7 minute read
Leesdinge
from S012022
by nustobaydo
Bure van nature, Hennie van Deventer (Protea Boekhuis, R250)
Dié afgetrede koerantredakteur en skrywer se gunstelingkuierplek is die huis wat hy en sy vrou, Tokkie, in ’n private natuurreservaat langs die Sabierivier naby die Paul Krugerhek besit. Sabiepark is al 20 jaar deel van hul familielewe.
Advertisement
In die bundel vertel hy met passie van hul wedervaringe met hul bure van nature: van insekte, voëls en slange tot leeus en olifante. As jy hou van veldstories en mens en dier wat mekaar van naderby leer ken, is die boek vir jou. Deel van die lekkerlees-ervaring is die spitsvondige en lewendige wyse waarop Van Deventer sy liefde en respek vir die natuur deel. Feite word behendig by die vertellings ingeweef.
Dit maak nie saak of jy ’n ou besoeker aan die park is of nog nooit daar was nie, jy sal die boek terdeë geniet.
Gert J. Venter Broken (in the best possible way), Jenny Lawson (Picador, R348)
Lawson, ’n depressielyer, is bekend daarvoor dat sy haar stryd teen dié siekte humoristies uitbeeld om ander lyers te verseker dat hulle nie alleen is nie.
Sy beskryf situasies in haar daaglikse lewe wat jou laat skaterlag: soos toe sy haar skoen (vir die soveelste maal) in ’n hysbak verloor het; die keer toe sy vir haar honde skoene moes koop; asook ’n samestelling van twiets van aanhangers wat húl verleë oomblikke deel.
Aan die ernstige kant vertel sy ook van ’n onbesorgde gesondheidstelsel wat haar telkens in die steek laat.
Lawson vermenslik dít wat baie van ons in die regte lewe deurgaan. Die mooi van die boek lê in haar onwrikbare hoop te midde van haar beproewinge.
Sy dra die boek op aan haar man. Sonder sy aanmoediging sou sy dalk nie opgehou Netflix kyk en die boek klaargeskryf het nie.
Chantelle van der Merwe Songbirds, Christy Lefteri (Bonnier, R330)
Nisha, ’n au pair uit Indië, werk op Ciprus vir Petra. Petra vererg haar wanneer Nisha een Maandagoggend nie betyds opdaag om haar dogter, Aliki, skool toe te neem nie. Teen die einde van die dag is Nisha steeds soek en kan Petra nie die gevoel afskud dat iets fout is nie. Nisha het haar nog nooit voorheen in die steek gelaat nie en sal nie sommer net so verdwyn nie.
Wanneer Nisha se kêrel, Yiannis, haar ook begin soek, besef hulle sy gaan dalk nooit weer haar opwagting maak nie. Yiannis het sy eie geheime en glo haar verdwyning het dalk met sy bedrywighede te doen.
In hul soektog ontdek hulle Nisha is nie die enigste vermiste au pair op die eiland nie.
Die deernisvolle verhaal fokus op verhoudings en wys hoe maklik dit is om die mense naaste aan jou as vanselfsprekend te aanvaar.
Antoinique van Staden
Om meer oor skrywers en boeke te lees besoek SARIE.com
Photo Tales: Wildlife Photo Stories from Africa (Volume 2), saamgestel deur Heinrich, Philip en Ingrid van den Berg en Ronél Bouwer (HPH Publishing, R395)
Die eerste volume van dié boek met foto’s en stories deur gereelde besoekers aan SuidAfrika se wildtuine was so gewild, dat daar nou ’n tweede een is. Wanneer jy na die uitmuntende foto’s kyk, kan jy nie glo dis deur amateurfotograwe geneem nie.
Daar’s dramatiese tonele van leeus wat op ’n prooi toeslaan, ’n trop buffels wat ’n leeu verwilder, en ’n luiperd wat die aftog moet blaas teen ’n ystervark.
Een van die vreemdste gesigte is dié van ’n bobbejaanmannetjie wat ’n leeuwelpie in ’n boom indra en die welpie versorg soos wat hy ’n bababobbejaan sou versorg.
Vir my bly van die mooiste foto’s dié van die olifante. Daar is net iets magies aan die kolosse van die veld en ek is elke keer ontroer om te sien met hoeveel omgee die olifantkoeie na hul kleintjies omsien.
Phyllis Green Danica Gouws, SARIE-leser van Kaapstad
Circus of Wonders, Elizabeth Macneal (Picador, R330)
Dis die Victoriaanse era en op elke dorp staan die mense tou vir ’n skouspel van sirkusvertonings en grillerige uitstallings. ’n Jong meisie, Nell, met geboortemerke wat haar vel oortrek, word aan Jasper Jupiter’s Circus of Wonders verkoop. Sy word deel van die reisende geselskap en is gou die ster. Vir die eerste keer in haar lewe voel sy sy hoort iewers.
Jasper is egter nie bereid om die kollig met haar te deel nie, hy is immers die sirkusmeester. Hy spartel om sy mag en aansien te behou, maar toe hy uitvind sy broer en enigste vertroueling, Toby, is verlief op Nell, is dit die laaste strooi.
Sal Toby tussen Jasper en Nell kan kies, en waartoe is Nell alles in staat om te keer dat iemand haar nuwe lewe verwoes? Dis ’n meesleurende verhaal van jaloesie, mag en lojaliteit wat die verbeelding aangryp.
As jy vreemdes liefkry . . .
Of hulle wil of nie, mense vorm emosionele verbintenisse met mekaar. Dis in die aard van menswees
In Wilna Adriaanse se nuwe roman, Vlug (Tafelberg, R320), wonder die hoofkarakter, Milla Roux,“hoe dit moontlik is om vreemdes so lief te kry asof julle bloed van mekaar is”. Dié veearts smee onwillekeurig bande met die mense by die rehabilitasiesentrum vir sjimpansees in die Demokratiese Republiek van die Kongo.Vyf jaar tevore het sy ’n traumatiese ervaring in Suid-Afrika beleef, en die pad gevat. Noordwaarts, sonder ’n plan. Sy wou net wegkom van haar hartseer. By die rehabilitasiesentrum is sy onvoorwaardelik aanvaar. Sonder dat sy wou, het sy emosioneel betrokke geraak by die sjimpansees en probeer nou deur haar werk ’n verskil maak aan die lot van dié bedreigde diere.
Die onstuimige politieke klimaat bemoeilik egter die taak.Toe die sentrum in die kruisvuur van regeringstroepe en rebelle-organisasies beland, slaan sy weer op die vlug. Vergesel van dokter Graham Saunders van Dokters Sonder Grense wat toevallig by die sentrum was nadat hy sy basis moes ontruim. Hulle vlug per voertuig met drie klein sjimpansee-wesies.
Die verhaal raak temas aan van menseverhoudings, trauma, oorlewing en veral vlugtelingskap. Boeiend en aksiebelaai tot op die laaste bladsy.
Boekeredakteur Phyllis Green het per e-pos met Wilna gesels.
Wat was die vonk vir die verhaal?
Ek het nie altyd een nie. Soms meld ’n karakter stilweg aan, en gaan net nie weg nie. Milla was een van dié wat net haar opwagting gemaak het. Ek was nie heeltemal seker wat alles met haar gaan gebeur nie. Ek het net haar hartseer backstory geken. Wanneer jy van O.R. Tambo Botswana toe vlieg, deel jy ’n vertreksaal met passasiers na verskeie ander Afrika-bestemmings. Dalk is Milla daar gebore, ek weet nie. Ek wonder dikwels oor ander passasiers, maak vir elkeen ’n storie op.
Die titel, Vlug, dra swaar aan simboliek.
Die titel het eintlik outomaties saam met die inhoud gekom. Ek het die laaste klompie jare baie tyd in vliegtuie spandeer. Dis ’n manier van reis wat my nog altyd gefassineer het. Die blik op die wêreld, die verwydering tussen jou en wat ook al daar onder aangaan. Die feit dat jy net ’n vertrek- en aankomspunt het. Die tussenin maak amper nie saak nie.
Dan op ’n dag ry jy die roete met ’n motor en beleef die landskappe. Jy sien huise, lowergroen landerye, droogte, bruinvaal dorpies met verwaarloosde kinders, vervalle strate. Jy beleef die wêreld in al sy fasette. In ’n voertuig is daar nog ’n mate van skeiding tussen jou en die wêreld om jou. Jy kan nie help om dan te wonder hoe dit voel om per voet te vlug nie. Dis interessant dat die woord vlug uiteenlopende betekenisse het.
Waarom vlug Milla van alle plekke na die DRK en nie Europa nie?
My ervaring is dat jy ná ’n traumatiese gebeurtenis dikwels ’n tyd lank op ’n outomatiese stelling funksioneer. As sy na ’n Europese land toe gegaan het, sou dit beplanning verg, sy sou oor haar toekoms moes besluit, dinge soos visumaansoeke moes doen. Om klere in ’n kar te gooi en te ry verg nie baie beplanning nie. Dit impliseer eintlik eindelose moontlikhede. Met ’n voertuig kan jy omdraai ook, of met ’n ander roete terugkom. In die verhaal word dit duidelik dat sy nie met ’n plan gery het nie.
Hoe het jy jou navorsing aangepak?
Ek lees so wyd ek kan oor ’n plek. Veral die laaste jare was ek bevoorreg om baie mense te kon ontmoet wat in Afrikalande werk of gewerk het. Ek’s ’n skaamtelose uitvraer en hoor dikwels interessante stories. Alles wat ek hoor, sien en ervaar, beland in ’n soort storieopgaardam waaruit ek put terwyl ek skryf. Feite is belangrik, maar ek vind dat my emosie rondom die verhale wat ek hoor, ’n groot rol speel wanneer ’n storie gedaante kry.
Waarom trek Milla haar die lot van die diere so intens aan?
Een karakter sê as jy eenkeer met empatie in ’n dier se oë gekyk het, kan jy nie weer wegstaan van hul pyn af nie. Omdat Botswana, waar ek woon, in ’n groot mate ’n bewaringsgebied is, kry jy hier meer dikwels te doen met mense wat ongelooflik toegewy is aan die bewaring van en hulp aan diere. Milla vertel vir Graham die ander het haar gewaarsku om nie té betrokke te raak nie, maar sy kon nie help nie. Haar eie verlies het waarskynlik meegebring dat sy soveel empatie met die diere se swaarkry het.
Wilna Adriaanse
Lees die volledige onderhoud met Wilna op SARIE.com