1 minute read

Taalverwantskap

Tale is verwant wanneer hulle ‘n gemeenskaplike oorsprong het, soos byvoorbeeld Afrikaans, Engels, Duits, Deens, Faroëes, Fries, Nederlands-Vlaams, Noorweegs, Sweeds en Yslands. Genetiese verwantskap word bepaal deur die waarneming van oorgeërfde eienskappe in fonologie, morfologie en leksikon.

So kan mens byvoorbeeld sien dat die Afrikaanse /d/ met die Engelse /d/ en die Duitse /t/ korrespondeer: Afr /deur/, Eng /door/, Duits / Tür/ ~ Afr /diep/, Eng /deep/, Duits /tief/ ~ Afr /doen/, Eng /do/, Duits /tun/. Klankkorrespondensies tussen verwante tale ontstaan volgens klankreëls en elke taal het sy eie reëls in elke fase van sy geskiedenis.

Advertisement

Tale moet op die korrekte manier vergelyk word om familiebande te bepaal, nie net volgens opsigtelike klankpatrone nie maar ook ooreenkomstig die wette van historiese fonetiese verandering. Dan eers kan die posisie van elke individuele taal in die taksonomie van ‘n taalfamilie bepaal word.

Woordstamme speel ‘n belangrike rol in die bepaling van verwantkap. Stamme van een taal word met stamme van ander tale vergelyk, om ooreenkomste in klank en betekenis na te speur. Fonetiese korrespondensie in woordstamme is egter nie voldoende om verwantskap te bewys nie.

Bewys moet gelewer word dat stamme nie aan leenwoorde toegeskryf kan word nie, maar aan oorerwing. Woorde wat gewoonlik nooit geleen word nie, is die persoonlike voornaamwoorde soos /ek/, /jy/, /hy/, woorde vir liggaamsdele soos /oor/, /tand/, /hand/, vir natuurverskynsels soos /water/, /wind/ en vir werkwoorde soos /eet/ en /gaan/.

By verlangse verwantskap waar min woordstamme gedeel word, kan bewys van verwantskap in grammatiese elemente en die lettergreep-struktuur nagevors word. Elke taal het ‘n stelsel lettergreep-patrone, wat as C (konsonant) en V (klinker) aangegee word in formules soos CV of CVC (bv /pa/ of /pad/)

Daarmee saam hang ‘n stel reëls met betrekking tot die tipes klanke wat saam in ‘n lettergreep mag verskyn, en indien en waar konsonantstapeling (“consonant clusters”) toegelaat word (bv /straat/, bespreek/ en /Bronkhorstspruit). Ooreenkomste in voor- en agtervoegsels, naamvalle, werkwoordverbuiging en ander morfologiese vorme kan op genetiese verwantskap dui.

Morfologiese elemente word saam met woorde ingeneem; die spreker het soms ‘n keuse met woorde, maar nie met morfeme nie. Morfologie neem dus voorrang oor die leksikon by linguïstiese rekonstruksie.

This article is from: