9 minute read
Boekuittreksel
from S012022
by nustobaydo
V lug
DEUR WILNA ADRIAANSE
Advertisement
Milla wil opstaan, maar haar arms en bene verstaan nie die opdrag nie. Sy wens die geskree wil ophou sodat sy kan dink. Sy proe steeds stof en ruik iets wat brand. Om haar is daar ’n geskarrel, en dan voel sy hoe sy opgelig en haastig weggedra word. Dis vreemde hande, en ’n vreemde lyf wat haar vashou, en sy wil wegbeur. “Hou op spartel,” hoor sy Graham Saunders naby haar oor sê. “Sit my neer. Ek moet gaan help.”Sy is nie seker waarmee nie. Wat het gebeur? Waarmee was sy besig toe sy geval het? Sy sukkel om deur die dowwe kol in haar brein te dink. “Jy is gewond. Hoe meer jy woel, hoe meer bloed verloor jy.” Milla hoor sy woorde, maar dit maak nie sin nie. Hoe kan sy gewond wees en geen pyn voel nie? Daar is net ’n eienaardige lamheid in haar sy. Sy hoor ’n deur oopgaan, ander stemme, en voel dan hoe sy op iets hard neergesit word. Sy besef hulle is in die kliniek en sy lê op die staalarea wat sy as ’n ondersoek- en operasietafel gebruik. Agnes en Paulina se gesigte kom en gaan voor haar. Paulina hou nie vir ’n sekonde op met praat nie. Agnes se hande fladder soos iemand wat vat en los, vat en los. “Help my met die hemp,”hoor sy Graham Saunders bevele gee.“Nee, knip sommer oop, daar is nie tyd om die knope los te maak nie.” Milla hoor hoe die materiaal onder die skêr meegee, en dan voel sy vir die eerste keer pyn toe hy die hemp wegvou. Sy hande is koel teen haar warm vel. “Jy is baie gelukkig. Dis ’n vleiswond en die koeël het al die belangrike organe gemis.” Sy wil opstaan, maar hy druk haar terug. “Dit beteken nie jy kan opstaan nie. Ons moet die wond vinnig skoon kry. Die laaste ding waarmee ons nou wil sit, is infeksie.” Hy vra vir Agnes water, en Milla hoor hoe hy Paulina stuur om sy noodhulptas te gaan haal. “Wat het gebeur?” wil sy weet toe die twee vroue uit is en hy besig is om haar hemp verder uit te trek. “Hier was ’n aanval. Jy is raakgeskiet.” “Waar is die ander?” “Sover ek weet, is almal ongedeerd.” 142 | Januarie/Februarie 2022 SARIE.com
Sy wil hom vra hóé ver hy weet. Maar dan kom Agnes terug met ’n skottel water. Paulina kom ook uitasem die vertrek in met ’n groot rugsak in die hand. Op die buitekant is die teken van die slang wat om ’n staf gedraai is. Milla voel hoe die newel lig, maar sy skram nog weg van die beelde wat wil deurkom. “Ons het so groot geskrik toe jy val.Wat het jou besiel om uit te hardloop?” wil Agnes nou ergerlik weet. “Hoeveel . . .Wie is dood?” Sy sien hoe Agnes en Paulina na mekaar kyk. Dit vat ’n rukkie voor Agnes antwoord. “Ons weet nog nie.” “Jy weet ek gaan uitvind. Ek verkies om dit nou te weet.” Agnes sit haar hand op Milla se voorkop. “Hulle is nog besig om te soek.” Dan trek Milla haar asem skerp in toe Graham aan die wond raak. “Ek gaan vir jou iets inspuit vir die pyn, en om die plek effe te verdoof. Dit kan jou dalk bietjie lomerig maak, maar dis beter so. So ’n wond kan baie seer word.” Sy skud haar kop. “Ek wil nie nou slaap of lomerig word nie. Maak net klaar.” Sy draai weer na Agnes.“Wie was die aanvallers?” “Die soldate vermoed dit was ’n verkenningseenheid van ’n rebellegroep. Hulle is waarskynlik gestuur om die gebied vir moontlike hinderlae te deursoek, en natuurlik om kos in die hande te kry. Dit was blykbaar ’n klein eenheid, want hulle het dadelik op die vlug geslaan toe daar op hulle geskiet word. Een is doodgeskiet.” Milla voel haar keel dik word, maar sy huil nie. ’n Mens kan nie huil as dit so koud in jou is nie. Sy lê ’n oomblik stil en fokus op die pyn wat besig is om terug te kom. ’n Brandpyn asof iemand ’n warm yster in haar sy druk. Dis goed dat daar pyn is. Al het een van die skote haar destyds skrams getref, was sy nie werklik bewus van pyn nie. Al waarvan sy toe bewus was, was die gat waar haar ingewande veronderstel was om te wees. Dit het gevoel asof sy ’n leë dop is. “Wanneer is jy klaar?” Graham kyk ’n oomblik lank na haar, asof hy oorweeg wat om te antwoord. Sy kyk nie weg nie. “Jy gaan nou eers vir ’n dag of drie stil moet wees, anders is die kanse goed dat jy jou erger gaan beseer.” Sy draai haar kop weg en sien dat Paulina soos ’n riet bewe. “Neem haar huis toe,”sê Milla.
Agnes wil by Graham weet of hy haar nog nodig het.Toe hy sy kop skud, neem sy Paulina om die skouers en stap met haar deur toe. Milla hoor hoe Paulina begin snik. “Ek gaan vir jou ’n antibiotikum inspuit.” Milla knik en draai op haar sy sodat hy haar op die boud kan inspuit. “Ek sou verkies het dat ons jou minstens vannag op ’n drup hou.” Sy antwoord nie en toe hy klaar is, begin sy stadig regop kom. “Verstaan jy wat ek vir jou gesê het?” “Ja, maar ek verwag nie dat jy vir my verantwoordelikheid moet aanvaar nie. Help my net regop.” “Ek is nie besig om verantwoordelikheid vir jou te aanvaar nie. Ek gee jou my professionele opinie.” “En ek hoor jou.” Hy tel haar versigtig regop, maar toe sy op haar voete kom, voel sy hoe die aarde wankel en sy druk met haar hand op die tafel. Dan klaar die duiseligheid op en begin sy in die rigting van die deur skuifel. Sy tel die stukkende hemp op waar hy dit oor ’n krat gegooi het, en hy help haar dit aantrek. Binne die omheining is Ephraim en Albért besig om saam met die soldate gate te grawe. Die soeklamp is aan ’n boomtak gehang. Blare en takke lê op die grond gestrooi. Die water in die drinkbad is rooi, en teen die heining lê Chester en nog twee van die groter sjimpansee-mannetjies. Asof hulle probeer wegkom het. Verder onder ’n boom is die liggaam van die soldaat wat doodgeskiet is. Sy kop is skeefgedraai en Milla kan sy gesig sien. Die dood is bedrieglik en vervorm ’n mens se voorkoms, maar sy skat hom nie ouer as agtien nie. Ephraim sien haar en skud sy kop. “Moenie nader kom nie.” Sy ignoreer hom en stap stadig na waar Chester lê. Toe sy langs hom neersak, wil die pyn haar naar maak. Daar is hande wat haar wil help regop kom, maar sy rem terug. “Milla . . .” Ephraim se stem is hees. “Hoeveel is oor?” Hy noem twee name. “En die drie babas. Dalk het van die ander weggekom.” “Glo jy dit?”Sy streel oor Chester se kop. Hy antwoord nie. “Waarom het hulle die drie grotes doodgemaak, maar gelos?” “Ek vermoed hulle het nie teenstand verwag nie, en dis nie elke man wat so ’n groot sjimpansee alleen kan dra nie.” Haar lyf begin bewe. Ephraim se arms gaan om haar en hy tel haar op. “Ephraim . . .” “Sjuut, ons sal later praat. Jy moet nou probeer slaap. Julle moet vroeg môreoggend vertrek. Dokter Saunders sê hy sal jou iets inspuit vir die pyn.” “Julle moet ook môre vroeg ry,”sê sy. “Belowe my julle sal nie hier bly nie.” Hy knik.“As jy belowe jy sal nou in die bed gaan klim, en probeer om ’n bietjie slaap te kry.” Hy ondersteun haar terwyl hulle hek toe stap, en toe hulle daar kom, kyk sy net een keer om. Milla luister na Agnes se asemhaling. Sy weet Agnes is wakker, maar sy vermoed sy het ook nie vannag woorde nie. Sy het net vroeër gesê die dokter het vir Paulina iets gegee om te slaap. Sy probeer voorwerpe in die kamer uitmaak, maar dié nag kom donkerder voor as gewoonlik. Sy hoor hoe Agnes se bed kraak toe sy omdraai. Die ander vrou gee ’n lang sug en dan raak alles weer stil. Na ’n rukkie hoor sy hoe Agnes se asemhaling verander. Milla kners op haar tande toe sy opstaan. Sy stap voetjie vir voetjie na waar sy weet die kamerdeur is. Daar is gelukkig meer lig in die leefkamer en kombuisie. Die agterdeur skwiek toe sy dit stadig oopmaak, maar dis stil toe sy dit wyer oopstoot. Sy is nou bly Agnes het haar gehelp om te stort voor hulle gaan lê het. En dat sy nie die inspuiting geneem het nie. Sy ervaar koue, maar sweet slaan op haar bolip uit toe sy die deur agter haar toetrek. Sy staan ’n oomblik stil. Luister, en kyk om haar rond. Maar sy gewaar niemand nie, en glip om die hoek en stap agter die huisie om kliniek toe. Sy gaan staan toe die bries sagte stemme na haar toe aandra, maar dan besef sy dis die twee soldate wat weer om die vuur sit. Sy weet nie wanneer sy die plan gemaak het nie. Toe sy gaan lê het, het sy gevoel hoe ’n magteloosheid oor haar neersak. Sy kon die mislukking proe, en hoe swaar ook al, sy het geweet daar is nie ’n ander opsie nie. In die uur of wat terwyl sy en Agnes probeer slaap het, het sy gevoel hoe alles in haar skreeu. In opstand kom. Agnes se asemhaling was ’n teken van lewe en terwyl sy self leef, moet sy iets probeer doen. In die kantoor skakel sy haar flits aan, en sit dit só neer dat niemand dit hopelik van buite kan sien nie. Dan begin sy pak. Soveel mediese voorraad as wat sy kan. Melkformule. Alles waaraan sy kan dink. Sy haal die Cruiser se spaarsleutel van die hakie agter die deur af en sluip weer om die hoek na die afdakke toe. Die heen en weer lopery laat haar soms naar voel, maar dan skud sy haar kop, staan ’n oomblik en gaan dan weer aan. Toe sy alles gelaai het, trek sy die skryfblok nader en skryf haastig ’n boodskap. Moenie vir my kwaad wees nie – ek kan nie anders nie. Ek moet probeer om hierdie drie kleintjies ’n kans te gee om te lewe. Ons elkeen het ’n doel in die lewe en ek dink dít is myne.