4 minute read
Dankie Avengers
from Circum 2019 - Term 2
by WG Circum
Advertisement
Ná 11 jaar, 21 flieks, 48 uur op die silwerskerm en meer as $18 biljoen in die sak het die Marvel franchise sy langverwagte klimaks bereik: Avengers Endgame. Hierdie fliek was ’n pronkstuk, en het nie net Box Office-rekords (en harte) regoor die wêreld gebreek nie, maar dit was die laaste fliek waarin die legendariese super squad, die Avengers, almal sy aan sy sou veg. Dié helde het oor die jare bewys dat hulle meer is as net vegters wat skiet, skop en wheelie, en aanhangers het al baie by hul geleer. En baie van dié lesse is van toepassing op ons skoollewe ...
AANHOUER WEN
Die eerste Avenger met wie ons kennis maak in die Marvel Cinematic Universe (MCU), is die selfversekerde besigheidsman Tony Stark. In sy rooi en geel blikpakkie is hy nie net ‘n krag om mee gereken te word nie, maar is hy in baie se oë die vader van die Avengers. Sy pad tot held was egter nie een wat maklik begin het nie: As gevangene in ’n grot (in die fliek Iron Man) moes hy ’n super suit bou om te ontsnap. Dit was die begin van ’n nuwe stokperdjie, en deur die Marvel-reeks het hy deur trial-and-error aanhou bou en verbeter. Iron Man se “aanhouer wen”-benadering het al baie mense geïnspireer en kan as groot motivering dien wanneer dit by akademie kom. In ons skoolkurrikulum is daar baie uitdagings, maar Iron Man het bewys dat harde werk en toewyding ’n mens ver kan dra. Soos Corné Havenga (graad 11) gesê het: “’n Mens hoef nie superpowers te hê om ‘n held te wees nie.” Jy kort net ‘n titseltjie deursettingsvermoë.
NIKS HOU VIR EWIG NIE
Daar’s min oomblikke in die Marvel Cinematic Universe so hartseer soos wanneer Steve Rogers in Captain America: First Avenger vir sy geliefde sê: “I’m gonna need a raincheck on that dance,” net voor hy in die sneeu duik. Hoewel hy aan die einde van Endgame wel ’n geleentheid kry om op te maak vir die verlore dans, is die kans dat die meeste van ons so ’n do-over kry baie skraal. Daarom het Cap vir ons geleer hoe belangrik dit is om jou geliefdes te koester. Waar die matrieks minder as vyf maande in die skool oor het, raak hul pouses saam met vriende en kanse om herinneringe te maak al minder en is dit belangriker as ooit om die tyd met hul geliefdes te geniet. “Captain America taught me to appreciate my loved ones, because once the moment’s gone, it’s gone,” het Laxmini Patel (Graad 8) gesê.
SPORTMANGEES
Die god van weerlig (ook bekend as “Strongest Avenger”) is bekend vir sy krag en spiere (of, ná Endgame, net sy krag). Hy is egter ook bekend as een van die helde wat die grootste karakterontwikkeling ondergaan het en hy verander geleidelik van ’n selfbehepte waaghals na ’n sensitiewer omgeepersoon. Zaakir Nagia (Graad 12) het dit mooi opgesom deur te sê: “Thor taught us that even though you’re the strongest member amongst your peers, you’re allowed to be sensitive and vulnerable.” Hierdie lewensles is veral van toepassing op die sportveld. Waar baie mense glo “wen is alles” en sensitiwiteit is swakheid, vat dit guts om, soos Thor, weg te draai van die norm en te fokus op dit wat regtig saakmaak: selfontwikkeling en die mense wat jy langs die pad ontmoet.
AANVAAR JOUSELF
“Hulk, smash!” Die wetenskaplike Bruce Banner is ’n belangrike deel van die Avengers, en is definitef die grootste, groenste lid van die span. Hy’s egter meer as net Shrek se ewebeeld, en ondergaan, nes Thor, ernstige karakterontwikkeling. Waar hy aanvanklik geglo het Hulk is net ’n mean, green killing machine, moes hy eers ’n pad van selfontdekking stap (met ‘n pitstop op ‘n ander planeet) voor hy homself en sy groen wederhelfde kon aanvaar. En toe Bruce dít regkry, was hy sterker as ooit vantevore. Jana le Roux (Graad 10) sê: “Hulk showed us of the power that lies in embracing our unique qualities.”
BE THE CHANGE YOU WANT TO SEE
Hierdie twee helde is so tight soos Spongebob en Patrick, so na aan mekaar soos Joey en Chandler, en meer onafskeidbaar as Loki en die Tessaract. Nie net is hulle beste vriende nie, maar hulle is ook (in vergelyking met die res van die span) doodnormaal. Nie Natasha Romanoff of Clint Barton het ‘n yster-suit, spesiale kragte of die vermoëns om weerlig te beheer nie, maar met hulle swart pakkies en splintervaardighede speel hul steeds ’n baie belangrike rol in die MCU. “Just because someone else can do the job doesn’t mean you shouldn’t,” sê Eduard Klüsmann (Graad 11) het hy by dié duo geleer . Enigiemand kan iets eenvoudig doen soos rommel optel, ‘n klas skoonmaak of leiding neem by die skool. Sodra ’n mens dit besef, kan jy, nes Black Widow en Hawkeye, die wêreld verander.
Die Avengers was ‘n belangrike deel van baie Gimmies se lewens, en dis met ‘n seer, trotse hart wat ons afskeid van hulle neem. Hoewel ons nooit weer die ses oorspronklike heroes saam gaan sien veg nie, sal ons vir altyd vashou aan die lesse wat ons by hulle geleer het. Deur hierdie lewensvaardighede by die skool toe te pas, hou ons hul legacy aan die lewe. Dis ons plig. Avengers, we salute you.
Deur Kyle Duvenhage