Idel-Ural Idel-Ural is die gesamentlike naam van die vyf republieke van die Volga-kom: Tatarstan, Bashkortostan, Mari-El, Mordvinia en Chuvashia. Die Mari en Mordvin is Oeraals, Tatar en Bashkir is Kipcha-Turk, en Chuvash is die enigste oorlewende van die Oghur-Turkse tale. Sprekers van Finno-Oegriese tale soos Udmurt, Mari en Mordvin word as die oudste bewoners van die Volga-kom beskou. Die Volga–Oka Sprachbund kon dalk in die eerste millennium selfs die uitgestorwe oostelike Baltiese tale ingesluit het, sowel as Oegriese en Permiese dialekte, Mordvin, Mari en die verdwene Muroma, Meshchera en Merya. Die Permiese groep, waaronder Udmurt en Komi, het die middelgrond beklee op beide linguïstiese en geografiese terrein, en vroeё kontakte het met Indo-Iraanse tale plaasgevind. Van die 12de eeu het Slaviese invloed uit die weste begin toeneem.
Die Bolgar-Turke het die area in die 8ste eeu binnegekom en ‘n teenwoordigheid op beide banke van die Volga gehandhaaf. Die Mongoolse inval in die dekade van die 1230s het die Bolgar-staat met die Goue Horde vervang. Die Goue Horde het nie lank gehou nie toe word dit in 1438 met die Khazan Khanaat vervang, waarin die Kipchas ‘n hoofrol gespeel het. Bashkir beskik oor die dentale frikatiewe /θ/ en /ð/ in plaas van die ander Turkse /s/ en /z/. Bashkir /θ/ en /ð/ is onafhanklike foneme, apart van /s/ en /z/, terwyl Turkmen [θ] en [ð] die Turkiese /s/ en /z/ verteenwoordig. Bashkir het beide /s/ en /z/ en /θ/ en /ð/. Die Oeraalse taal Mari is tipologies soortgelyk aan Turkies, veral met die mildelike gebruik van partesipia, gerunds en hulpwerkwoorde wat uit Tatar en Chuvash kom. Mari en Chuvash is al as ‘simbiotiese’ tale beskryf. Chuvash het ‘n Mari-substraat en heelwat Finno-Oegriese leenwoorde. Die sterkste invloed is egter van Tatar op Laer Chuvash en van Mari op Hoёr Chuvash. Die Oeraalse taal Mordvin het konstruksies wat met Hongaars ooreenkom, en voorts is daar tekens van Alaanse/Ossettiese invloede.
12