2 minute read

Inleiding: Die Boriese taal van Eurasiё

Die kwessie van “Proto-Mens” of “Proto-Wêrelds” as hipotetiese voorouer van byna al die wêreld se tale, wek steeds groot belangstelling by linguïste en die algemene publiek. Enigeen wat meer as een makro- taalfamilie soos Amerind, Afro-Asiaties, Dene-Sino-Kaukasies of Eurasiaties

vergelyk, sal die fonetiese en semantiese ooreenkomste opmerk. Diachronies gesproke neem ooreenkomste tussen tale toe, hoe ouer hulle is.

Advertisement

Die beroemde historiese linguïs Sergei Starostin het dié fenomeen in die 1980s begin aanspreek nadat die ooreenkomste tussen die gerekonstrueerde prototale Eurasiaties en Dené-SinoKaukasies begin opstapel het. Hy het later vergelykende data van die Afro-Asiatiese en Austriese makrofamilies by die korpus gevoeg. Die oorsprong van die vier makrofamilies van Eurasië was ‘n “mega-makro-familie” wat deur die Amerikaanse linguïs Harold Fleming “Borean” (Bories) gedoop is, uit die Grieks βορέας (noordelik).

By die dag word dit duideliker dat die vier taalreuse van die Eurasatiese landmassa ‘n betekenisvolle deel van hulle morfologiese patrone en woordstamme met sekere tale van Afrika in gemeen het. Die tipe bewyse wat reeds verkry is, kan nie as toevallige ooreenkomste of slordige navorsing afgemaak word nie. Die onweerlegbare feite van die saak is dat dieselfde tipe ooreenkomste nie tussen Bories en filums soos Australies, Indo-Pasifies en Khoisan bestaan nie.

Die era waarin Bories gepraat is, word op enigiets tussen 24,000 - 16,000 jaar gelede geraam, maar sal waarskynlik nie vroeёr wees nie, soos bereken en beperk deur leksikostatistiese studies en ander vorme van chronologiese taksering. Ter vergelyking word die ouderdom van beide Afro-Asiaties en Dene-Sino-Kaukasies op 12,000 – 10,000 beraam, en die disintegrasie van Austries tussen 9,000 en 10,000 jaar gelede.

Die vraag oor waar Bories gepraat sou wees, is selfs moeliker om te beanwoord omdat die aarde anders gelyk het voor die einde van die ystydperk. Wat ons reeds weet, laat die vraag ontstaan oor waarom die een taal Bories die landmassa domineer het. Dit veronderstel ‘n

knelpunt, waarin die meeste ander tale van daardie tyd sou verdwyn het. Soortgelyke scenarios in historiese tye is die Indo-Europese uitbreiding in Europa en die snelle ekspansie van die Ntutale oor sentrale en suidelike Afrika.

Gegewe die enorme volumes data wat reeds wetenskaplik verwerk is, en ‘n stel statistiese hulpmiddels om die resultate te verifieer, word honderde Proto-Boriese morfeme stelselmatig herwin. Saam met daardie kennis sal ons ook meer te wete kom oor ons voorouers wat dit

gepraat het, hulle kultuur en hulle leefwyse.

Pieter Uys, Orchards, 2021.

This article is from: