9 minute read

Amerindies

Next Article
Eurasiaties

Eurasiaties

Dené-Sino-Kaukasies het voor enige ander taalfamilie oor Europa versprei en is millennia later deur Indo-Europese en Oeraliese tale (afstammelinge van Nostraties) verdring sodat nog net Baskies in Wes-Europa oorbly, en die mense van die Noord-Kaukasus wat deur hulle berge beskerm word.

Die Noordwes- en Noordoos-Kaukasiërs bewoon al vir millennia die Kaukasiese gebergtes, in die verre noorde van Pakistan woon die sprekers van Burushaski, en al wat oorbly van die Jeniseitale is Ket (Imbak) van Siberië met sowat 100 sprekers.

Advertisement

In die vorm van Waskonies – Oud-Baskies-verwante tale – het Dené-Sino-Kaukasies ‘n

substratum in Europa gelaat wat die bron van die Nie-Indo-Europese woorde in die Germaanse en Slawiese tale en in Frans en Italiaans is. Dié leenwoorde hou implikasies vir die geskiedenis in, en het eers onlangs begin om hulle geheime te verklap,

Dené-Sino-Kaukasies was die tweede groep wat die Amerikas betree het. Vandag word die oorgrote meerderheid van die afstammelinge van DSK in Tibet, China en Burma aangetref, terwyl kleiner groepe in Alaska en dele van Kanada (Athabascan) en die VSA (Navajo) woon.

Volgens Andrew Kitchen se filogenetiese analise was daar ‘n uittog uit Siberië oor die Beringstraat na die Amerikas sowat 16,000 jaar gelede, deur ‘n stigtersbevolking wat uit sowat 5,000 individue bestaan het. In die Altai-gebied van Sentraal-Siberië is daar in 2010/11 ‘n genetiese spoor ontdek van die Amerindiese trek vanaf Transkaukasië na Beringia.

Sestienduisend jaar gelede het daar weens verwarming nog ‘n poort tussen die Kontinentale (Laurentiese) en die Cordillera-ysplate van Noord-Amerika oopgegaan. Mense uit Beringia, wat Siberië aan Alaska verbind het, het dié poort gevolg, vanwaar hulle oor Noord- en Suid-Amerika versprei het.

Heelwat later het die sprekers van Dené-Sino-Kaukasies na Noord-Amerika gekom en hulle tot sover suid as die suidwestelike VSA gevestig. Aansienlike vermenging het met hulle voorgangers plaasgevind. Nog later het die Nostratiese Eskimo-Aleoet (Inuit-Yupik-Inangan) gevolg, en die noorde van Noord-Amerika en Groenland bewoon.

In sy omstrede boek, “Language in the Americas” (1987), het Joseph H Greenberg die tale van die Amerikas in net drie families geklassifiseer. Benewens Na-Dene en Eskimo-Aleut, het hy Amerind as een familie identifiseer. Die woede wat dit ontketen het, kan vergelyk word met die verontwaardiging oor Darwin se bevindinge. Skaars ʼn jaar na publikasie, het ʼn professor van genetika, Luigi Luca Cavalli-Sforza, egter bevind dat die bevolkings van die Amerikas geneties in dieselfde drie groepe val as die taalgroepe wat Greenberg identifiseer het.

Die Amerindiese moedertaal wat van Tierra del Fuego aan die suidpunt van Suid-Amerika tot in Kanada strek, toon opmerklike raakpunte met Eurasiaties (Indo-Europees + Uralo-Siberies + Transeurasies). Dit beteken dat Amerindies heel waarskynlik ‘n sustertaal van Nostraties is, waarmee dit chronologies ooreenkom.

Die kern van die bespreking wat volg, is ‘n 2008-essay van Larry Lepionka,

“Historical interpretations of geographical distributions of Amerind subfamilies”, uit In Hot Pursuit of Language in Prehistory: Essays inthe fourfields of anthropology, aangevul met addisionele data wat sedertdien beskikbaar geword het.

Lepionka se analise is gebaseer op Joseph Greenberg en Merritt Ruhlen se baanbrekerswerke van 1987 en 2007, met verwysing na Greenberg se elf taalfamilies van Amerind (wat EskimoAleut en die Na-Dene tale uitsluit).

Die toepaslike doelwit van so ‘n analise is om hipotese voor te stel wat direk aan die linguïstiese bewyse getoets kan word, of indirek aan argeologiese bewyse.

Lepionka neem die elf families in oënskou en stel dieper verwantskappe voor om die vroegste vier filums te identifiseer. Die onderliggende konsep van die analise berus op die feit dat ruimtelike verspreiding op sigself artefakte van die geskiedenis is, en daarom aspekte van die geskiedenis kan onthul.

Die kontras tussen ‘n gekonsentreerde en verstrooide verspreiding van taalfamilies dra betekenis. Binne ‘n gegewe geografiese ruimte wat deur twee of meer taalfamilies bewoon word, word die groep met die aaneenlopende verspreiding as ‘n latere aankoms beskou, terwyl die groep wat uit geïsoleerde eilande bestaan, ouer is. Die fragmentering van die ouer familie is ‘n resultaat van die inkoms van die latere. En diversiteit is groter in die streek wat die langste bewoon word.

Soos die een na die ander span pioniers die einde van die skeur in die ysplate bereik, het ‘n paradys begin vorm aanneem. Die ysbedekte Rotsberge het steeds die weg na die weste versper, maar aan die linkerkant het naaldhout- en bladwisselende bome die uitgestrekte grasvelde ryk aan wild versier. Soos die migrantgetalle groei, beweeg hulle verder oos en suid waar hulle oral woudland met grasvelde aantref, vol eetbare plante en troppe wild wat onbekend met die mens as jagter was.

Die datums uit Suid-Amerika suggereer dat die vroegste mense nie lank in die noorde getalm het nie. Dié groepies jagter-versamelaars aan die voorpunt moes hulle verkyk het aan die landskap soos dit warmer en groener en weliger word.

Die een groep is toegerus om hoog bo seespieël in ‘n koue klimaat te floreer. Die ander se voorliefde was vir ‘n warm klimaat in tropiese reënwoude en savanna. Albei het deur die Landengte van Panama die suidelike kontinent in beweeg. Een groep het die kus na die suide gevolg, deur die teenswoordige Colombia, Ecuador, Peru en Chile. Sommige het op die reis agtergebly, gemaklik langs die see. Ander het links gedraai en die Andesberge bestyg. Ver in die suide, in Patagonië en aan die Chileense kus, het die voorhoede tot ruste gekom.

Andies as die eerste filum wat Suid-Amerika betree het, word nie betwyfel nie. Van die suidelikste punt van die kontinent, Tierra del Fuego, deur Patagonië en die weskus van Chile tot in Peru het dié groepering aanvanklik ‘n ononderbroke strook gevorm. Drie Andiese tale is steeds groot en lewenskragtig, te wete die Quechua-tale, Aymara en Mapudungun.

Die ander groep versprei al langs die kus van die Karibbiese See, van die teenswoordige Colombia na die strandmeer van Maracaibo, deur die kusstrook van Venezuela tot by die mond van die Orinocorivier. Terwyl hulle die Guyanas oorsteek op pad na die Atlantiese kus van Brasilië, beweeg ‘n groepie in die riviervallei op na die berge, en skop nes aan die oostelike hange van die Andes.

Ekologiese aanpassing speel ‘n belangrike rol in prehistoriese vestiging, en die sprekers van Equatorial-Tucano wys ‘n voorliefde vir kusgebiede en riviervalleie in die reënwoud soos die Orinoco- en Amasonerivier en hulle sytakke. Macro-Pano verskyn vanaf suidoos Brasilië tot by Paraguay en Bolivië en in die ooste van Peru. Macro-Carib versprei oor Venezuela, Guyana, Suriname en die nabygeleë dele van Brasilië, met uitlopers op die oostelike hang van die Andes, op die Equador-Peru-grens en in die middel van Brasilië.

Chibchan-Paezan het waarskynlik in Meso-Amerika ontstaan, en ‘n vroeë verdeling het ProtoPaezan in Suid-Amerika afgegee. Hokan is soos Chibchan deur Sentraal-Amerindies en Penuties gefragmenteer, asook deur die vroeër ekspansie van Chibchan. Paezan se wye verspreiding, vanaf Chile en Argentinië tot by Florida met lappies langs die Karibbiese kus, veronderstel die kusstrook van Colombië as tuisland.

Proto-Sentraal-Amerind het vermoedelik in die suidweste van die VSA ontwikkel, en tot by die Landengte van Tehuantepec versprei. Sentraal-Amerindies se tak Yuto-Nawa (Nahua(tl)) is Meksiko se grootste inheemse taal, met nagenoeg twee miljoen sprekers. Oaxaca het die meeste sprekers van Oto-Mangue, waar die Zapotec- en Mixtec-tale deur 1.5 miljoen mense gepraat word. In die sentrale state het Otomi en Mazahua van die Oto-Pame-tak saam meer as 500,000 sprekers.

Hokan het in Noord-Amerika wes van die Rotsberge uit Penuties ontstaan, en is aanvanklik vanaf Kalifornië tot in die suide en regdeur Meso-Amerika versprei. Vandag word dit gevind in Kalifornië, Baja California, Arizona, die kus van Texas en Meksiko, langs die Rio Grande, in Guerrero, Oaxaca en Chiapas.

Penuties het in die ooste ontstaan, en was die heel eerste dialek van Amerindies. Die verspreiding van Penuties sluit in die suidoostelike VSA, van Texas tot by South Carolina, en met die Mississippivallei op tot in Missouri. Aan die weskus strek Penuties van die suide van Alaska deur Kanada, Washington en Oregon tot in suidelike Kalifornië, die suidweste, klein lappies aan die ooskus van Meksiko, en ‘n strook van Tehuantepec tot in Guatemala wat die hele Yucatanskiereiland insluit.

Almosan-Keresiouan het vanuit die oostelike hartland van Penuties die gebiede betrek wat voorheen onder ys bedek was, oor die hele breedte van Noord-Amerika. Dié migrasie het aanvanklik na die noordooste tot by die boomlyn gevorder, die Atlantiese kusgebied gevul, en toe weswaarts deur Kanada begin beweeg. Die eerste hindernis onderweg was weer die Rotsberge, waaragter die riviere vol salm op die westelike hange gewag het.

By die kus het hulle die Penutiese gebied verdeel sodat Tsimshian in die noorde geïsoleer is. Die oorsteek van die berge en die verlies aan kontak met die oostelike tale was die begin van die verdeling tussen Almosan (ooste) en Mosan (weste). Die vallei van die Fraserrivier word tot vandag nog deur sprekers van Mosan bewoon.

Keresiouan het in westelike en oostelike tale verdeel, met ‘n Almosan buitepos wes van die hoofKeresiouangebied. Die oostelike groep van Keresiouantale is die Iroquoistale wat van die St Lawrencevallei in die noorde deur New York tot by Virginia en Suid-Carolina strek.

Lepionka bevind dat al elf Amerindiese taalfamilies nie onafhanklike dogtertale van ProtoAmerind is nie. Die Andiese en Equatorial-families stam direk uit Proto-Amerindies, terwyl Tucano en Macro-Carib van Equatorial af kom. Op sy beurt het Macro-Carib die Jê-Pano-groep verwek. Sentraal-Amerindies en Chibchan stam af van Hokan, en Paezan van Chibchan. Hokan is ‘n ouer kind van Penuties, en Almosan ‘n jonger een. Die Mosan- en Keresiouantale het uit Almosan ontwikkel.

Dit laat mens met vier dogtertaalfamilies wat direk uit Proto-Amerindies stam: Penuties, Hokan, Andies en Equatorial.

Die kenmerkende Amerindiese N : M patroon van die eerste en tweede persoonlike voornaamwoorde val dadelik op, soos Quechua noqa / qam en Mapudungun iñche / eymi. (In Eurasiaties is die kenmerkende patroon M : T) Een van die bewyse in Greenberg se identifisering van die Amerindiese familie is die woord tanawaarvan die algemene betekenis “kind” of “sib” is.

Dié stam word in al elf van Greenberg se Amerindiese families gevind. Die rekonstruksie vir Proto-Amerind sou *t’ana wees. In Noord- en Sentraal-Amerika verskyn vorms soos tuwaana (seun), sinsin (neef), i-tsaŋa (jonk), t’ánat (kleinkind), -tsan (verkleinsuffiks), *taʔn (sib), sitona (vrou), out(dogter), tatan(ouer broer), en in Suid-Amerika, vorms soos toto(ouer broer), tini-usa (dogter), tino(kleintjie), ketun(suster), doana(skoonseun), tute(kind), dēnu(seunskind).

Dis nie net die stam wat die verbintenis tussen voorvermelde vorme aandui nie, maar ook affikse wat in spesifieke kombinasies aan die stam geheg word. Die eerste persoon *na soos in *netankwa (skoonsuster in Proto-Algonquian), en nitari(my broer in Ipurina). Die verkleinsuffiks *sa se vorme sluit in taŋsa (meisie in Macusi), kwunasa (meisie in Cayuse); die ander verkleinsuffiks *-mai lewer onder meer tani-mai (jonger suster in Masaca), en nutanimi (my dogter, in Yavitero).

Die suffiks * -kwa vir skoonfamilie bied ategwa/ (neef in Motilon), utsekwa(kleinkind in Tacana), nekwa (skoonouer in Yurok), die suffiks *-ko vir ‘n ouer persoon bied tonko (ouer broer in Caraho), tūkã (oom aan moederskant in Biloxi), *-tuk wat ook na “kind” verwys, soos tuktan (seuntjie in Miskito), togtan (meisie in Tibagi), plus talle kombinasies met ‘n hele rits ander affikse soos *-win (vroulik), *-wis (ouer vroulik), en die prefiks *ʔa- (ouer).

This article is from: