daarvan te maak. Sy is nou maande vooruit bespreek om haar jongste praatjie, “Reframing disruption to win at work and life”, te gee. “Die praatjies het ’n manier begin raak om my eie emosies te verwerk en soveel mense het daarby aanklank gevind. Die raad in die praatjies en in my boek geld enige ontwrigting. Iemand het eenkeer ná ’n praatjie na my toe kom en gesê dit het hulle laat besef hulle is al agtien jaar lank vasgevang weens ’n ontwrigting. Maak

nie saak wat die situasie is nie, hoe jy jouself losmaak as ’n gevangene van omstandighede bly dieselfde.”

’N NUWE AVONTUUR

Ons besef dit nie, sê Nikki, maar verandering gebeur aanhoudend en selfs positiewe en beplande verandering is ontwrigtend. “Ons sien egter net die katastrofes as werklik ontwrigtend – die dood van ’n naaste, ’n diagnose, die pandemie. Maar om byvoorbeeld kinders te kry, wonderlik soos dit is, is een van die grootste ontwrigtings in jou lewe – alles verander daarna en jy moet ’n nuwe realiteit bou, jouself herontdek.” Twee dinge is noodsaaklik om die beste uit ontwrigting te ontgin, sê sy. Eerstens moet jy dit as ’n pouse eerder as ’n einde beskou. Sy verduidelik: “Ek wou nie die slagoffer wees nie, die vrou van wie almal sê ‘haai, arme mens’ as sy die vertrek binnekom nie. ’n Slagoffer is vasgevang en hulpeloos. Maar as jy aan ontwrigting begin dink as ’n pouse – iets wat op jou pad is en nie in jou pad nie – kry jy jou beheer terug. As ek bly fokus het op my verlies, sou ek bly wens het vir my vorige lewe. Maar ek het, ná ’n ruk, met nuuskierigheid vorentoe begin kyk. Wie sou ek wees sonder Simon? Wie sou die mense in my lewe wees? Watter plekke sou ek sien en watter ondervindings sou ek hê? Daardie nuuskierigheid is belangrik – dit dryf jou om die toekoms te begin inkleur. “Ná ’n terugslag is dit so maklik om eerder net by die huis te bly, om dieselfde mense te sien en dieselfde dinge te doen. Maar daardie dinge is nie noodwendig geskik vir die nuwe jy nie. Ek het doelbewus ná Simon se dood begin ja sê vir uitnodigings van nuwe mense, en nee vir dié van ou kennisse. Die ou vriende sou verwag het ek moet die ou Nikki wees, en ek het eers tyd nodig gehad om die nuwe ek te leer ken sonder om myself deur hul lens te sien.” As jy dit reg aanpak, kan dit ’n wonderlike avontuur wees, sê sy. “Staan elke oggend op en sê sommer hardop: Ek wonder hoe hierdie dag my gaan verras. En vra jouself dan saans wat hét jou toe verras, sodat die nuwe ondervindings nie ongesiens verbygaan nie. Deur jouself bewus te maak van die nuwe avontuur maak jy die deur oop vir nuwe dinge.” Tweedens, sê sy, moet jy pen op papier sit en daaraan werk om die positiewe raak te sien. “Al gaan dit hóé sleg, is daar altyd ook iets goeds. Trauma laat jou perspektief verloor – jy sien net die slegte raak.” Sy stel voor jy deel ’n bladsy in twee en skryf al die slegte aspekte van die ontwrigting in die eerste kolom, en die positiewe in die tweede. Nikki noem die oefening “collateral damage versus collateral beauty”. “Sowat nege maande ná Simon se dood, op ’n dag wat ek vreeslik hartseer was, het ek die oefening gedoen. Ek het eers omtrent twee en ’n half bladsye vol geskryf met die negatiewe dinge. Ek het my man verloor, my kinders het hul pa verloor, ons moes die huis verkoop, ons herinneringe agterlaat . . . daar was so baie. Ek het gedink ek sal so tien positiewe dinge kan uitdink om neer te skryf. En toe is ek vyf bladsye later eers klaar. Daar het wonderlike dinge ook gebeur wat nie andersins sou nie – die nuwe mense wat in my lewe gekom het, die goedhartigheid wat ek in ander raakgesien het, die geleentheid wat dit my as beheervraat gegee het om ’n ruk lank te laat gaan, hoeveel meer werk ek gekry het. Jy sal verbaas wees as jy eers begin skryf.”

HARDE WERK SORG VIR WONDERWERKE

Dis twee eenvoudige stukkies raad, maar dit beteken nie dis maklik nie –dit verg doelbewuste werk. En dit gaan ook nie die seer wegneem nie, sê sy.“Voor jy die goeie kan raaksien, moet jy eers deur die donker beweeg. Dis belangrik om te rou, om in die pyn te ‘marineer’, om elke hoek en draai daarvan te bekyk. Laat jouself toe om hartseer en kwaad te voel. Want dis hoe jy daardeur kom. Jy kom ook nie daaroor nie – dit word deel van jou en jy leer om ’n nuwe toekoms rondom dit te bou.” Dit op sigself kan later ’n positiewe word, sê sy. “Dis die paradoks van die lewe: Sonder kwaad is daar nie goed nie, sonder donker is daar nie lig nie. Die donker kan jou help om later nuwe goedheid te sien wat jy nie andersins sou nie.” En terwyl jy deur die swaar beweeg, is dit belangrik om na jouself om te sien.“Doen doelbewus dinge wat jou laat beter voel. Gaan na ’n kunsgalery

Dit was ’n pouse in my lewe – nie die einde nie

Nikki

toe, gaan stap in ’n park waar jy nog nie voorheen was nie. Oefen, om goedvoelhormone vry te stel. Huil, om daardie emosies uit te kry. Gaan vir masserings, want trauma sit ook in jou liggaam vas. Voed jou siel. “Dan, wanneer jy gereed is, raak nuuskierig oor jou nuwe toekoms. Verandering is altyd ongemaklik, want ons is bang vir die onbekende, maar met oefening kan jou nuuskierigheid groter word as jou vrees. En dis waar die wonderwerke begin.” SARIE.com Januarie/Februarie 2022 | 127

This article is from: